Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol nóg verder oor rommelafgrond
Sasol se kredietstatus is nóg verder afgegradeer.Foto: Argief

Skaars ’n maand nadat Moody’s Investors Service Sasol tot rommelstatus afgegradeer het, het hy dié petrochemiese reus se kredietgradering nóg verder verlaag.

Moody’s sê Dinsdag in ’n verklaring dat hy Sasol se langtermyn-skuldgradering van Ba1 na Ba2 afgegradeer het.

Dit word dus as ’n hoërisiko beskou.

Sy korttermyngradering is onveranderd gelaat op nie-prima (onder beleggingsgraad), terwyl sy plaaslik gedenomineerde langtermyngradering van Aa2.za tot A1.za verlaag is.

Die graderingsvooruitsig is van stabiel tot negatief met ’n moontlikheid van nóg ’n afgradering verander.

LEES OOK: Sasol nou rommelstatus

Sasol se afgradering kom dae nadat Moody’s ná jare se dreigemente Suid-Afrika óók Vrydag tot rommel afgegradeer het.

Moody’s het sowel staatskuld in rand as in buitelandse geldeenhede met een vlak tot Ba1 afgegradeer.

Die vooruitsig vir die land se gradering, wat dikwels ná ’n afgradering van negatief tot stabiel verander word, is op negatief gehou. Dit beteken die risiko bly hoog dat Suid-Afrika in November wéér afgegradeer kan word.

Moody’s skryf in ’n nota oor Sasol dat die besluit om Suid-Afrika se kredietgradering te verlaag ’n regstreekse effek op dié van Sasol gehad het.

Die kredietgradeerder skryf verder dat Sasol hom letterlik in die perfekte storm bevind. Dit sluit in “ ’n beduidende agteruitgang in die bedryfsomgewing weens ’n kombinasie van die ineenstorting van oliepryse, ’n groter invloed van die Covid-19-pandemie en die verswakking van Suid-Afrika se soewereine kredietkwaliteit net toe die hefboomverhouding tussen sy skuld en sy balansstaat weens die verwante kapitaalbesteding aan die Lake Charles-aanleg (LCCP) in die VSA (LCCP) ’n hoogtepunt bereik het.

Moody’s waarsku verder dat pres. Cyril Ramaphosa se besluit om ’n staat van inperking van 21 dae in te stel, “skep verdere onsekerheid oor (Sasol se) finansiële prestasie in die nabye toekoms, terwyl ’n uitgebreide inperkingstydperk buite die oorspronklike tydlyn die prestasie verder kan beïnvloed.

“Laer produkpryse en ’n onderdrukte vraag na Sasol se vloeibare brandstof en chemikalieë sal kontantvloei verswak.”

Nog slegte nuus vir Sasol is oliepryse wat die afgelope weke dramaties gedaal het.

Laer produkpryse en ’n onderdrukte vraag na Sasol se vloeibare brandstof en chemikalieë sal kontantvloei verswak.
Moody's Investors Service

Olie verhandel vroeg Dinsdagoggend teen $22,97 per vat.

Dit is van die laagste vlakke sedert Desember 2001.

Sasol produseer brandstof uit Suid-Afrikaanse steenkool en aardgas van Mosambiek, maar sy brandstof word teen pryse gegrond op internasionale oliepryse in dollar en die rand-dollar-wisselkoers verkoop.

Sy verdienste word dus nou verbind met die dollarprys van olie.

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol, het op 17 Maart in ’n telekonferensie gesê dat dit in die volgende 12 tot 18 maande likiditeitsruimte van meer as $1 miljard

kan handhaaf, selfs al sou olie teen $25 per vat verhandel.

Die maatskappy sê Dinsdag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens dat hy kennis neem van Moody’s se besluit.

Hy sê verder dat gegewe die produkte wat hy vervaardig, sy bedrywighede as noodsaaklike dienste beskou word.

Sy aanlegte in Suid-Afrika bly dus steeds in bedryf.

Sasol waarsku beleggers wel dat die Covid-19-pandemie ’n invloed op sy verdienste gaan hê.

Hy wys daarop dat in Suid-Afrika het hy reeds planne gemaak deur ’n unieke mengsel van chemikalieë met ’n alkoholbasis te ontwikkel om in die vraag na handreinigers en ontsmettingsmiddels te help voorsien.

LEES OOK: ‘Sasol stoot nié prys van alkohol op nie’

Wat betref die LCCP sê Sasol dat konstruksie steeds voortgaan. Dit is ondanks die staat van inperking wat ingestel is in die Amerikaanse deelstaat Louisiana, waar die aanleg geleë is.

Moody’s sê in sy verklaring dat hy al die stappe wat Sasol doen wat binne sy beheer is, sal oorweeg wanneer hy wéér ’n besluit oor sy kredietstatus moet neem.

Hy sal ook na die bedryfsomgewing kyk en spesifiek na die olieprys en die invloed van die Covid-19-pandemie op die maatskappy se bedrywighede.

Sasol begin Dinsdag teen R31,50 op die JSE verhandel.

Die laagste vlak waarteen Sasol onlangs verhandel het, is R21,42 op 23 Maart. Dit was ook die laagste vlak sedert 1994.

Meer oor:  Sasol  |  Moody's Investors Service  |  Olieprys  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.