Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skeptisisme oor ‘voorwaardes’ vir Eskom-hulp

Beleggers weet nou effens meer oor Eskom se planne om sy geldsake te herstruktureer.

Maar oor die voorwaardes gekoppel aan die reddingsboeie vir Eskom en oor die planne om hom in drie te verdeel, is daar nog baie onduidelikheid, blyk uit die jongste ontleding van Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex.

 Intellidex
Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex.

Op die besoek aan Londense beleggers verlede week deur Eskom het dit geblyk die nuwe herstruktureringshoof gaan hom slegs toespits op die herstrukturering van Eskom se enorme skuldlas van meer as R440 miljard. 

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), is twee weke gelede as Eskom se nuwe herstruktureringshoof aangewys.Nomvalo sal dié pos in ’n deeltydse kapasiteit beklee sodat hy sy werk by Saica terselfdertyd kan voortsit.

Waar Eskom se skuld tans ’n hefboomverhouding van 15 het, moet dit afgebring word na ’n veiliger hefboomverhouding van 5 sodat die koste van rente op skuld minder van ’n probleem is. Montalto sê dit is in ’n sekere sin bisar vir ’n maatskappy om te sê hy is so onvolhoubaar dat iemand anders die meeste van sy skuld moet oorneem.

Selfs as die skuldhefboomverhouding verlaag word, sal Eskom steeds die reddingsboei van R23 miljard per jaar en nog meer moet kry, meen Montalto.

Die herstruktureringshoof sal eers teen die middel van of teen die einde van die tweede kwartaal volgende jaar ’n aanbeveling aan Eskom se oorsigkomitee hoef te gee oor die plan vir sy geldsake-herstrukturering. Die plan sal dan teen einde 2020 uitgevoer word, het dit uit die beleggersbesoek geblyk.

Wat die verdeling van Eskom in drie dele betref – dit blyk die nuwe uitvoerende hoof wat teen einde Oktober aangestel moet word, sal dié takie kry.

Waarvoor om volgende uit te kyk by Eskom:
  • die herstruktureringshoof wat met sy werk begin.
  • die spesiale toedelingswetsontwerp wat in die parlement bespreek sal word, en waar die opposisie sal probeer om voorwaardes in die wet in te sluit.
  • die sogenaamde September-dokument wat waarskynlik eers in Oktober uitgereik sal wees.
  • die soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof.
  • die risiko van beurtkrag tot en met September; en
  • ’n groeiende stem van kritiek uit die sakesektor teen die regering se trae hantering van die Eskom-krisis.

Volgens Montalto lyk dit asof geen eksterne werk nog gedoen is aan die ontbondeling nie. Die regering sou teen September ’n dokument uitreik oor ’n omdraaiplan vir Eskom, maar Montalto is skepties of dié dokument hoegenaamd met enigiets nuuts vorendag sal kom.

Daar is geen nuwe advies aan die regering of aan die herstruktureringshoof beskikbaar nie. “Al die moontlike advies is bekend en op die tafel. Wat is dus die punt van die herstruktureringshoof?”

Montalto is ook erg skepties oor of daar hoegenaamd werklike voorwaardes is vir die versnelde reddingsboeie aan Eskom uit die staatskas. “Ons kom toenemend tot die gevolgtrekking dat daar geen voorwaardes van enige betekenis is nie.”

Enige geloofwaardigheid of voorwaardes is uiteindelik kragteloos want as dit daarop neerkom kan die regering nooit nee sê nie, merk Montalto op.

Hoewel Eskom meen hoër tariewe is die enigste oplossing om sy geldsake te verbeter, sê Montalto hoër kragtariewe is ietwat irrelevant te midde van swak vraag na elektrisiteit. Enige voordeel vir Eskom uit hoër kragtariewe word weggekalwe deur kragvraag wat daal en gebruikers wat dros na alternatiewe kragbronne weens die duurder krag.

Meer oor:  Intellidex  |  Eskom  |  Peter Attard Montalto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.