Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skuif na groen krag ‘onkeerbaar’ ondanks EFF

Terwyl die EFF en vakbonde dreig om die regering se groenkragprogram stop te sit omdat hulle glo dit vat werk weg van werkers by steenkoolmyne en Eskom, voer die swart bemagtigde sonkragontwikkelaar Sener juis aan dat hernieubare energie ’n nuwe bedryf in Suid-Afrika kan skep wat vir talle nuwe werkgeleenthede kan sorg.

sonkrag
’n Lugfoto van die Karoshoek Solar One-sonkragaanleg naby Upington in die Noord-Kaap.Foto: Sener

Sener is die tegnologievennoot in ’n konsortium saam met die plaaslike vennoot Emvelo en die sonkragontwikkelaar Cobra wat die Karoshoek Solar One- termiese sonkragaanleg 30 km oos van Upington in die Noord-Kaap gebou het. Die aanleg van 100 MW het pas sy eerste jaar van kragopwekking gevier.

Dit blyk Siyabonga Mbanjwa, streekbestuurder van Sener Suider-Afrika, steur hom nie veel aan die EFF se herhaalde beweringe dat onafhanklike kragprodusente net ’n komplot van witmonopoliekapitaal is om Eskom te verswak sodat dit geprivatiseer kan word nie.

“As jy dink aan die wesenlike koers waarteen die koste van hernieubare energie afneem, maak dit finansieel sin om meer groenkragprojekte te begin. As ’n samelewing het ons boonop nie ’n ander keuse as om ons kweekhuisgasvrystellings te verlaag nie. Die kombinasie van dié twee faktore beteken ons kan nie langer van steenkoolkragstasies vir kragopwekking afhanklik bly nie.”

Mbanjwa sê Eskom het die afgelope week kragtekorte van tussen 2 000 MW en 6 000 MW gehad en met Karoshoek Solar One se slegs 100 MW beteken dit daar is heelwat meer sulke aanlegte nodig om beurtkrag te vermy.

Karoshoek gebruik paraboliese weerkaatsers wat deur Sener ontwikkel en gepatenteer is wat sonstrale op ’n verhittingsmiddel fokus. Dit vorm dan stoom waarmee elektrisiteit opgewek word. Die aanleg het ook twee tenks van gesmelte sout wat oortollige hitte-energie opgaar sodat dit vir nog vyf ekstra uur krag kan opwek al het die son al gesak.

Sener het planne vir nog hernieubare-energie-projekte, maar wag vir Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, om ministeriële bepalings vir nuwe kragopwekkingsvermoëns uit te reik. Daar word ook nog gewag op die departement van energie se eenheid vir onafhanklike kragprodusente om ’n versoek om voorstelle vir die vyfde bodronde van die groenkragprogram uit te reik.

Mbanjwa besef die oorgang na hernieubare energie moet versigtig bestuur word, “maar ons moet aanvaar dit is onafwendbaar”.

“Ons moet seker maak mense word heropgelei vir hierdie nuwe en opkomende bedrywe. Die regering sal ook aansporings vir beleggers moet skep om in groenkragprojekte te belê in gebiede wat voorheen deur steenkoolmyne en Eskom se steenkoolkragstasies oorheers is.”

Meer oor:  Upington  |  Sonkrag  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.