Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol se direkteure kry minder geld
Sasol se hoofkantoor in Sandton. Foto: Elvira Wood

Nie-uitvoerende direkteure van Sasol se gelde gaan met 20% besnoei word.

Dit is die voorstel wat Sasol Woensdagoggend in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, aan sy aandeelhouers maak.

Sasol hou op 20 November sy algemene jaarvergadering wanneer aandeelhouers moet stem of hulle dié resolusie aanvaar of nie.

Volgens Sasol se geïntegreerde jaarverslag vir 2020, betaal hy reeds sedert 16 November 2018 sy nie-uitvoerende direksielede jaarliks $150 000.

Dit kom neer op R2,3 miljoen teen die huidige wisselkoers.

As die resolusie aanvaar word, sal hulle $120 000 per jaar verdien.

Direkteure verdien ook bykomende gelde afhangende van op watter komitees hulle dien.

Sasol sê in die verklaring dat hy op die stap besluit het “weens die vermindering van aandeelhouerswaarde die afgelope twee jaar”.

Sasol se aandeelprys het van R487,49 in Mei 2019 tot R112,99 gedaal. Dit is ’n daling van byna 77%.

Die groot rede vir dié daling is sy groot skuldlas, veral weens die konstruksie van sy aanleg wat chemikalieë vervaardig in die Amerikaanse deelstaat Louisiana.

Sasol het Maandag aangekondig dat die aanleg uiteindelik voltooi is. Dit het hom $12,8 miljard uit die sak gejaag. Hy het oorspronklik begroot dat dit $8,1 miljard sou kos, en reeds in 2018 voltooi sou wees.

Die olieprys wat in 2020 dramaties gedaal het weens die Covid-19-pandemie, het Sasol se aandeelprys verder geknou.

Sasol produseer brandstof uit Suid-Afrikaanse steenkool en aardgas van Mosambiek, maar sy brandstof word teen pryse gegrond op internasionale oliepryse in dollar en die rand-dollar-wisselkoers verkoop.

Die kredietgradeerder Moody’s Investors Service het hom in Maart tot rommelstatus afgegradeer.

Dit is nie net nie-uitvoerende direkteure wie se salarisse verminder word nie.

Sasol het reeds in April aangekondig dat al sy bestuurders vir agt maande tussen 10% en 33% van hul vergoeding prysgee.

Die petrochemiese reus gaan vanjaar ook geen verhogings toestaan nie.

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol, het van Mei vir drie maande sy salaris aan die regering se Solidariteitsfonds geskenk. Daarna word Grobler se salaris tot Desember met 20% besnoei.

Sasol het in April gesê hy sal ná die agt maande die besnoeiings heroorweeg na gelang van vordering wat met besparingsteikens gemaak word.

Aansporings aan werknemers op kort termyn is ook opgeskort.

Meer oor:  Sasol  |  Olie  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.