Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol verkoop 20% van gaspypleiding

Sasol het ’n koper gekry vir ’n 20%-belang in die Rompco-pypleiding – die gaspypleiding wat aardgas van Mosambiek na Suid-Afrika bring.

rompco
’n Uitsig op ’n deel van die Rompco-pypleiding, wat aardgas van Mosambiek na Secunda in Suid-Afrika vervoer. Sasol het ’n koper vir ’n belang van 20% in dié pypleiding gevind. Hy behou nog ’n 30%-belang.

Sasol gaan die belang vir sowat R5,1 miljard aan ’n konsortium verkoop waarvan die swartbeheerde Reatile-groep, asook ’n infrastruktuurbeleggingsfonds van Old Mutual, deel is.

Sasol behou nog ’n 30%-belang in Rompco, die konsortium saam met die Mosambiekse regering waardeur die pypleiding besit en bedryf word.

Verlede jaar is gegis dat Sasol sy volle 50%-belang wil verkoop nadat bekend geword het hy het Nedbank as raadgewer aangestel om ’n koper te vind.

Sasol sê die transaksie is deel van sy program om ontslae te raak van sekere bates, wat sal help om van sy skuld terug te betaal. Hy is wel steeds ten volle verbind tot sy bedrywighede in Mosambiek, het die petrochemiese groep belowe.

Die transaksie raak nie die ooreenkomste met Rompco vir die vervoer van aardgas na Secunda of die tariewe daarvoor wat die nasionale energiereguleerder (Nersa) van tyd tot tyd vasstel nie.

Die transaksiebedrag bedra ’n aanvanklike betaling van R4,145 miljard, gevolg deur ’n uitgestelde betaling van tot soveel as R1 miljard as sekere ooreengekome mylpale teen einde Junie 2024 behaal is. Sasol stippel nie in die Sens-verklaring oor die transaksie uit wat dié mylpale is nie.

Die transaksie is wel onderhewig aan die voorkoopregte van die ander aandeelhouers in Rompco, naamlik die Mosambiekse regering se staatsbeheerde gasmaatskappy, CMG, en die Suid-Afrikaanse Gasontwikkelingsmaatskappy.

Sasol verwag die transaksie sal teen die tweede helfte van vanjaar afgehandel wees.

Die beleggingsbeheermaatskappy Reatile is ten volle in swart beheer en fokus op die energie-, petrochemiese en nywerheidsektore. Die Ideas-fonds, die ander deel van die konsortium wat die 20%-belang by Sasol koop, word bestuur deur African Infrastructure Investment Managers, ’n filiaal van Old Mutual Alternative Investments.

Sasol se aandeelprys was Vrydag 2% laer op R232.

Meer oor:  Sasol  |  Old Mutual  |  Secunda  |  Mosambiek  |  Energie  |  Aardgas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.