Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Sekerheid oor belasting oor koolstof nodig’
Kenners hoop die nuwe regulasies maak dit duidelik hoe Eskom, wat die land se grootste vrysteller van CO2 is, deur koolstofbelasting geraak gaan word. Foto: Pixabay

Die hersiene wetsontwerp oor koolstofbelasting kan al voor Kersfees hier wees, het die tesourie dié week gesê.

Maar dit beteken nie die implementeringsdatum is al in sig nie.

Die wetgewing is al sedert 2006 ter sprake, en sloer dus al langer as ’n dekade, wat dit moeilik maak vir maatskappye om te beplan.

Claire Tucker van die regsfirma Bowmans sê om sekerheid te kry oor die toekoms, is vir die bedryf die “oorheersende prioriteit”.

“Die politieke onsekerheid binne die tesourie maak oordeelkundige besluitneming oor die implementeringsdatum van koolstofbelasting egter moeilik.”

Daar is ook kritiek omdat die regulasies oor koolstof-afsette, wat die impak van die belasting kan verlig, eers ná die promulgering van die nuwe wetgewing gepubliseer gaan word.

Tucker sê dis beter om die wetsontwerp en voorgestelde regulasies tegelyk te bespreek om ’n “hoender-of-eier-situasie” te voorkom. As die regulasies eers bespreek word nadat die wetgewing reeds goedgekeur word, kan dit gebeur dat die wetgewing weer aangepas moet word om voorsiening te maak vir die regulasies. Dit kan wéér vertragings veroorsaak.

Koolstofbelasting en koolstof-afsette werk soos ’n wortel en ’n stok: Die koolstofbelasting gaan na verwagting vasgestel word op R120 per ton CO2; met die koolstof-afsette kan jy egter ’n 5%- tot 10%-belastingkorting kry.

Koolstof-afsette behels dat maatskappye kan belê in groen projekte en een koolstofkrediet kry vir elke ton CO2 wat hulle bespaar. Dié krediete kan hulle óf verkoop aan ander maatskappye wat dit wil gebruik om ’n belastingkorting te kry, of hulle kan self ’n belastingkorting kry.

Die departement van omgewingsake werk egter ook aan wetgewing oor ’n koolstofbegroting, ingevolge waarvan maatskappye elk ’n “kwota” gaan kry wat bepaal hoeveel gasse hulle in die jaar mag vrystel.

Tucker sê dit is belangrik dat dié twee stelle wetgewing in pas gebring word met mekaar. “Die bedryf kan nie die las van twee instrumente dra wat dieselfde ding wil reguleer nie.”

Sy sê sy hoop ook die nuwe regulasies maak dit duidelik hoe Eskom, wat die land se grootste vrysteller van CO2 is, deur die belasting geraak gaan word.

“Eskom kan enige belasting bloot aan die verbruiker deurgee deur ’n hoër elektrisiteitstarief, wat beteken dat ’n entiteit met die vermoë om ons koolstofvoetspoor dramaties te verander, nie aangespoor word om van rigting te verander nie.”

Sy sê ook die tesourie moet nog bewys dat koolstofbelasting nie net nog ’n manier is om belasting in te vorder nie, maar dat dit werklik bedoel is om ons koolstofvoetspoor te verklein.

Valencia Govender van die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr sê die nuwe wetsontwerp behoort die versekering te gee dat die belastingkoers nie verhoog gaan word sonder openbare deelname nie. Die belasting moet ook opsygesit word om vir koolstofverwante projekte gebruik te word en nie saam met die res van die geld in die staatskas vir enigiets gebruik word nie.

Garyn Rapson van Webber Wentzel sê dis belangrik dat koolstofbelasting oor ’n tydperk ingefaseer word sodat maatskappye tyd het om voor te berei vir hul begroting en kapitaaluitgawes om tegnologie aan te koop wat tot beter luggehalte sal lei.

Eskom stel 233 miljoen ton CO2 per jaar vry en Sasol, die tweede grootste vrysteller, 66 miljoen ton per jaar.

Meer oor:  Sasol  |  Eskom  |  Malusi Gibaba  |  Koolstofbelasting  |  Belasting  |  Koolstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.