Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só kan Cosatu se Eskom-plan ontspoor

Cosatu se plan om onder meer pensioengeld te gebruik om ’n deel van Eskom se kolossale skuld te herfinansier, moet oor hekkies kom wat dalk net te hoog gaan wees.

Eskom se onvoltooide Kusile-steenkoolkragstasie in Mpumalanga. Foto: Getty Images

Kragtens Cosatu se sogenaamde “maatskaplike pakt” sal Eskom se skuld van R454 miljard verminder word tot R200 miljard, terwyl die oorblywende R254 miljard na ’n spesiale entiteit oorgedra sal word.

Hierdie spesiale entiteit sal gefinansier word deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat onder meer die staatspensioenfonds (GEPF) se geld bestuur.

Terwyl die ANC-regering en die sakegroep Business Unity South Africa (Busa) Cosatu se plan verwelkom het, dreig die DA en die vakbond Solidariteit met regstappe om pensioenfondslede se spaargeld te beskerm.

Die Vereniging van Staatsamptenare, ’n vakbond wat meer as 237 000 lede het, is ook nie ten gunste van die voorstel nie. Dit kan jare neem om die voortspruitende geskille op te los.

Cosatu self het gesê sy reddingsplan hang daarvan af dat Eskom en die regering toestem tot ’n reeks voorwaardes wat wetlik moeilik nagekom sal kan word.

Beleggingsmandaat

Die GEPF het reeds gesê enige finansiering wat hy aan Eskom gee, moet voldoen aan sy beleggingsmandaat, ’n voldoende opbrengs bied en terugbetaal word. Hy sal eers kan bepaal of aan dié kriteria voldoen word wanneer Cosatu se plan voltooi is.

Die GEPF het reeds R84 miljard van sy bates in Eskom-effekte belê. Volgens Abel Sithole, uitvoerende hoof van die GEPF, sou dit vanuit ’n omsigtigheidsoogpunt nie ideaal wees om te veel in ’n enkele bate te belê nie.

Staatswaarborge

Cosatu wil hê die regering moet enige beleggings van werknemers se pensioengeld in Eskom waarborg.

Maar die regering sit reeds met ’n beleërde staatskas wat sukkel om sy enorme en groeiende skuldlas te hanteer. Om verdere druk op die begroting te plaas in die vorm van enorme staatswaarborge, sal ook die risiko van ’n kredietafgradering deur Moody’ Investors Service beduidend laat toeneem.

Private beleggers

Privatesektor-beleggers in Eskom-effekte soos Futuregrowth Batebestuur, Suid-Afrika se grootste spesialis- vaste-inkomste-batebestuurder, is luidkeels gekant teen voorgeskrewe bates waarin hulle moet belê. ’n Langdurige regstryd kan volg as die regering hulle probeer dwing om Eskom te finansier.

Werksekerheid

Cosatu sê hul belegging in Eskom hang daarvan af dat Eskom niemand aflê nie. Maar Eskom het meer as 46 000 werknemers, wat hy self al gesê het sowat ’n derde te veel is. Met ’n verlies van meer as R20 miljard per jaar moet Eskom eenvoudig koste besnoei.

Cosatu eis boonop dat kragtariewe verlaag en meer gratis elektrisiteit aan behoeftiges verskaf moet word, wat nog meer druk op Eskom se finansiële posisie sou plaas.

Hersiening van kontrakte

Cosatu wil hê Eskom moet verskeie bestaande kontrakte met onafhanklike hernubarekragprodusente hersien. Cosatu meen die pryse waarteen hulle krag aan Eskom gaan lewer, is te hoog.

Die vakbondfederasie meen ook steenkoolkontrakte moet hersien word om koste te besnoei. Nog regstappe sal volg as Eskom ten opsigte hiervan kontrakbreuk pleeg.

Steenkoolkragstasies

Sowat ’n derde van Eskom se 15 steenkoolkragstasies bereik teen 2023 die einde van hul leeftyd. Cosatu wil hê hierdie kragstasies moet vernuwe word om gas en ander vorms van brandstof te kan benut ten einde werkgeleenthede te beskerm.

Eskom sê egter hierdie opsie is nie finansieel lewensvatbaar nie.

Munisipaliteite

’n Gedeelte van Eskom se krag word aan munisipaliteite verkoop wat dit dan teen ’n wins aan verbruikers herverkoop.

’n Groot aantal munisipaliteite skuld egter vir Eskom miljarde rand omdat hulle nie die geld wat hulle uit kragverkope insamel, aan Eskom oorbetaal nie. Cosatu eis dat alle verbruikers regstreeks by Eskom krag moet kan koop, maar dit sal ’n broodnodige vorm van finansiering vir munisipaliteite skrap – wat beteken die hele munisipale finansieringsmodel sal verander moet word. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Pensioene  |  Elektrisiteit  |  Ipp  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Landbou  |  Voorgeskrewe Bates  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Boere  |  Cosatu  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.