Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skoner brandstof dalk vinniger hier
Loodvervangingspetrol (LRP) word stelselmatig uitgefaseer.

As politieke stabiliteit terugkeer, kan die gesprekke tussen die brandstofbedryf en die regering oor skoner brandstof vanjaar vinniger vorder.

Dit is die verwagting van Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging (Sapia).

Sapia verteenwoordig groot brandstofmaatskappye soos BP, Shell, Total, Engen, Sasol, Chevron en PetroSA in Suid-Afrika.

As deel van die bedryf se skuif na skoner brandstowwe word loodvervangingspetrol (LRP) vinnig uitgefaseer.

LRP is ingebring om ou motors se enjinkleppe te beskerm toe loodryke petrol in 2006 uitgefaseer is.

Volgens Sapia se beskikbare syfers bedra die verkope van LRP tans sowat 3% van die totale petrolverkope in die land, teenoor sowat 15% vyf jaar gelede.

Die nuwe spesifikasies, wat nog nie afgedwing word nie, is:
  • ’n Maksimum swaelinhoud van 10 dele per miljoen (volgens massa) vir diesel (die laagste swaelvlak vir plaaslike diesel is tans 50 dele per miljoen);
  • Laer vlakke van olefiene, benseen en aromatiese middels in petrol;
  • Net twee oktaanvlakke vir petrol landwyd, naamlik 95 en 93.

Tshifularo sê die vraag na LRP is tans taamlik onveranderd op die sowat 3% van totale verkope. Dit kom neer op sowat 350 miljoen liter per jaar.

Sapia weet nie presies waar LRP nog beskikbaar is nie, want brandstofmaatskappye faseer dit stelselmatig uit en besluit self hoe en waar dit gebeur. Hy weet van ’n paar vulstasies in Johannesburg wat dit wel nog verkoop.

Hy het benadruk dat mense wat dit nog vir hul ou motors benodig, bymiddels sal kan koop om by loodvrye petrol te voeg sodra LRP glad nie meer beskikbaar is nie.

Dit is sogenaamde “valve seat recession additives” wat by vulstasies of motoronderdelewinkels soos Midas te koop is.

Nuwe spesifikasies vir skoon brandstof, soortgelyk aan die Europese standaarde, sou in Julie verlede jaar in werking getree het, maar dit is in 2015 onbepaald uitgestel omdat die brandstofbedryf en die regering nie ooreen kon kom op ’n manier waarop die bedryf vergoed kan word vir die meer as R40 miljard wat dit sou kos om hul raffinaderye op te gradeer nie.

Die nasionale tesourie het twee jaar gelede ’n versnelde depresiasie-toelae voorgestel as ’n manier om die bedryf te help, terwyl ’n ekstra heffing in die brandstofprys ook voorgestel is.

Tshifularo het gesê gesprekke sal met die tesourie, asook die departemente van energie, ekonomiese ontwikkeling, en handel en nywerheid gevoer word omdat die opgraderingsprojek van die raffinaderye ’n geleentheid is om werk te skep, nywerhede te ontwikkel en armoede te verlig.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) is besorg oor die gesloer met die skuif na skoner brandstof. Die jongste enjintegnologie kan nie in Suid-Afrika gebruik word as brandstof nie op die korrekte suiwerheidsvlak is nie.


Meer oor:  Sasol  |  Petrosa  |  Total  |  Engen  |  Chevron  |  Bp  |  Shell  |  Cyril Ramaphosa  |  Petrol  |  Brandstofbedryf  |  Brandstof  |  Vervoer  |  Brandstofprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.