Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só lyk Sasol se groenkrag-plan

Die petrochemiese groep Sasol gaan in vennootskap met Air Liquide binnekort tenders van onafhanklike kragverskaffers vra vir die verskaffing van minstens 300 MW son- en windkrag.

’n Vroeëre foto van Sasol se aanleg in Secunda, Mpumalanga. Foto: Leon Sadiki

Dit is deel van ’n omvattende hernubare-energieplan wat Sasol voor 2030 in bedryf wil stel om sy koolstofvoetspoor te verklein en krag te verskaf aan sy aanlegte by Secunda en Sasolburg en ook die suurstofaanlegte in Secunda wat Air Liquide onlangs vir R8,5 miljard by Sasol gekoop het.

Die teiken was aanvanklik 600 MW, maar Sasol het dit pas danksy die Air Liquide-transaksie met 50% verhoog tot 900 MW. Die mededingingsowerhede moet dié transaksie nog goedkeur.

Sasol hoop om die eerste 300 MW groenkrag reeds oor twee jaar in bedryf te stel.

Die groep se kragaankope sal ’n reuse-inspuiting vir die plaaslike hernubare-energiebedryf wees.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa verdere aankope beloof het en groot hoeveelhede son- en windkrag in die regering se langtermynkragplan ingesluit is, het die regering sedert 2018 geen nuwe kragkoopooreenkomste gesluit nie.

Volgens Piet van Staden, bestuurder van nutsdienste by Sasol, gebruik die groep se bedrywighede in Suid-Afrika tans sowat 1 500 MW opwekkingsvermoë. Daarvan wek hulle self 800 MW op, meestal deur steenkool- en gastegnologie. Sasol sal steeds aan die nasionale kragnetwerk gekoppel bly en Eskom-krag gebruik om die wisselvallige son- en windkrag aan te vul, sê Van Staden.

Die onafhanklike kragverskaffers sal na verwagting oor die land versprei wees na gelang van waar die beste son en wind beskikbaar is en via die kragnetwerk na Sasol se aanlegte versend word.

Hulle bly die eienaars van die aanlegte, moet self die finansiering kry en is verantwoordelik vir die ontwerp, konstruksie, bedryf en instandhouding daarvan. Sasol sal ’n 20 jaar-kragkoopooreenkoms met hulle sluit.

Sasol het die mark reeds verlede jaar getoets met ’n versoek om inligting en is oorval deur voornemende verskaffers. Volgens Engineer­ing News het sowat 100 voornemende kragverskaffers gereageer met meer as 220 potensiële projekte en ’n gesamentlike opwekkingsvermoë van meer as 7 000 MW.

Volgens Van Staden was baie van dié belangstelling deur verskaffers wat voorberei het vir die regering se aankope, maar die afgelope paar jaar bedroë gelaat is.

In Augustus verlede jaar het Sasol ook tenders gevra vir twee 10 MW-sonkragaanlegte wat krag aan die Sasolburg- en Secunda-aanlegte sal verskaf.

Latere aankope kan volgens Van Staden ook bergingstegnologie insluit.

Volgens die algemeen aanvaarbare norm van R13 miljoen tot R15 miljoen per megawatt kan Sasol se belegging in hernubare energie ’n inspuiting van tot R13,5 miljard beteken. Die groep het aangedui aanlegte moet minstens 40% plaaslike inhoud bevat.

Die energiereguleerder, Nersa, het intussen verlede week toestemming aan die myngroep Goldfields verleen vir ’n 40 MW-sonplaas wat daarop gemik is om 20% van die krag te verskaf wat sy South Deep-myn verbruik.

Private kragverskaffing sal na verwagting verder momentum kry wanneer die huidige perk van 1 MW vir vrystelling van die omvattende en duur lisensiëringsproses opgestoot word.

Meer oor:  Sasol  |  Chemikalieë  |  Hernubare Energie  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Hernubare Krag  |  Ipp's  |  Brandstof  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.