
Die petrolprys daal in Oktober vir die sesde keer vanjaar. Foto: Pixabay
Die “mooiste, mooiste maand” bring ook goeie nuus vir diegene wat terugkeer kantoor toe.
Die departement van energie het Sondag aangekondig dat die prys van 95-oktaan-petrol met 32c per liter daal en dié van 93-oktaan-petrol met 23c per liter.
Veral boere sal bly wees dat daar ook ’n stewige daling is in die prys van diesel.
Die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% daal met 90c per liter en dié van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% daal met 93c per liter.
Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.
Die prys van paraffien daal met 76c per liter.
Die daling is danksy die rand se sterker vertoning teenoor die dollar en die daling in die prys van Brent-ruolie.
In die oorsigtydperk het die rand gemiddeld teen R16,72 teenoor die dollar verhandel vergeleke met R17,28 die voorafgaande maand.
Die prys van Brent-ruolie het van gemiddeld $44,78 per vat in die vorige oorsigtydperk tot $40,82 per vat in die jongste oorsigtydperk gedaal.
Die nuwe pryse word op Woensdag 7 Oktober van krag.
95-oktaan sal R14,86 in Gauteng en R14,16 aan die kus kos.
- Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is die daling vir 95- en 93-oktaan-petrol omgeruil.