Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Siemens ontken hy hou onderdele terug oor Eskom-skuld
Eskom se Hendrina-kragstasie naby Middelburg in Mpumalanga.

Siemens ontken dat hy enige onderdele of komponente van Eskom terughou oor geld wat die kragverskaffer hom skuld.

Die internasionale tegnologie-en-ingenieursgroep, wat ’n groot diensverskaffer aan talle Eskom-kragstasies is, het gereageer op navrae oor bewerings dat Eskom hom glo R30 miljoen skuld en dat hy glo nie sekere onderdele aan Eskom wil lewer alvorens hy sy skuld vereffen nie.

Keshin Govender, kommunikasiebestuurder van Siemens Suid-Afrika, ontken ten sterkste dat Siemens ooit enige onderdele van Eskom sal weerhou. “Siemens is veral in hierdie moeilike tyd ten volle tot Eskom en tot die land se ekonomie verbind,” het Govender gesê.

Volgens hom is Siemens boonop voor met sy werk by Eskom-kragstasies, anders as sommige kontrakteurs wat agter is. Siemens is veral betrokke by die Kendal-kragstasie en is ’n voorloper met ondernemings-ontwikkeling, maatskaplike investering en transformasie by die kragstasie, het Govender gesê.

Dit is net een van talle Eskom-kragstasies waarby Siemens betrokke is. Hy lewer ook werk by Medupi en Kusile, die twee nuwe steenkoolkragstasies wat gedeeltelik voltooi is, maar waar Eskom erken het dat ontwerpprobleme tot die huidige bedryfsprobleme van die twee kragstasies bygedra het.

Siemens het onder meer kontrakte by Medupi gehad om beheer- en instrumentasiestelsels te installeer; om die Ankerlig- en Gourikwa-dieselkragstasies aan die Weskus en by Mosselbaai te ontwerp, vervaardig en installeer; en is in 2012 vereer vir sy rol om die Komati-kragstasie weer in bedryf te stel nadat dit 22 jaar lank nie in gebruik was nie. Siemens het ook die 46 windturbines vir Eskom se Sere-windplaas aan die Weskus gelewer.

Siemens is veral in hierdie moeilike tyd ten volle tot Eskom en tot die land se ekonomie verbind.
Keshin Govender, Siemens

Govender wou nie bevestig of ontken dat Eskom Siemens R30 miljoen skuld nie. Eskom het spesifieke betalingsooreenkomste met Siemens en daar is ’n oop rekening. Eskom sal die een of ander tyd sy skuld aan Siemens betaal, het hy gesê.

Navrae by Eskom oor die kwessie is nog nie beantwoord nie. Betroubare bronne het aangevoer dat as die onderdele nie verskaf word nie, kan dit beteken dat 300 MW se kragopwekking nie gelewer word nie.

In ’n verslag van Cliffe Dekker Hofmeyr in 2017 vir die forensiese ondersoekers Nkonki oor bewerings van ongerymdhede by Eskom het sekere Eskom-amptenare wel bewerings gemaak oor swak prestasie van Siemens by Kusile, waar hy ’n kontrak vir kabel-installering by eenheid 2 gehad het. Siemens het ook ’n kontrak vir werk aan eenheid 1 gehad.

Luidens getuienis in die verslag is die kontrakte weens wanprestasie gekanselleer en aan Eskom Rotek Industries, Eskom se interne tegniese diensverskaffer, gegee.

Volgens dié verslag het Siemens in 2011 ’n kontrak van R1,157 miljard by Eskom gekry om elektriese en aanvullende kragkonstruksie by Kusile oor ’n tydperk van sewe jaar te doen.

In 2016 is in ’n Eskom-verslag gemeld dat dié Siemens-kontrak ’n aantal uitdagings, wat betref kontraktuele verpligtinge, d.w.s. vertragings, koste-uitdagings en hulpbronbeperkings, ondervind het.

Maar wat daarop gevolg het, het skynbaar tot nog groter vertragings en koste by Kusile gelei deurdat die werk in kleiner kontrakte verdeel is, nuwe onderhandelings moes plaasvind en nuwe kontrakdokumente opgestel moes word.

Meer oor:  Siemens  |  Eskom  |  Keshin Govender  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.