Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só gaan miljarde steeds by Eskom verlore

Munisipaliteite wat nie betaal nie, misdaad en die koste van diesel is drie redes waarom Eskom steeds miljarde rand per jaar “verloor”.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom.Foto: Elvira Wood

André de Ruyter, uitvoerende hoof, sê Eskom verloor sowat R2,5 miljard per jaar weens onwettige kragverbindings en die gepeuter met sy netwerk.

“Gegewe die stand van Eskom se finansies kan ons dit nie bekostig nie.”

De Ruyter sê benewens die verlies aan inkomste weens die misdaad, beskadig dit dikwels die netwerk. Dit is om dié rede dat Eskom vanjaar begin het om gereeld die krag af te skakel in woonbuurte met baie onwettige verbindings.

Kabeldiefstal is ook ’n groot probleem.

Jan Oberholzer, bedryfshoof, sê oor die afgelope vyf jaar is gemiddeld 1 458 gevalle van kabeldiefstal per jaar aangemeld. Dit kos Eskom sowat R50 miljoen per jaar.

“Kabeldiefstal kos Eskom nie net geld nie, dit veroorsaak groot probleme om die netwerk stabiel te hou,” sê hy.

Die twee het gepraat op ’n mediavoorlegging oor die stand van die kragnetwerk.

LEES OOK: Nog 11 maande voordat Eskom ‘stabiel’ is

Munisipaliteite

Teen einde Augustus het agterstallige munisipale skuld aan Eskom R31,8 miljard beloop.Die rente hierop beloop R6,7 miljard per jaar.

Lopende skuld is nie hierby ingesluit nie.

De Ruyter sê dis ’n enorme bedrag en Eskom het geen ander keuse nie as om sy voet dwars te sit en stappe te doen om die geld in te vorder.

“Almal aan wie ons elektrisiteit verskaf – of dit nou individue is of munisipaliteite – moet besef hulle moet vir die diens betaal.”

Eskom het hom die afgelope tyd tot die hof gewend en bankrekeninge laat bevries of op bates beslag laat lê van die munisipaliteite wat aan hom geld skuld.

Diesel

’n Enorme uitgawe vir Eskom is om diesel te koop. Hy het in die eerste ses maande van die huidige boekjaar reeds R1,37 miljard daaraan bestee.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.Foto: Elvira Wood

Oberholzer het in vraetyd verduidelik dat Eskom daarvoor voorsiening gemaak het dat hy tot R2,9 miljard vir die jaar aan diesel sou moes bestee.

Vir die eerste ses maande het hy voorsien om R561,1 miljoen daaraan te bestee.

Die verwagting is dat hy in die huidige boekjaar tot R4,2 miljard aan diesel sal bestee.

Die diesel word gebruik om gasturbines aan te dryf wanneer Eskom nie genoeg krag met sy steenkoolkragstasies kan opwek nie.

Pandemie

Nog ’n faktor wat vanjaar tot verliese by Eskom bygedra het, is die Covid-19-pandemie.

Oberholzer sê die pandemie het die nutsmaatskappy sowat R5 miljard gekos. Dit is hoofsaaklik weens laer elektrisiteitsverkope gedurende die tyd.

“Ja, ons het minder uitgawes gehad omdat die vraag na elektrisiteit laer was, maar dit kon nie die laer verkope teenwerk nie.”

Eskom sal na verwagting op 30 Oktober sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart bekend maak.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Munisipale Skuld  |  Munisipaliteite  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.