Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sasol: Ons gaan nie mense aflê nie

Regte-uitgifte, méér bates wat verkoop gaan word en ’n moontlike vennootskap in Amerika is van Sasol se planne om binne die volgende twee jaar $6 miljard se opbrengste te genereer.

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol, het in ’n telekonferensie gesê die maatskappy beplan nié om enige van sy eie werknemers af te lê om koste te bespaar nie. Die maatskappy sal wel waarskynlik sommige kontrakteurs se dienste beëindig.

“Ons gaan ook wêreldwyd geen nuwe aanstellings maak nie. Sekere aansporingsbonusse sal ook heroorweeg word,” sê hy.

Van die maniere hoe Sasol beplan om koste te bespaar, is om byvoorbeeld kapitaaluitgawes op IT-stelsels vir eers te staak.

Die petrochemiese groep het Dinsdagoggend sy planne op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer en namiddag ’n telekonferensie daaroor gehou.

Dit volg op ’n bloedbad op die JSE en tuimelende oliepryse wat gelyktydig Suid-Afrika se grootste maatskappy volgens inkomste swaar getref het.

Sasol se aandeelprys het op 9 Maart met 46% getuimel. Die aandeelprys het in ’n week van groot wisselvalligheid op markte in ’n stadium tot so laag as R28,67 op die JSE geval. Dit het daarna tot R51,10 herstel, maar het kort nadat sy planne bekend geword het, weer met bykans 9% vir die dag tot R40,86 gedaal.

Daar was beduidende kommer of die maatskappy te midde van ’n ontluikende likiditeitskrisis sy lenings sou kon aanhou afbetaal, veral ’n $1 miljard-lening wat in Mei betaalbaar sou word.

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, het op 13 Maart gesê Sasol het ’n jaar uitstel op dié lening bekom, en het finansiering van $2,5 miljard verseker om sy ander verantwoordelikhede na te kom.

Sasol het Dinsdag gesê hy kan in die volgende 12 tot 18 maande likiditeitruimte van meer as $1 miljard handhaaf, selfs al sou olie teen $25 per vat verhandel. Dit is selfs nog voordat die voordeel van verskansing in berekening gebring word.

Sasol het ’n verskansingsprogram teen wisselvallige oliepryse in plek.

Ruolie het Dinsdag teen $30,98 per vat verhandel.

In die verklaring op Sens sê Sasol sy planne is soos volg:

  • ’n Kontantbewaringsprogram wat fokus op die verbetering van kontantvloei en mededingendheid in ’n lae olieprysomgewing. Hy wil teen einde Junie 2021 die huidige teiken vir kontantbewaring met $2 miljard oorskry;
  • Die versnelde en uitgebreide verkoop van bates in ooreenstemming met die balansstaat, aandeelhouerswaarde en strategiese doelwitte met die mikpunt om aansienlik meer uit die verkope te verdien as die huidige mikpunt van $2 miljard;
  • Moontlike vennootskappe by Sasol se bedrywighede in Amerika; en
  • ’n Moontlike regte-uitgifte om $2 miljard in te samel.

Sasol sê benewens dié stappe is hy gereeld in gesprek met leners oor bykomende buigsaamheid oor lenings.

Sasol wil in die boekjare tot einde Junie 2020 en Junie 2021 $2 miljard se opbrengste genereer.

In die eerste jaar wil hy ongeveer $800 miljoen realiseer deur bedryfskapitaal optimaal te bestee en kapitaalbesteding te hersien; en $200 miljard deur kostebesparings.

In die daaropvolgende jaar wil hy dieselfde doen. Dan beoog hy om ongeveer $700 miljoen te realiseer deur bedryfskapitaal optimaal te bestee en kapitaalbesteding te hersien; en $300 miljard deur kostebesparings.

Bateverkope

Wat betref bateverkope gee Sasol geen aanduiding wat die “bykomende bates” is wat hy beplan om nou te verkoop nie.

Hy sê wel hy voorsien dat hy beduidend meer as net die $2 miljard sal insamel wat hy tans vir bateverkope begroot het.

Die moontlike verkryging van ’n vennoot vir sy belange in Amerika wat op basischemikalieë fokus, word hierby ingesluit.

In Amerika besit Sasol die Lake Charles-etaankraker in die deelstaat Louisiana. Dié aanleg sal na verwagting vanjaar voltooi word. Dit het Sasol nagenoeg $12,9 miljard gekos om te bou. Daar is oorspronklik $8,9 miljard vir dié projek begroot.

Grobler sê Sasol kan nie in dié stadium sê met wie gesprekke oor Lake Charles gevoer word nie.

Regte-uitgifte

Sasol oorweeg dit om $2 miljard met regte-uitgifte in te samel, maar eers ná die einde van die lopende boekjaar tot 30 Junie.

Sasol praat reeds met BofA Securities, Citigroup en J.P. Morgan Securities hieroor. ’n Vergadering sal met aandeelhouers belê word voordat dié stap gedoen word.

Sasol sê die grootte van die regte-uitgifte gaan afhang van hoe suksesvol sy ander planne is om sy opbrengste te verhoog.

Teen die huidige wisselkoers beloop $2 miljard se regte-uitgifte sowat R33 miljard. Dit is méér as Sasol se huidige markwaarde van R30,4 miljard.

Grobleer sê Sasol besef daar is kommer oor hoe goeie idee dit is om bates te verkoop terwyl die maatskappy in finansiële nood is.

“Ons het egter lank reeds die waarde van die bates vasgestel. Dit is dan ook juis hoekom ons ’n regte-uitgifte eers vir later beplan.”

Grobler sê teen dan sal Sasol weet of hy regte-uitgifte vir die volle $2 miljard soos beplan gaan uitreik, en of die bedrag laer sal wees.

Meer oor:  Sasol  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.