Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skoor wil bewerings teen Eskom-hoof ondersoek

ANC- en EFF-lede in die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het hul mes in vir André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Deon Raath

Hulle het Woensdag uitgevaar oor “ernstige bewerings van onreëlmatighede” teen De Ruyter met betrekking tot Eskom se geskorste verkrygingshoof, Solly Tshitangano.

Tshitangano het briewe aan pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, asook aan Skoor, geskryf waarin hy oor De Ruyter kla. Hy beskuldig De Ruyter en ander senior bestuurders by Eskom van rassisme.

Intussen is Tshitangano verlede week geskors en weens wanprestasie staar ’n tugverhoor hom in die gesig.

LEES OOK: Eskom skors hoë wat ‘nie genoeg spaar nie’

Mervyn Dirks, ANC-lid van Skoor, wou hê Gordhan moet antwoord op Tshitangano se bewerings, terwyl Benedicta van Minnen van die DA op haar beurt gevra het die komitee moenie toelaat dat hy deur individue se griewe gekaap word nie.

Prof. Malegapuru Makgoba, voorsitter van Eskom, het gesê daar is ’n duidelike grieweproses waardeur werknemers hul bewerings en griewe kan indien. Dit word nie regstreeks na Eskom se direksie gestuur nie.

Hy het bevestig dat hy al in Februarie verlede jaar van Tshitangano se klag teen De Ruyter verneem het. Die saak is toe na die uitvoerende komitee terugverwys.

Solly Tshitangano, Eskom se verkrygingshoof.

Nombovuyo Mente, EFF-lid van Skoor, wou weet waarom Tshitangano as verkrygingshoof nie voor die komitee kan verskyn om te verduidelik oor die kontrak-afwykings en -verlengings wat hy in die 2019-’20-boekjaar goedgekeur het nie.

Mente meen ook dis onbillike arbeidspraktyk dat Tshitangano geskors is sonder dat die bewerings teen De Ruyter ondersoek is.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, het gekla dat Skoor by Eskom uitgevind het Tshitangano is geskors, hoewel Eskom eers aangedui het hy is met siekverlof. Dit nadat Tshitangano nie beskikbaar was of opgedaag het vir ’n vorige vergadering van Skoor nie. Die kontrak-afwykings by Eskom sou toe juis bespreek word.

Hlengwa sê die komitee sal die bewerings teen De Ruyter in oorleg met die komitee se regsadviseurs “dringend” ondersoek.

Gordhan het bevestig hy het Tshitangano se brief ontvang en dit na die Eskom-direksie verwys. Hy het verduidelik dit is uitvoerende hoofde se plig om toe te sien dat die bestuurders onder hul toesig volgens hul pligstaat presteer.

Hlengwa het gewaarsku die ongetoetste bewerings teen De Ruyter kan ’n gevaar vir Eskom inhou.

Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.