Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sê jou sê oor staat se kragplan

Openbare sittings oor die staat se kragplan is op pad.

Die parlement se portefeuljekomitee oor energie het Dinsdag belangstellendes uitgenooi om teen 5 Oktober geskrewe voorleggings oor die konsep- geïntegreerde hulpbronplan (IRP) in te dien.

Die eerste IRP is in Maart 2011 gepromulgeer en destyds is gesê die IRP moet ’n “lewende plan” wees wat gereeld deur die departement van energie hersien word, het Fikile Majola, voorsitter van die portefeuljekomitee oor energie, gesê.

Eskom se Hendrina-kragstasie waar krag met steenkool opgewek word. Foto: Bloomberg

Die IRP dien as ’n bloudruk vir hoeveel kragstasies gebou moet word tot en met 2030 om in Suid-Afrika se kragvraag te voorsien.

’n Vorige poging om die IRP te hersien, is onder oudpres. Jacob Zuma se regering nooit afgehandel nie.

Die jongste weergawe van die IRP is wyd verwelkom want dit skep groter duidelikheid. Omgewingsaktiviste was wel omgekrap dat nuwe steenkoolkrag van 1 000 MW steeds beoog word. Geen nuwe kernkrag word in die nuwe plan tot 2030 ingesluit nie.

Dr. Dominic Wills, uitvoerende hoof van SOLA Future Energy, ’n sonkragmaatskappy, sê die nuwe plan sluit ’n kwota in vir ingebedde kragopwekking, oftewel vir mense wat hul eie krag opwek met onder meer fotovoltaïese sonkrag.

Wills verduidelik dié mark vir selfdoen-kragopwekking word gedryf deur Eskom se stygende kragtariewe, wat nou al byna vyf keer hoër is as wat dit 11 jaar gelede was.

Terwyl Eskom se tariewe net sal aanhou styg, het die koste van fotovoltaïese sonkrag die afgelope vier jaar met sowat 20% per jaar gedaal.

Wills waarsku dis nie duidelik hoe die jongste IRP se voorstel sal werk om jaarliks oor die volgende 12 jaar 200 MW toe te ken vir selfdoen-kragopwekking nie.

Hy verwag die departement van energie sal aankondig wanneer die kwota bereik is, en die nasionale energiereguleerder sal dan weier om enige nuwe aansoeke te aanvaar. Mense sal dan tot die volgende jaar moet wag om weer aansoek te doen. Wills meen dit kan hoogs problematies wees want dit stel die regulasies in regstreekse konflik met die basiese reg om jou eie krag te mag opwek.

Die departement moenie die grootte van die mark vir selfdoen-kragopwekking probeer beheer of dikteer nie, meen Wills.

Registrasie moet bloot vergemaklik word sodat die departement weet hoe groot die mark is en hoe vinnig dit groei, sodat die kragvraag van jaar tot jaar beter voorspel kan word.

  •  Geskrewe voorleggings oor die plan kan gestuur word na akotze@parliament.gov.za. Mense moet ook aandui of hulle ’n mondelike voorlegging aan die komitee wil maak.
Meer oor:  Eskom  |  Fikile Majola  |  Irp  |  Elektrisiteit  |  Energie  |  Portefeuljekomitee  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.