
Sasol verwag om ’n groot verlies te ly. Foto: Argief
Die petrochemiese reus Sasol verwag om ’n reuseverlies te ly.
Sasol sê Dinsdagoggend in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat hy ’n verlies per aandeel van tussen R146,75 en R148,15 vir die jaar tot einde Junie verwag.
Sy verdienste per aandeel was ’n jaar gelede R6,97.
Die verwagte wesensverlies per aandeel is tussen R8,72 en R14,86 - jaar gelede was dit R30,72.
Sasol verwag dat sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda), met tussen 17% en 37% van R47,6 miljard tot tussen R30 miljard en R39,5 miljard gaan daal.
Sasol skryf dit toe aan ’n beduidende daling in die prys van olie en chemikalieë.
Sasol produseer brandstof uit Suid-Afrikaanse steenkool en aardgas van Mosambiek, maar sy brandstof word teen pryse gegrond op internasionale oliepryse in dollar en die rand-dollar-wisselkoers verkoop.
Die olieprys in dollarterme het dus ’n invloed op sy verdienste.
Die olieprys het in die Sasol se boekjaar van $65,20 per vat op 1 Julie 2019, tot die laagste vlak in dekades geval toe dit $19,62 per vat op 21 April bereik het.
Die prys van West Texas Intermediate (WTI), die soort ruolie wat Amerika in motorbrandstof gebruik, het daardie dag vir termynkontrakte vir lewering in Mei in ’n stadium tot -$40,32 per vat gedaal.
Teen 30 Junie vanjaar, het die olieprys wel weer tot $41,62 per vat herstel, maar dit bly steeds beduidend laer as ’n jaar gelede.
Nog ’n rede vir sy swak vertoning hou verband met “waardedalings van ’n aantal kontantgenererende eenhede ná die afname in die makro-ekonomiese vooruitsigte op lang termyn, en die impak op billike waarde na die aanvang van samewerkingsgesprekke vir ons bates in die VSA,” lui die verklaring.
’n Waardedaling voor belasting van ongeveer R112 miljard is vir die boekjaar aangedui.
Sasol besit die Lake Charles-aanleg in die VSA. Hy het vroeër vanjaar aangekondig dat hy beplan om ’n groot belang in dié aanleg te verkoop om sy balansstaat te verbeter.
Sasol wil teen Junie 2021 $6 miljard van sy skuld terugbetaal deur die verkoop van bates, het hy vroeër vanjaar met die bekendmaking van sy halfjaarsyfers gesê.
Sasol se resultate word op 17 Augustus bekendg gemaak.
Sasol se aandeelprys begin Dinsdag teen R151,64 op die JSE verhandel.