Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
September is D-dag vir Eskom en beurtkrag, maar . . .

Indien Eskom se plan uitwerk, kan Suid-Afrikaners uitsien na ’n “beduidende” vermindering in die risiko vir beurtkrag vanaf September, maar as daar nie gou nuwe kapasiteit gebou word nie, is nóg donkerder jare as ooit tevore dalk die land se voorland.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het Maandag opnuut beloof dat die kanse op beurtkrag noemenswaardig aan die afneem is.

Eskom het Maandag sy Toestand van die Kragnetwerk-konferensie gehou, hierdie keer te midde van fase 2-beurtkrag. Dit het selfs die perseel by Megawatt Park in Johannesburg, van waar die konferensie uitgesaai is, geraak.

In ’n taamlik donker vertrek het De Ruyter vol vertroue herbevestig teen einde April sal die kanse op beurtkrag “noemenswaardig” gedaal het, en dan teen September sal die kanse “beduidend” verminder het.

Dit is alles te danke aan die “diep” langtermynprojek van die herstel van betroubaarheid waarmee in Julie 2020 begin is kort nadat De Ruyter die leisels as uitvoerende hoof oorgeneem het.

Eskom verduidelik dat hierdie diep herstelwerk mik om uiteindelik die betroubaarheid van sy verouderde steenkoolkragstasies te hanteer.

Eskom se vloot steenkoolkragstasies is baie oud. Sowat ’n derde van die 15 sal binne die volgende vyf jaar uit diens gestel moet word, terwyl die res kort daarna te oud sal wees om te bedryf, behalwe Medupi en Kusile.

Vir jare is die instandhoudingswerk aan hierdie ou kragstasies ook uitgestel en dit het net aandag gekry soos wat komponente gebreek het.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het Maandag geïmpliseer dit het veral gebeur onder die leierskap van Brian Molefe en Matshela Koko.

Sedertdien is die probleem steeds dat die agterstand aan herstelwerk beteken dat meer kragstasies onbetroubaar sal wees. Dit sal die heersende kragsituasie in die land vererger.

De Ruyter het egter besluit om op kort termyn die kanse op beurtkrag te verhoog deur met die herstelwerk te begin, met die mikpunt dat dit op lang termyn die betroubaarheid van kragstasies só sal verbeter dat beurtkrag uiteindelik minder toegepas hoef te word.

En die einde van hierdie projek is in sig.

Teen einde April sal die eerste sessie herstelwerk van die 15 eenhede by steenkoolkragstasies afgehandel wees.

Daarna sal dit tot September neem om die laaste nege eenhede af te handel.

Die groter probleem

Die groter probleem is egter dat daar oor die volgende vyf jaar ’n lopende tekort aan opwekkingsvermoë van 4 000 megawatt (MW) gaan wees.

En Eskom se hande is afgekap om op sy eie meer daaraan te doen.

Dit beteken al werk al Eskom se kragstasies uiteindelik soos hulle moet, met ’n energiebeskikbaarheidsfaktor van 70% of meer, sal daar steeds 4 000 MW te min krag wees om te voorsien in die land se groeiende energiebehoeftes.

Tans is daar slegs ’n tekort van sowat 2 000 MW. Dit lei deurgaans tot die toepassing van fase 2-beurtkrag, wat sowat 2 000 MW van die kragnetwerk moet verwyder.

Indien daar dus nie oor die volgende twee jaar bykomende opwekkingskapasiteit gebou word nie, word Suid-Afrika deurgaans deur fase 4-beurtkrag in die gesig gestaar.

“Daardie tekort (4 000 MW) kan ook groter wees indien die ekonomie groei,” sê De Ruyter.

Indien die land dus ekonomies beter vaar as verwag, gaan hy nóg ’n groter kragkrisis hê.

De Ruyter beklemtoon dat die besluit om nuwe kapasiteit te bou, nou by die regering sit.

