Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol tuimel ná resultate uitgestel word

Sasol se aandeelprys het Vrydagoggend met byna 16% getuimel nadat die petrochemiese reus aangekondig het hy stel die uitreiking van sy jaarsyfers met ’n maand uit.

SOWETO, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 7: Early morning a
Sasol se aandeelprys is die laagste in 13 jaar. Foto: Getty Images

Sasol sou Maandag (19 Augustus) sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik het, maar gaan dit nou eers op 18 September uitreik.

Die vertraging hou verband met probleme by sy Lake Charles-projek in die VSA. Dis ’n etaankraker en aanleg vir die vervaardiging van laedigtheid-poliëtileen.

Sasol se aandeelprys het binne vyf minute ná die aankondiging tot so laag as R233,93 geval. Dit is die laagste in nagenoeg 13 jaar.

Die aandeel het teen 12:45 veld herwin, maar was steeds 7% laer vir die dag op R258,85.

Die maatskappy het in Mei aangekondig hy het ’n onafhanklike oorsig laat doen om te bepaal waarom die Lake Charles-aanleg duurder is en langer neem om te voltooi as beplan.

Volgens Vrydagoggend se Sens-verklaring is ’n voorlopige verslag op 14 Augustus aan die direksie oorhandig. “Die verslag bevat opmerkings wat dui op moontlike beheerswakhede by Lake Charles. Die bestuur en direksie sal sodanige beheerswakhede nagaan en identifiseer of enige verdere remediërende stappe vereis word.”

Die maatskappy se ouditeure moet ook kyk of enige rekenkundige aanpassings weens die verslag gedoen moet word.

Die direksie sê hy bly vol vertroue dat die totale koste van Lake Charles nog dieselfde gaan wees as voorheen voorspel.

Sasol het in Mei aangekondig die chemiese aanleg by Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana gaan hom $1 miljard méér kos as wat voorheen voorspel is.

Dié aanleg gaan nou waarskynlik tussen $12,6 miljard en $12,9 miljard kos. Sasol het oorspronklik gesê dit sou $8,9 miljard kos.

Die maatskappy het toe voorspel dat sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) vir die boekjaar met tussen 4% en 14% tot R51,5 miljard gaan daal.

“Dit is hoofsaaklik as gevolg van die negatiewe ebitda-bydrae deur die Lake Charles-projek en die invloed van sagter chemiese marges.”

Die aanleg was teen einde Junie sowat 98% voltooi.

Verskeie projekleiers is vervang weens probleme met die Lake Charles-projek en Sasol het ook gesê hy oorweeg tugstappe.

Etienne Eloff van FNB Sekuriteite het in reaksie gesê hy glo die mark het oorreageer op die Sens-verklaring. Hy is veral optimisties omdat Sasol nie die koste van die Lake Charles-projek weer verhoog het nie en ook dat die etaankraker ná enkele tegniese haakplekke op dreef gekom het.

“Ons beleggingsaak vir Sasol bly ongeskonde... Ons glo die aandeel het stygpotensiaal, en vanoggend se reaksie was oordrewe.” 

Meer oor:  Sasol  |  Lake Charles  |  Brandstof  |  Chemikalieë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.