Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só word geld vir gratis krag ‘gesteel’

Uit die 10 miljoen arm huishoudings wat uit die nasionale begroting gratis krag moet ontvang, ontvang net 2 miljoen dit. Die verskil verdwyn bloot in munisipaliteite se begrotings.

Gratis krag word deur die nasionale begroting gefinansier, maar munisipaliteite steek dit bloot in hul eie sak. Foto: Getty Images

Die Public Affairs Research Institute (Pari) onthul in ’n opspraakwekkende verslag hoe die regering stelsels ingestel het wat insolvente munisipaliteite “aanspoor” om die geld wat vir gratis krag geoormerk is in hul sak te steek.

Dié miljarde rande, wat veronderstel is om armoede in die land te verlig, word dan verkwis en op vrugtelose uitgawes bestee wat tot die agteruitgang van dienslewering in amper alle plaaslike regerings bydra.

Pari het bevind dat die toelaes vir gratis basiese elektrisiteit (FBE) amper geheel en al nie bestee word om gratis krag aan arm huishoudings te verskaf nie.

Die nasionale begroting maak elke jaar voorsiening vir die finansiering aan munisipaliteite om FBE te kan verskaf aan die 10 miljoen huishoudings wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) raam hulpbehoewend is. Dit is huishoudings wat in geheel minder as R3 500 per maand verdien.

In die 2020-’21-begroting het die tesourie R11,645 miljard vir FBE aan munisipaliteite beskikbaar gestel.

Die jongste data oor hoe dié toewysing deur munisipaliteite bestee is, is egter vir die vorige boekjaar.

Pari het bevind dat uit die 10,1 miljoen huishoudings wat volgens die tesourie op FBE geregtig is, het munisipaliteite dit in die 2019-’20-boekjaar slegs aan 2,1 miljoen huishoudings verskaf.

Dit kom dus daarop neer dat 8 miljoen huishoudings deur hul plaaslike regerings in die steek gelaat word, en dat toewysings van R8,992 miljard elders bestee is.

Die bedrag word elke jaar net meer.

Die tendens oor die afgelope ses jaar is duidelik: Munisipaliteite vat elke jaar net meer en meer van die geld wat die tesourie vir FBE bewillig.

Die gemiddelde styging oor die afgelope ses jaar in die geld wat die munisipaliteite nié op FBE bestee nie, is 16% per jaar.

Pari skryf dit toe aan munisipaliteite wat hul geldsake so swak bestuur dat hulle enige skuiwergat in die beleid benut.

Die FBE-beleid skep weliswaar self ’n skuiwergat.

Indien ’n munisipaliteit nie al sy toegewese geld vir FBE wil benut nie, moet hy onder meer “met die gemeenskap konsulteer” en toestemming kry om die geld vir enige ander uitgawes te benut.

Geen meganisme bestaan om te verseker dat munisipaliteite dit wel doen nie.

Pari sê daar is geen sulke konsultasies of toestemming al aangeteken vir enige munisipaliteit wat nie sy FBE-teikens haal nie.

Die nasionale regering vee hom af aan die versuim van munisipaliteite om FBE behoorlik te bestuur, meen Pari.

Pari gaan verder en beskuldig die regering, en veral plaaslike regerings, daarvan dat hulle eintlik alles doen om te verseker dat arm mense arm bly.

Huishoudings se rol

Om vir FBE te kwalifiseer moet ’n huishouding kan bewys dat hulle inderdaad arm is. Dis ’n langdradige proses en een wat nie sentraal bepaal word nie, en elke munisipaliteit stel dus sy eie riglyne op.

Munisipaliteite het ’n aansporing om dit so moeilik as moontlik te maak vir huishoudings om te bewys dat hulle arm is sodat hulle die geld vir hulself kan hou.

Daarbenewens bepaal die nasionale regulasies dat enigiemand wat vir FBE kwalifiseer, net 50 kilowattuur (kWh) per maand gratis kan kry.

Indien ’n huishouding meer gebruik, deur byvoorbeeld ’n ekstra inkomste te genereer en dan nog koopkrag te koop, word hulle van die FBE afgesny.

Dit dien dan weer as aansporing vir gemeenskappe om “arm” te bly sodat hulle minstens 50kWh gratis kan ontvang.

“In ’n aantal studies is bevind dat dit ’n onvoldoende hoeveelheid krag vir selfs baie beskeie huishoudelike behoeftes is: EarthLife Africa (2010) het bereken dat die basiese energiebehoefte vir ’n huishouding van vyf persone tussen 320 kWh en 420 kWh per maand is, en in die winter benodig huishoudings weens verwarmingsvereistes meer,” luidens Pari se verslag.

“Selfs as ons ’n baie konserwatiewe benadering tot hul berekeninge neem en die energie wat hul model toewys aan verwarming, skoonmaak en vermaak heeltemal verwyder, bereik ons steeds ’n basiese minimum vereiste van ongeveer 250 kWh per huishouding per maand.”

Die regering sê in sy beleid dat arm huishoudings volgens sy data nie meer as 50 kWh per maand benut nie, en dus nie meer as dit nodig het nie.

“Dit is ’n verstommende argument vir ’n staat wat homself as pro-armes en pro-transformasie voorstel. Die feit dat arm huishoudings dit nie kan bekostig om meer as 50 kWh per maand te verbruik nie, word as ‘bewys’ beskou dat hulle nie meer benodig nie. Dis vergelykbaar met die verwysing na gegewens wat toon dat die armste huishoudings slegs baie klein hoeveelhede voedsame voedsel verbruik en tot die gevolgtrekking te kom dit ‘bewys’ dat hulle ’n lae vraag na voedsame kos het.”

Meer oor:  Munisipaliteite  |  Regering  |  Beleid  |  Begroting  |  Elektrisiteit  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.