Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Solidariteit: Kla met ‘wit’ brood onder die arm?
Francois Williams

Uiteraard sal hierdie meningstuk baie wit Suid-Afrikaners en Solidariteit-lede by Sasol kwaad maak, want ek glo hulle mors hul eie en Sasol se tyd met die huidige staking oor die personeel-aandeleskema wat “teen wit mense diskrimineer”.

Enersyds is Solidariteit se feite nie heeltemal akkuraat nie. Alle Sasol-werknemers wat vir die vorige Inzalo-skema gekwalifiseer het, wat ook wit werkers insluit, kwalifiseer vir ’n fase van die nuwe Khanyisa-skema waarvolgens hulle elkeen R100 000 se Sasol-aandele kry. Hulle kan die aandele in besit neem na die verloop van drie jaar.

Oor dié fase van die skema word gerieflikheidshalwe geswyg.

Swart werkers word tereg meer bevoordeel, want hulle kwalifiseer in nog ’n fase vir nog sowat R500 000 se aandeleregte wat hulle vir hoogstens tien jaar moet hou voordat dit in Sasol-aandele omskep word.

Wit werkers kla, want hulle kwalifiseer nie vir die ekstra R500 000 se aandele nie.

Maar hoe onregverdig dit opsigself ook al klink, is dit hoogs te betwyfel of Sasol in hierdie stadium vir ’n minderheid van werkers ’n uitsondering sal maak.

Dit is 2018. Radikale ekonomiese transformasie is die beleid van die regering van die land. Swart ekonomiese bemagtiging word wetlik op maatskappye afgedwing.

Sasol het nie ’n keuse as om sekere bemagtigingsteikens te haal nie.

Net soos wat Solidariteit beweer dat Sasol se rasgebaseerde aandeleskema rassepolarisasie vererger, stuur die wit protes daarteen dieselfde boodskap uit.

Hy het reeds gesukkel om sy vorige bemagtigingsaandeleskema suksesvol te struktureer en dit het die maatskappy miljoene rande gekos. Met dié een probeer Sasol beter doen en leer uit vorige foute.

Sasol het in die verlede al bloutjies geloop met die regering omdat hy te min swart topbestuurders gehad het, of te min swart verteenwoordiging op sy direksie. Die staatspensioenfonds besit via die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) 13,5% van Sasol, volgens die jongste syfers, en die staat se nywerheidsontwikkelingfinansierder, die NOK, besit 8,5%. Sasol het ’n dekade of wat gelede onder druk van die OBK, as groot aandeelhouer in hom, gekom om meer te doen vir transformasie.

Sasol het sy ontstaan in 1950 gehad as ’n staatsgesteunde onderneming, so as private maatskappy sedert 1979 het hy waarskynlik ’n soort historiese verpligting jeens die regering.

In die huidige Suid-Afrikaanse konteks is pres. Cyril Ramaphosa reg toe hy onlangs in die parlement gesê het sonder transformasie gaan daar nooit stabiliteit wees nie. Dit blyk egter daar is nog baie wit mense wat steeds blind is vir die inherente bevoorregting wat hul geniet het en steeds geniet vanweë ’n stelsel wat ander groepe op grond van hul ras uitgesluit het.

Op ’n manier het wit werkers reeds die R500 000 waaroor hulle kla op ander manier ontvang, en die toekenning aan swart werkers kan beskou word as bloot ’n poging om hulle op gelyke voet te bring.

Lede van die vakbond Solidariteit staak voor Sasol se aanleg in Secunda.

Die gekla herinner sterk aan die gelykenis in die Bybel waar Jesus vertel van die boer wat mense vroegoggend in diens geneem het om in sy wingerd te werk, en op ’n loon met hulle ooreengekom het. Toe hy die werkers wat hy laatmiddag in diens geneem het, dieselfde loon betaal, was die werkers wat heeldag geswoeg het, erg omgekrap.

Wel, om die boer se antwoord aan te pas: Sasol het seker die reg om met sy geld te doen wat hy wil, of is die wit werkers afgunstig omdat Sasol so vrygewig is?

Buitendien, met knap investering, kundigheid en finansiële geletterdheid, wat nie noodwendig almal beskore is nie, kan wit werkers nie straks hul R100 000 se Sasol-aandele binne die tien jaar laat groei tot naby aan dieselfde waarde as wat die swart werkers sal ontvang nie?

Hoewel dit op sigwaarde kan lyk soos ’n edele strewe na billike behandeling, is die persepsie van Solidariteit se optrede by Sasol in die kollektiewe gemoedstoestand in Suid-Afrika meestal dat hy die horlosie probeer terugdraai.

Net soos wat Solidariteit beweer dat Sasol se rasgebaseerde aandeleskema rassepolarisasie vererger, stuur die wit protes daarteen dieselfde boodskap uit.

  • Francois Williams is ’n senior sakeverslaggewer vir Netwerk24. Dié rubriek verteenwoordig sy eie siening.
Meer oor:  Sasol  |  Opinie  |  Meningstuk  |  Solidariteit  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.