Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol-plan vir inenting ‘maak nie sin’ – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit is nie tevrede met die manier waarop die petrochemiese reus Sasol tans inenting teen Covid-19 in wese aan werkers opdwing nie.

Sasol bevind hom midde-in ’n herrie oor inentings, maar die maatskappy het ná twee dae nog nie op navrae gereageer nie.

Dit is “irrasioneel” om in dié stadium inenting as’t ware aan werkers op te dwing wanneer 93% van die hele bevolking nog nie eens ’n kans gehad het om ingeënt te word nie, het Morné Malan, mediahoof van Solidariteit, Woensdag gesê.

Daar is baie werkers wat hulle wil laat inent, maar nie kan nie. Dit is tans effektiewelik boonop onwettig vir mense van 18 tot 34 om hulle te laat inent, het Malan beklemtoon. (Registrasie en inentings vir dié ouderdomsgroep begin op 1 September.)

Dit volg op Sasol se besluit om in aanloop tot sy jaarlikse instandhouding by sy Secunda-aanleg, wat op 30 Augustus begin en tot 24 September sal duur, van sy werkers, asook kontrakteurs se werkers, te vereis om ’n bewys van inenting te toon as hulle die perseel in dié tydperk wil betree.

Sonder ’n bewys van inenting sal werkers moet kan aandui dat hulle binne die afgelope sewe dae negatief getoets is vir Covid-19.

LEES OOK: Sasol: Dorp boos oor ‘verpligte inenting óf toets’

Volgens Malan vergader Solidariteit se vakbondverteenwoordigers in Secunda Donderdag met Sasol se topbestuur by die aanleg oor die saak.

Sasol het ingevolge die regering se riglyne oor inenting in die werkplek ’n risiko-ontleding oor die jaarlikse instandhoudingsprojek gedoen. Die bevinding was dat die samedromming van duisende werkers uit verskillende gebiede in die land dit ’n hoërisiko- en potensiële superverspreider-geleentheid kan maak.

Daarom sou hy binne die reg optree om van werkers te vereis dat hulle ingeënt word, of andersins ’n negatiewe toets toon.

Maar Malan wys daarop dat mense wat ingeënt is, steeds die koronavirus kan opdoen en dus ook positief kan toets, en Sasol sal dus ook die ingeënte werkers moet laat toets.

Tans blyk dit dat Sasol sal vereis dat oningeënte werkers R850 sal moet betaal vir ’n weeklikse polimerase-kettingreaksietoets (PCR). Dit is die huidige standaard-keel-en-neustoets om te bepaal of iemand die virus het.

Malan meen dit sou onbillik wees as Sasol van werkers sou verwag om dit uit hul eie sak te betaal.

Sasol het belowe om hieroor antwoorde te gee.

Mense is nog onseker. Hulle moet ondersteun word met inligting om hulle in staat te stel om met vrymoedigheid die entstof te kry.
Riaan Visser van Solidariteit

Onsekerheid

Riaan Visser, adjunk-hoofsekretaris van mynbou, landbou en chemies by Solidariteit, sê hulle wil Donderdag Sasol se standpunt rondom inentings bespreek.

“Ons wil dit oordra dat ’n standpunt dat werkers en kontrakteurs moet opdok vir toetse indien hulle nie ingeënt is nie, irrasioneel is. Indien dit Sasol se standpunt is en hulle volhard daarmee, sal ons met ons regspan konsulteer oor moontlike litigasie.

“Werkers en kontrakteurs kan nie die prys betaal vir ’n land wat voete gesleep het met ’n inentingsproses nie. Die land is ver agter die res van die wêreld en dit moet in ag geneem word.

“Mense is nog onseker. Hulle moet ondersteun word met inligting om hulle in staat te stel om met vrymoedigheid die entstof te kry. Besluite soos hierdie sal net weerstand teen entstowwe verhoog,” het Visser gesê.

MRK

Intussen is ’n beweging van mense wat teen Covid-19-inentings gekant is, op Secunda aan die ontstaan. Hulle het reeds by die Menseregtekommissie gaan kla oor Sasol se voorgestelde reëls vir die instandhoudingstydperk.

’n Bron in die gemeenskap het laat weet adv. Sabela Sibanda, wat in menseregtekwessies spesialiseer, is reeds opgekommandeer om die gemeenskap te help in ’n moontlike hofaansoek teen Sasol rakende sy inentingsbeleid.

Fopnuus

Dit blyk egter van die werkers glo die PCR-toets is deur Amerikaanse owerhede afgekeur vir gebruik, en hulle meen dus Sasol sal die wet oortree om dié toets af te dwing op werkers. Die bron van hul inligting blyk een van die talle fopnuusbrokkies te wees wat mense graag via sosiale media versprei.

Associated Press het verlede week berig dit is nie waar dat die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) onlangs beveel het dat die PCR-toetse nie meer gebruik kan word nie.

Volgens die vals berigte het die CDC beveel dat die Amerikaanse voedsel-en-medisyneowerheid (FDA) nie meer PCR-toetse mag gebruik nie omdat dit vals positiewe toetse oplewer en dat dit gewone griep met Covid-19 verwar.

Volgens AP is dit bloot dat die CDC een soort PCR-toets wat heel aan die begin van die pandemie gebruik is, nie meer goedkeur vir gebruik nie omdat daar intussen beter toetse ontwikkel is. Volgens AP het gebruikers op sosiale media die inligting verkeerd geïnterpreteer en die fopnuus begin versprei.

Meer oor:  Sasol  |  Secunda  |  Gedwonge Inentings  |  Pandemie  |  Verpligte Inenting  |  Arbeidswette  |  Beroepe  |  Loopbane  |  Covid-19  |  Sasol-Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.