Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol verbind tot gesprek met Solidariteit

Sasol bly verbind tot “oop en eerlike” gesprekvoering met al sy vakbonde en werknemers, sê die petrochemiese reus in reaksie op Solidariteit se ontevredenheid met sy Khanyisa-aandeleskema.

Solidariteit-werkers is reeds sedert Maandag op ’n sloerstaking uit protes teen die skema wat volgens die vakbond eksklusief vir swart mense is en wit mense en buitelanders uitsluit. Foto: Nadine Hutton, Bloomberg

Solidariteit-werkers is reeds sedert Maandag op ’n sloerstaking uit protes teen die skema wat volgens die vakbond eksklusief vir swart mense is en wit mense en buitelanders uitsluit.

Vakbondlede het Dinsdag in Sasolburg ’n memorandum aan Sasol se bestuur oorhandig waarin hulle hul ontevredenheid met die skema uiteensit en Donderdag buite die hek in Secunda betoog waartydens ’n memorandum ook oorhandig is.

Alex Anderson, woordvoerder van Sasol, sê in ’n verklaring die petrochemiese reus het die memorandum van Solidariteit ontvang.

“ ’n Paar honderd lede (van Solidariteit) het voor ons bedrywighede in Sasolburg vergader. Daar was geen onderbrekings by ons werksaamhede nie.”

Hy sê gebeurlikheidsplanne is ingestel om die uitwerking van die staking op die maatskappy se bedrywighede tot die minimum te beperk.

“Soos voorheen gemeld, is dele van ons bedrywighede in Secunda en Sasolburg gesluit vir beplande instandhouding en dié aktiwiteit gaan voort, so ook ons bedrywighede wat nie deel van die jaarlikse onderbreking vir instandhoudingswerk is nie.”

Anderson sê Sasol hou die situasie dop en bly verbind tot oop en eerlike gesprekvoering met sy vakbonde en werknemers.

Solidariteit het in Januarie ’n dispuut met Sasol verklaar oor die uitsluiting van wit werknemers van die tweede ronde van die Sasol Khanyisa-aandeleskema. Hierna is die geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem wat in Mei vanjaar ’n sertifikaat uitgereik het wat ná onsuksesvolle bemiddeling bepaal dat die geskil nie opgelos kon word nie.

Anderson sê die sertifikaat beteken nie dat Solidariteit reg is en Sasol verkeerd is nie.

“Dit beteken die partye kon geen gemeenskaplike grond vind nie en gee Solidariteit toestemming om sy arbeid te onttrek en op ’n veilige wyse protes aan te teken.”

Hy sê die maatskappy heg waarde aan Solidariteit se verhouding met Sasol en sal oop kommunikasie handhaaf.

Hy sê die doel met Sasol Khanyisa se tweede fase, wat op 1 Junie ingestel is, is om “betekenisvolle finansiële voordele” vir sowat 230 000 swart openbare aandeelhouers en kwalifiserende werknemers te skep en om die regstreekse en onregstreekse swart eienaarskap van Sasol tot 25% op te skuif.

Hy wys ook daarop dat alle werknemers wat op 1 Junie steeds in diens is, ingesluit is in die eerste fase van die Khanysa-skema, ongeag hul ras. Dit maak hulle geregtig op R100 000 se Sasol-aandele wat hulle ná drie jaar kan verkoop.

Hy sê transformasie, in die vorm van aandele-eienaarskap deur voorheen benadeelde groepe, is ’n belangrike sake-, maatskaplike en morele verpligting vir Sasol.

“Sasol Khanyisa is nie deel van Sasol se werknemersvergoeding of voordelestruktuur nie. Dit is spesifiek ontwerp om te voldoen aan die voorwaardes van die eienaarskapkomponent van breë swart ekonomiese bemagtiging en daarom fokus die skema primêr op die insluiting van swart werknemers en aandeelhouers.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.