Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol se Lake Charles eindelik klaar
Sasol se aanleg buite Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana is eindelik klaar. Foto: Sasol

Tien jaar nadat Sasol aangekondig het dat hy ’n enorme aanleg in Amerika gaan bou, is dié projek eindelik klaar.

Sasol het dit vroeg Maandagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê.

Sasol sê hy het eindelik die laaste van sewe eenhede, die laedigtheid-poliëtileeneenheid (LDPE), by sy Lake Charles-aanleg in die Amerikaanse deelstaat Louisiana in werking gestel.

Dit was juis dié eenheid wat aan die begin van die jaar beskadig is toe daar ’n ontploffing en brand was gedurende ’n vorige poging om dit in werking te stel.

Die brand is geblus en niemand is beseer nie.

Vordering om eindelik die projek, wat Sasol ’n enorme $12,8 miljard uit die sak gejaag het, klaar te maak, was stadig vanjaar.

Dit was nie net weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie nie, maar ook omdat twee orkane onlangs amok in die gebied gesaai het.

Die orkaan Laura het laat in Augustus daartoe gelei dat krag na die aanleg afgesny is.

Nog voordat dit herstel kon word, het die orkaan Delta vroeg in Oktober weer swaar reën na die gebied gebring.

Die aanleg is nie gedurende enige van die twee orkane beskadig nie.

Hoewel Sasol oorspronklik beplan het om alleeneienaar te wees van die Lake Charles-aanleg, het hy in Oktober ’n belang van 50% in die afdeling wat op kommoditeitschemikalieë fokus, vir $2 miljard aan die Nederlandse LyondellBasell Industries verkoop.

Die bou van die aanleg, saam met die olieprys wat weens die pandemie erg onder druk gekom het, plaas groot druk op Sasol se balansstaat.

Die maatskappy het reeds in Maart aangekondig dat hy ’n enorme regte-uitgifte oorweeg om tot soveel as $2 miljard in te samel.

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, het in Oktober aan Netwerk24 bevestig dat dié regte-uitgifte steeds oorweeg word. Dit sal waarskynlik eers vroeg in 2021 realiseer.

Sasol se aandeelprys op die JSE, het Maandagoggend met 2% tot R107,38 gestyg kort nadat die nuus oor die voltooiing van die aanleg bekend geword het.

Meer oor:  Sasol  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.