Die regering het beplan vir tot sowat 16 000 MW se nuwe kapasiteit oor die volgende dekade, en die noodverkryging van ’n bykomende 2 500 MW binne twee jaar.

Maar min vordering is al daarmee gemaak.

Volgens De Ruyter hang dit nou geheel en al daarvan af of die regering slaag in sy verkryging van duisende megawatt se nuwe groenkrag deur veral die volgende bodronde vir onafhanklike kragprodusente (IPP’s).

En hoe vinniger dit gebeur, hoe vinniger kan die komende 4 000 MW of meer se kragtekort hanteer word.

Sonkragfasiliteite neem volgens De Ruyter ongeveer 18 tot 24 maande om te bou en windkrag neem 24 tot 48 maande.

Die regering sal dus moet spring.

Eskom sê hy sit oorgehaal om nuwe kapasiteit tot die kragnetwerk te voeg; iemand moet dit net bou.

De Ruyter verwys na die 40 MW se opwekking wat Gold Fields onlangs begin bou het vir sy eie verbruik.

Enige surplus energie sal aan die kragnetwerk verkoop word, en Eskom het binne 24 uur die goedkeuring vir die konneksie aan Gold Fields toegestaan.

“As hulle dit bou, sal ons dit dadelik tot die kragnetwerk koppel,” het De Ruyter gesê.

Vooruitsig vir beurtkrag

Segomoco Scheepers, uitvoerende hoof van transmissie, sê daar is ’n kans dat daar selfs geen beurtkrag kan wees gedurende die wintermaande.

Eskom het vir drie scenario’s beplan.

Indien hy deur sy herstelwerk die betroubaarheid van sy kragstasies noemenswaardig verbeter, is dit moontlik dat hy verliese weens onbeplande instandhouding of foute kan beperk tot slegs 11 000 MW maksimum.

Indien dit gebeur, en met die hulp van sy oopsiklus-gasturbines, reken Scheepers is daar dan geen kans vir beurtkrag selfs in die winter.

Indien daar egter tussen 11 000 en 12 000 MW verlore gaan weens foute, sal Eskom R1,2 miljard aan diesel vir sy oopsiklus-gasturbines moet bestee en daar sal steeds in die winter twee dae van fase 1-beurtkrag toegepas moet word.

In die somermaande sal dié scenario beteken Eskom moet ’n verdere R2 miljard aan diesel bestee en daar sal een dag van fase 1-beurtkrag wees.

In die derde scenario verwag Eskom ’n verlies aan opwekkingsvermoë weens foute van tussen 12 000 MW en 13 000 MW. In hierdie geval gaan die winter koud en donker wees.

Daar sal met só ’n verlies R2,7 miljard aan diesel bestee moet word, en daar sal 26 dae se fase 2-beurtkrag wees.

In die daaropvolgende somer sal R5,6 miljard aan diesel bestee moet word, en daar sal 28 dae van fase 2-beurtkrag wees.

Volgens Oberholzer is dit waarskynlik dat daar gewissel gaan word tussen die scenario’s.

Hy verduidelik dat die prentjie uurliks verander en dat daar waarskynlik soms verliese van scenario drie sal wees, en ander tye minder.

Die punt is egter dat Eskom tans sit met meer as 11 000 MW wat onbeskikbaar is weens foute. Die meeste hiervan is weens swak prestasie van eenhede, wat lei tot gedeeltelike verliese in opwekking by talle kragstasies.

Deur middel van die diep herstelwerk mik Eskom egter om hierdie verskynsel noemenswaardig te verminder.

Dit sal beteken dat teikens van 11 000 MW se verliese of minder haalbaar word, ten minste vir dele van die jaar.

In daardie opsig is daar dus baie meriete in De Ruyter se beloftes dat beurtkrag vanaf April en veral September al hoe minder toegepas sal word.

Nou moet die regering net verseker dat IPP’s so gou as moontlik toegelaat word om nuwe opwekkers te bou sodat die kragkrisis nie opnuut in 2022 en daarna opvlam nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.