Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SOE kyk na nuwe bedrog by Eskom

Nuwe bedrog van R2 miljard word by Eskom ondersoek wat na bewering tot soveel as 40 skynmaatskappye en drie Eskom-amptenare betrek.

Eskom-transmissielyne wat krag van kragstasies na verbruikers gelei.

Die regering se spesiale ondersoekeenheid (SOE) werk, volgens City Press, aan ’n deel van die ondersoek, met Eskom se forensiese afdeling wat ’n konsultant aangestel het om ander dele van die ondersoek te behartig.

Die bedrog strek terug tot 2017, en Eskom kon nog nie bevestig hoeveel van die R2 miljard hy moontlik sal kan terugkry nie.

In ander gevalle het Eskom al daarin geslaag om ’n hele paar miljarde rand terug te kry waar verskaffers te veel betaal is. Die ingenieursgroep ABB het in Desember ingestem om R1,56 miljard weens korrupsie met ’n kontrak vir werk by die Kusile-kragstasie aan Eskom terug te gee.

City Press berig uit ’n voorlopige ondersoek deur die forensiese ondersoekers Seekers Finders na aanleiding van inligting van ’n interne fluitjieblaser by Eskom blyk dit dat skynmaatskappye gestig is wat dan vir werk by Eskom tender, betaling ontvang maar nooit die werk doen nie.

Die nuus volg op die skorsing verlede week van Solly Tshitangano, verkrygingshoof van Eskom, omdat hy nie die spaarteikens kon haal wat André de Ruyter, uitvoerende hoof, gestel het nie.

Andre de Ruyter
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Reuters

William Horne het verlede week berig Eskom moes in ’n stadium soveel as R28 vir ’n rol enkellaagtoiletpapier, R56 vir ’n bottel melk en R238 000 vir ’n enkele houtbesem betaal terwyl Tshitangano aan die hoof van die kragmaatskappy se aankoopproses was.

De Ruyter het ook aan News24 gesê dat R80 000 betaal is vir een gekussingde knieskerm wat by Builders Warehouse teen R80 gekoop kan word. Op sowat R140 miljard se aankope kon Eskom onder Tshitangano se leiding blykbaar nie eens 4% van die geteikende besparings behaal nie.

Die SOE se woordvoerders was nie Sondag vir kommentaar bereikbaar nie.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, het bevestig die forensiese ondersoek deur die konsultant wat Eskom aangestel het, is in sy finale stadium. Maar Eskom sal eers meer inligting bekend kan maak of aandui hoeveel van die verlore geld teruggekry kan word nadat die ondersoek afgehandel is.

Die mees onlangse proklamasie oor ’n ondersoek wat die SOE oor Eskom doen, gaan oor die verkryging van steenkool, steenkoolvervoerdienste, dieselaankope, wolkrekenaardienste, sagtewarelisensies en steundienste, en ingenieurs- en projekbestuurkonsultasiedienste.

Ingevolge dié proklamasie, wat vroeg in Januarie verlede jaar uitgereik is, ondersoek die SOE of die tenders vir bogenoemde dienste billik, deursigtig, mededingend of kostedoeltreffend was, of dit voldoen het aan wetgewing en die riglyne en voorskrifte van die nasionale tesourie en Eskom, en of Eskom-werknemers onbehoorlik daaruit voordeel getrek het.

Solly Tshitangano, hoofdirekteur vir die bestuur v
Solly Tshitangano, geskorste verkrygingshoof by Eskom. Foto: Elvira Wood

Een van die maatskappye wat City Press noem wat met Eskom sake gedoen het, is Mfondo Trading van Witbank. Volgens sy webblad het Jerry Zitha die maatskappy in 2012 gestig. Hy adverteer dat hy mynbou- en konstruksietoerusting verhuur, herstelwerk doen aan ingenieurstoerusting, asook elektriese instandhouding en installasies doen.

Eskom waarsku ook al lankal op sy webblad teen swendelaars wat hul voorgee dat hulle van Eskom is en dan kwotasies aanvra vir goedere wat in grootmaat gelewer moet word, en die kontrak is nooit minder as R1 miljoen nie. Hulle vra dan vir ’n 50%-deposito.

Ondanks Tshitangano se skorsing het die departement van openbare ondernemings vroeg in Februarie nog in die parlement gespog dat Eskom in die afgelope boekjaar R10,7 miljard se besparings teenoor ’n teiken van R7,7 miljard behaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.