Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skielik R0 vir sonkrag-geisers

Sewe maatskappye kan sluit nadat die departement van energie skielik in Maart besluit het om ’n begroting van R0 te bewillig vir die nasionale program om sonkrag-geisers te installeer. Verlede jaar was dié program se begroting R394 miljoen.

’n Sonkrag-geiser op die dak van ’n laekostehuis in Heidelberg in die Wes-Kaap. Foto: COR Environmental.

In minstens een fabriek – Isolar in Atlantis in die Wes-Kaap – is 85 werknemers in Februarie laas betaal.

Die program is in 2010 begin as ’n Eskom-skema om elektriese geisers te vervang met sonkrag-geisers om die vraag na elektrisiteit te verminder.

Die oorspronklike teiken was 1 miljoen sonkrag-geisers teen 2014. Net 400 000 eenhede is uiteindelik teen die spertyd geïnstalleer.

Die departement van energie het die projek in 2015 oorgeneem en die fokus verander na sonkrag-geisers vir mense wat in staatsgesubsidieerde huise woon en mense wat glad nie elektrisiteit het nie. Die nuwe teiken was 1,25 miljoen eenhede teen 2019 en 5 miljoen teen 2030.

Maatskappye soos Isolar bestaan grootliks danksy die vraag wat dié projek geskep het en maatskappye het baie geld belê om geisers volgens die departement se vereistes te kan lewer.

Die departement het nie geantwoord op vrae van City Press, susterskoerant van Rapport, oor waarom die tesourie die begroting teruggetrek het nie, maar die projek was nie juis suksesvol nie.

Tot dusver is net sowat 87 000 van die voorgestelde 1,25 miljoen eenhede vervaardig. Dié geisers staan egter in stoorplekke op verskillende plekke in die land, want die installasiefase is nog nie begin nie.

Tandeka Gqada, die DA se woordvoerder oor energie, het Woensdag in die parlement gesê die mislukking van die program is deels te wyte aan die rondskuiwery daarvan tussen Eskom, die departement en die sentrale energiefonds.

Sy sê sy het met drie vervaardigers gepraat wie se werk opgedroog het weens die staking van die projek. “Nou gaan hulle waarskynlik hul deure moet sluit,” het sy gesê.

Thembisile Majola, adjunkminister van energie, het gesê die departement is bekommerd oor die sewe maatskappye en voer gesprek met hulle.

Meer oor:  Eskom  |  Sonkrag  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.