Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só wil Eskom Koeberg nóg 20 jaar laat werk
’n Uitsig op Eskom se Koeberg-kernkragstasie van Melkbosstrand se kant af. Foto: Sharief Jaffer

Eskom het begin met voorbereidingswerk om die leeftyd van die Koeberg-kernkragstasie met nog 20 jaar te verleng.

Eskom wou nie sê presies hoeveel dit gaan kos nie. Dit is wel veel goedkoper om Koeberg langer aan die gang te hou as om nuwe kragstasies te bou wat hom kan vervang, het die kragmaatskappy Vrydagmiddag gesê.

Maar Eskom het nie geantwoord op die vraag of daar plek is by Koeberg vir nog 20 jaar se hoëvlak-kernafval nie. Tans word al die kernkragstasie se gebruikte kernbrandstof, wat as hoëvlak radioaktiewe afval geklassifiseer word, op die perseel self geberg. Laevlak-afval word van tyd tot tyd na die Vaalputs-fasiliteit in die Noord-Kaap vir veilige berging vervoer.

Die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) wat Suid-Afrika se energiebloudruk vir die volgende 11 jaar tot 2030 uitstippel, maak daarvoor voorsiening dat die Koeberg-kernkragstasie se leeftyd van 2024 tot 2044 verleng word.

Koeberg het in 1984 begin krag opwek en teen 2024 verstryk sy ontwerpleeftyd van 40 jaar.

Die kragstasie het ’n kragopwekkingsvermoë van 1 860 MW. Volgens die IRP2019 moet die uitbreiding van sy bedryfsleeftyd insluit om sy vermoë tot die oorspronklike ontwerpvermoë van 1 926 MW, dit wil sê ’n ekstra 66 MW, te vergroot.

Eskom verduidelik die ekstra 66 MW gaan verkry word wanneer nuwe, doeltreffender stoomopwekkers geïnstalleer word.

Om Koeberg se leeftyd te verleng, behels ’n reeks veiligheidstudies wat volgens die riglyne van die Nasionale Kernreguleerder en die portuurbeoordelingsproses van die Internasionale Atoomenergieagentskap gedoen moet word. Eskom doen tans ’n periodiese veiligheidsoorsig om te identifiseer watter aspekte by die aanleg verbeter kan word. Dit sluit in om komponente en stelsels soos die stoomopwekkers, die reaktor-drukhouers, en waterhervullingstenks te vervang, in stand te hou en aan te pas.

Die nuwe stoomopwekkers is in die finale fases van vervaardiging, het Eskom bevestig.

Op ’n vraag of die vyf jaar tot 2024 genoeg is vir Eskom om alles af te handel, sê Eskom hy is bewus van dié risiko en die ander opsies is om die sluit van ander kragstasies uit te stel of om meer op gaskragstasies of die huidige dieselkragstasies te steun totdat die werk by Koeberg afgehandel is.

Eskom steun groot op Koeberg om die nasionale kragnetwerk te help stabiliseer omdat dit betroubare en stabiele krag lewer aan die verste punt van ’n nasionale kragnetwerk waarvan die meeste kragstasies in die noorde van die land gekonsentreer is.

Dit lewer sowat die helfte van die Kaapse metropool se kragvraag.

Eskom sê die koste om Koeberg se leeftyd te verleng is in ooreenstemming met bedryfsmaatstawwe vir projekte van dieselfde omvang. Hy wil nie die gedetailleerde syfers bekend maak nie weens kommersiële vertroulikheidsklousules.

Volgens inligting op Eskom se webblad genereer ’n kernkragstasie soos Koeberg sowat 32 ton gebruikte kernbrandstof per jaar, en oor sy leeftyd van 40 jaar sal dit dus 1 280 ton beloop. Nog 20 jaar se bedryfsleeftyd bring die totaal op 1 920 ton te staan.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Kernkrag  |  Elektrisiteitsverskaffer  |  Elektrisiteit  |  Koeberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.