Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só knap Eskom Koeberg op vir langer leeftyd
Koeberg-kragsentrale.

Eskom doen belangrike opknapwerk by Koeberg om dié kragstasie se leeftyd met nog 20 jaar te verleng.

Dié kernkragstasie se eerste reaktor is in 1984 voltooi en die tweede in 1985. Die verwagte einde van hul leeftyd van 40 jaar sal in 2024 en 2025 bereik word.

Koeberg verskaf 50% van die Wes-Kaap se krag en 5,6% van Suid-Afrika s’n.

Die Nasionale Kernkragreguleerder het verlede jaar gesê Eskom het hom ingelig dat hy Koeberg langer as 40 jaar in bedryf wil hou en het met verskeie projekte begin om dit moontlik te maak.

Die opknappingswerk word gedoen op grond van aanbevelings van die Internasionale Atoomenergie-agentskap se riglyne vir die langtermynbedryf van verouderende kernkragstasies.

As die aanbevelings nagekom word, kan Koeberg se kerninstallasie-lisensie hernu word. Soortgelyke kernkragsentrales in ander lande het goedkeuring verkry om 60 jaar in bedryf te bly en van hulle wil ook aansoek doen vir ’n verlenging van nóg 20 jaar, volgens Eskom.

Eskom se raad het glo in 2010 die plan goedgekeur om Koeberg se leeftyd tot 60 jaar te verleng.

Chris Gadomski, ’n ontleder van Bloomberg New Energy Finance, meen dit maak uit ’n koste- en tydsduuroogpunt sin om Koeberg se leeftyd te verleng as ’n mens in ag neem hoeveel probleme Suid-Afrika gaan hê om nog steenkool- en kernkragstasies te bou.

“Alles in die reaktor, met die uitsondering van die reaktor-drukhouer, sal vervang moet word om die leeftyd verby 40 jaar te verleng.”

Die kragverskaffer het aan Bloomberg gesê omdat Koeberg so goed in stand gehou is die afgelope 35 jaar, hoef net ’n “betreklike klein hoeveelheid groot onderdele vervang word”.

Die finansiering is reeds opsygesit en die opknapping gaan in fases gedoen word.

Die plan is om die ou toerusting te vervang wanneer Koeberg afgeskakel word vir die roetine-hervulling van die kernbrandstof en instandhouding wat elke 18 maande plaasvind.

Die werk, wat teen 2021 voltooi moet wees, sluit in die vervanging van die stoomopwekkers van albei reaktors.

Stoomopwekkers

Die tender vir die vervanging van dié ses stoomopwekkers (drie by elke reaktor), is in 2014 toegeken aan die Franse maatskappy Areva (wat nou Framatome heet), wat Koeberg oorspronklik gebou het, maar was tot einde 2016 betwis en het tot in die Grondwethof gaan draai.

Volgens die sewende nasionale verslag van die Nasionale Kernreguleerder, wat in Augustus 2016 uitgereik is omdat Suid-Afrika ’n party tot die konvensie oor kernveiligheid is, was die land toe die enigste ter wêreld met die ou stoomopwekkers. In die verslag is gesê die besluit om die opwekkers te vervang is geneem weens hul veroudering en omdat kundigheid oor dié soort opwekkers vinnig afneem.

In die verslag word verwys na drie groot opgraderings wat by Koeberg kom en is gesê die plan is om die projek om die stoomopwekkers te vervang in 2018 te voltooi.

In Eskom se 2017-jaarverslag is gesê die “oordoen van die smeewerk” het die leweringstyd van die stoomopwekkers met drie jaar vertraag vir die eerste eenheid en dit gaan na verwagting nou eers in 2021 plaasvind. Niks meer inligting is daaroor verskaf nie.

In die 2018-jaarverslag van Eskom is gesê gesprekke duur voort met Areva en Senpec (die Sjanghaise kernkragfirma) oor die projek om Koeberg se stoomopwekker te vervang sodat hulle kan hou by die program vir die vervaardiging van die toerusting om betyds te wees vir die reaktors wat Maart 2021 en September 2021 afgeskakel gaan word vir hervulling.

Die komponente word by verskeie aanlegte vervaardig en die meeste komponente word na Senpec in China gestuur vir die finale montering van die stoomopwekkers.

“Die lewering van die twee eenhede se stoomopwekkers word vir onderskeidelik September 2020 en Januarie 2021 beplan, betyds vir die installering tydens die afskakeling vir die hervulling,” lui Eskom se 2018-jaarverslag.

Dit is bekend uit die hofstukke oor die regsgeding oor die tender dat die vervanging van die stoomopwekkers R5 miljard gaan kos.

Luidens die Grondwethof se uitspraak is “Eskom sedert 2010 bewus van die behoefte om die stoomopwekkers te vervang”. Dit is omdat die opwekkers geneig is om te kraak. “Eskom is van mening dat al ses stoomopwekkers teen 2018 vervang moet word as ’n kernveiligheidsprioriteit,” lui ’n uitspraak van adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Wanneer die kragreaktors afgeskakel word vir hervulling, word dit om die beurt gedoen sodat een reaktor steeds krag kan opwek. Die reaktors word elke 15 tot 18 maande afgeskakel vir hervulling, instandhouding en verpligte inspeksies ingevolge wetgewing. Wanneer die reaktors afgeskakel word, word ’n derde van die gebruikte kernbrandstof deur nuwe brandstof vervang.

Watertenks

Eskom het aan Bloomberg gesê die ander opknappingswerk sluit in om die wateropgaartenks vir elke reaktor te vervang. 

In die Nasionale Kernreguleerder-verslag is gesê elke reaktor het een wateropgaartenk wat water verskaf vir die verkoeling van die reaktors in geval van ’n ongeluk. Weens die toestand waarin hulle is, het die Nasionale Kernkragreguleerder vereis dat die tenks in 2015 vervang moet word. Die NKR het Eskom begin 2011 opdrag gegee om die tenks te vervang.

Volgens Eskom is een opgaartenk reeds geïnstalleer.

Die maatskappy Lesedi, waarin Areva 51% hou, sê in ’n brosjure oor sy groot kontrakte die kontrak ter waarde van R71 miljoen moet Desember 2019 voltooi wees om twee voltooide 1 800 m²-tenks van vlekvrye staal vir Koeberg te bou in konsortium met Group Five.

Group Five het in Maart aansoek gedoen vir sakeredding.

“Die installering sluit in die dekontaminasie en verwydering van die ou tenks en die vervanging van die tenk-kamers se dakke.”

In Lesedi se brosjure word ook gesê Areva het vir die vervanging van die stoomopwekkers op die twee kernreaktors die gesamentlike onderneming tussen Lesedi en Group Five as subkontrakteurs aangestel om sekere take te verrig soos om die ou stoomopwekkers te verwyder en die nuwes te installeer. Die datum vir voltooiing word as Desember 2021 getoon en die waarde as vertroulik.

Drukvatreaktor

Volgens Eskom is die ander projek die vervanging van die drukvatreaktor se kop in Koeberg Reaktor 2. Reaktor 1 se kop is reeds voorheen vervang.

Meer oor:  Eskom  |  Elektrisiteit  |  Koeberg  |  Opwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.