Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol: Steeds kans vir uitgifte, ondanks transaksie
Sasol se aanleg by Lake Charles Foto: Sasol

Daar is steeds ’n kans dat die petrochemiese reus Sasol hom tot regte-uitgifte sal moet wend om sy skuldvlakke onder beheer te hou.

Dit is selfs nadat hy Vrydag aangekondig het dat hy ’n belang van 50% in die afdeling wat op kommoditeitschemikalieë fokus in sy aanleg in Lake Charles, Amerika, vir $2 miljard verkoop het.

Die belang is aan die Nederlandse LyondellBasell Industries verkoop.

LEES OOK: Sasol verkoop belang in Lake Charles vir $2 mjd.

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, sê Vrydagoggend in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24, dat die voorstel om moontlik in die toekoms ’n regte-uitgifte uit te reik, steeds bestaan.

“Ons vorder steeds baie goed met al die planne wat ons in Maart aan beleggers voorgelê het,” sê hy.

“Ons het toe onderneem om ’n kontantbewaringsprogram in te stel wat op die verbetering van kontantvloei sal fokus. Ons het dit gedoen, en ons vorder goed daarmee.

“Ons het ook onderneem om bates van tussen $2 miljard en $4 miljard te verkoop. Ná die transaksie met LyondellBasell is ons nou bo $3 miljard.

“Ons gaan ook beleggers in November meedeel hoe ons vorder om Sasol 2.0 te skep. Ons sal dan ook uiteensit wat ons gesprekke met die banke oor die betaal van die lenings opgelewer het.

“Al hierdie kwessies sal saam as ’n ‘pakkie’ aangebied word. Ons sal dan groter duidelikheid hê oor óf ons gaan voortgaan met ’n regte-uitgifte, en indien wel, wat die omvang daarvan sal wees,” sê hy.

Sasol het voorheen gesê dat hy tot $2 miljard deur middel van regte-uitgifte wil insamel.

Teen die huidige wisselkoers beloop dit sowat R33 miljard, of sowat 43% van Sasol se huidige markwaarde van R77 miljard.

LEES OOK: Sasol: Ons gaan nie mense aflê nie

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol Foto: Elvira Wood

Sasol het in Junie aangekondig dat hy in die proses is om “Sasol 2.0” te skep.

Victor sê die transaksie met LyondellBasell gee Sasol nou “ ’n bietjie spasie om asem te haal”.

Op die vraag oor of Sasol dit sal oorweeg om ’n verdere belang in Lake Charles te verkoop, sê Victor dit is ’n moontlikheid.

“Daar is tans ’n ooreenkoms dat die twee maatskappye nie hul belange in die volgende twee jaar sal verkoop nie. Daarna kan ons dit egter wel oorweeg. Dit is egter net van toepassing op die afdeling wat kommoditeitschemikalieë verkoop,” sê hy.

Wanneer dit by die afdeling vir spesialiteitschemikalieë kom, sê Victor, het Sasol geen planne om ’n belang daarin te verkoop nie.

“Wat ons daar maak, kan ons verkoop. Ons produkte is baie spesifiek, met ’n baie gefokusde mark. Daar is min fluktuasie daar, en dus geen rede vir ons om die verkoop van ’n belang te oorweeg nie,” sê hy.

Victor sê daar is geen twyfel dat die Lake Charles-aanleg steeds ’n primêre bate vir Sasol bly nie.

“Onthou, ons het 50% van 50% van die aanleg verkoop. Ons behou dus steeds ’n belang van 75% in die algehele projek,” verduidelik hy die verkoop van die belang in die afdeling vir kommoditeitschemikalieë.

Storm

Op die vraag oor wat die stand van sake tans by die aanleg is, sê Victor dat dit steeds nie weer aangeskakel is nie.

Sasol moes in Augustus die aanleg afskakel toe orkaan Laura verwoesting in Lake Charles en die omliggende dele in die Amerikaanse deelstaat Louisiana aangerig het.

“Die aanleg was ontwerp om storms soos dié te weerstaan. Ja, daar was wel skade, maar dit was minimaal. Dit is teen dié tyd bykans herstel,” sê hy.

“Die groot probleem is dat daar buite die grense van ons perseel groot skade aan infrastruktuur was. ’n Groot deel van die dorp was onder die water.

“Ons wag steeds dat elektrisiteitstoevoer na die aanleg herstel word. Die oomblik as dit gedoen word, kan ons dit aanskakel en die produksie hervat. Ons het egter baie vertroue in die Amerikaanse owerhede om die werk gou af te handel,” sê Victor.

Hy sê die aanleg self is verseker, en die koste om die skade te herstel sal dus van versekering geëis word.

“Ons sal wel skade ly deurdat ons die inkomste verloor vir die tydperk wat die aanleg nie in produksie was nie,” sê hy.

Victor sê daar word gehoop dat die aanleg teen einde Oktober weer ten volle in bedryf sal wees.

Die laaste konstruksiewerk is ook weens die storm met sowat twee weke vertraag.

Victor sê dié vertraging sal egter geen invloed hê op die oorhoofse koste van $12,8 miljard om die aanleg te bou nie.

Sasol het Vrydagoggend laat bykans 4% laer teen R123,17 per aandeel op die JSE verhandel.

sasol

Meer oor:  Sasol  |  Energie  |  Aandele  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.