Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Skuldiges moet aan die pen ry, sê Cyril

Die slegte nuus: Sabotasie het ’n rol gespeel in die heersende kragonderbrekings in die land.

Pres. Cyril Ramaphosa gister. Foto: Simon Sonnekus

Die goeie nuus: Daar sal van 17 Desember tot 13 Januarie géén beurtkrag wees nie.

Die sabotasie is Woensdag deur pres. Cyril Ramaphosa bevestig.

Ramaphosa het Woensdag, nadat hy ’n ampsbesoek aan Egipte kortgeknip het om die kragkrisis hier te kom bestuur, gesê “iemand” het ’n instrument ontkoppel wat tot die verlies van 2 000 megawatt krag gelei het.

Kabeldiefstal het ook ’n rol gespeel.

Ramaphosa het by Megawatt Park in Sandton, Eskom se hoofkantoor, met die direksie en bestuur van Eskom, asook Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, vergader.

Hy het gesê die sabotasie het dalk nie so 'n groot uitwerking gehad nie, maar dit het wel bygedra tot van die ander probleme.

Op hul eie sou dit egter nie die stelsel kelder nie.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat daar mense in die stelsel is wat besluit om sekere instrumente af te skakel.

“Ondersoeke is aan die gang en ons het die bestuur gevra om dit te bespoedig. Diegene wat deelgeneem het – wat uit hul pad gegaan het om instrumente in die wiele te ry (moet aan die pen ry).”

Hy sê die sabotasie moet ook deur die intelligensiediens en die polisie ondersoek word.

“Ons wil hê veiligheid moet dadelik opgeskerp word sodat niemand die geleentheid kry om sabotasie te pleeg soos nou nie.”

Volgens Ramaphosa het die reën onder meer ’n invloed gehad op die kragonderbrekings en het verouderende infrastruktuur ook ’n rol gespeel.

Van die kragstasies is ouer as 50 jaar. Die nuwe kragstasies, Medupi en Khusile, gee ook probleme.

“Ons stelsels is onbetroubaar en onvoorspelbaar,” het hy gesê.

Hy het later in antwoord op ’n mediavraag gesê die groot uitdaging is die kragstasies wat te oud is en waarvoor die vervaardigers nie meer die toerusting vervaardig nie.

Volgens hom het die bestuur hul bes gedoen om die stelsel stabiel te maak.

“Terselfdertyd is daar die gevoel dat hulle nie met die nodige dringendheid opgetree het nie.

“Hulle moet van hierdie goed moet kan voorsien. Die instandhouding is ook nie na wense nie, veral omdat ons met verouderde infrastruktuur werk.”

Ramaphosa het gesê hy het met bestuur gepraat en alle verlof tot Januarie toe is gekanselleer.

“Alle uitvoerende beamptes en sleutelbestuurders moet bly om seker te maak daar is nie beurtkrag nie.”

Die president het gesê daar kom meer verantwoordbaarheid.

“Mense moet hand opsteek oor wat hulle nie gedoen het wat nodig is nie. Ons het ’n paar oplossings bespreek. Ons het gevoel dat ons ’n noodherstelplan benodig – wat sal seker maak dat ons ontslae raak van beurtkrag. Die bestuur het verseker dat hulle die stelsel probeer stabiliseer,” het Ramaphosa gesê.

Hy het aangekondig dat daar geen kragonderbrekings van 17 Desember tot 13 Januarie sal wees nie. “Ons verseker die mense van SA dat dit nie ’n donker Kersfees sal wees nie.”

Ramaphosa het ook in antwoord op ’n vraag gesê: “Ons vra om verskoning aan die mense van ons land weens die beurtkrag.”

Ramaphosa: “Aan beleggers sê ons een van die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word, is kragopwekking. Mense sê: ‘Julle is ten minste eerlik en ons is gewillig om SA as ’n winsgewende bestemming te sien.’ Ons gaan onsself herposisioneer en seker maak dat Eskom sy doelwitte bereik.”

Oor berigte dat die Koeberg-kragstasie net 50% krag lewer, sê Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, dit is bloot omdat daar geskeduleerde instandhouding gedoen word.

“Onthou, ons moet daardie stasie van tyd tot tyd herlaai – dit is al wat nou aangaan.”

Oberholzer sê hy het dit tydens die vergadering met Ramaphosa en die ministers dit baie duidelik gestel dat Eskom sowat 5 000 MW (bykomende) kapasiteit nodig het.

“Ons kan sonder twyfel 25 000 MW lewer. As ons ekstra kapasiteit het, sal dit ons tyd gee om instandhouding wat jare lank nie gedoen is nie, behoorlik uit te voer,” sê Oberholzer.

Oberholzer sê tans is Eskom onder soveel druk dat net die absolute nodige instandhouding gedoen word.

“Dit is soos om ’n pleister op ’n wond te plak. Die wond is nie gesond nie, daar is net ’n tydelike plan gemaak,” verduidelik hy.

Op die vraag oor of daar enige waarheid steek in die stemnota wat die ronde op WhatsApp doen waarin ’n persoon beweer die huidige krisis is omdat Eskom nie vir olie betaal het wat gebruik word om swak gehalte steenkool te “spike”, rol Oberholzer net sy oë.

“Ek weet nie wat daardie persoon rook nie. Ek weet regtig nie wat iemand besiel om so iets uit te dink nie.”

Oberholzer sê Eskom gebruik olie om die ketels aan te vuur.

“Dit is soos daardie stukkie Blitz wat jy gebruik om jou braaivleisvuur aan die gang te kry.

“Maar glo my, ons ‘spike’ nie steenkool nie,” sê Oberholzer. Hy sê sy vrou was die eerste wat die stemnota aan hom gestuur het.

Oberholzer sê probleme wat by die Medupi-kragstasie opgelos is, die weer wat opgeklaar het en eenhede by ander kragstasies wat weer aanlyn is het Eskom in staat gestel om weer na fase 2-beurtkrag te kon afskaal.

Die afgelope week was net ’n perfekte storm vir Eskom.

“Ons het sonder twyfel ’n netwerk wat baie onstabiel is. “Toe ons Medupi verloor en boonop met swaar reën wat steenkool by kragstasies deurdring het begin sukkel, het ons geen keuse gehad nie as om beurtkrag in te stel.”

Die Medupi-kragstasie kon nie krag lewer nie nadat ’n kragpaneel by van die vervoerbande wat steenkool in die stasie inneem, gebreek het. Dit is nou reggemaak.

Sabotasie is ’n flou verskoning, sê Theo Venter, politieke ontleder.

“Met so ’n groot stelsel soos Eskom kan ’n skakel nie ’n hele stelsel in die gedrang bring nie,” sê Venter.

Hy sê sabotasie kan twee betekenisse hê: dit kan beteken iemand word beskuldig dat hulle die staat in gevaar stel, soos met ’n bomdreigement, óf wanneer dit met politiese optrede verband hou.

Hy sê dus is die argument van sabotasie nie waar nie.

Venter sê wat ’n rol gespeel het is gebrekkige instandhouding en die buitengewone seisoenale weersomstandighede.

Meer oor:  Eskom  |  Kragonderbrekings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.