Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Solidariteit maan oor pensioenplan vir Eskom-skuld

Die vakbond Solidariteit wil seker maak dat pensioentrekkers se geld nie gebruik word om Eskom se enorme berg skuld af te betaal nie.

Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg. Foto: Bloomberg

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê om dié rede het die vakbond Vrydag ’n aanmaning aan die direksies van die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gestuur om te verhoed dat enige pensioengeld as reddingsboei vir Eskom aangewend word.

Die OBK bestuur die oorgrote meerderheid van die GEPF se geld.

“As belanghebbendes van die GEPF sal ons nie huiwer om die individuele lede van die genoemde direksies persoonlik aanspreeklik te hou indien Eskom-effekte in ekwiteit omgeskakel word nie,” sê hy in ’n verklaring.

Eskom se skuldlas beloop sowat R480 miljard.

“Elke direksielid het verskeie vertrouenspligte waaraan voldoen moet word, en hulle kan derhalwe aanspreeklik gehou word indien die pensioenfonds weens hul nalatigheid skade ly.”

Solidariteit meen dat die voorstel om skuld wat die GEPF in Eskom hou, in aandele om te skakel, weinig voordeel vir enige pensioenfondslede inhou en dat dit die volhoubaarheid van die fonds op lang termyn in die gedrang kan bring.

“Dat die OBK so onverantwoordelik met sy lede se pensioengeld sou omgaan, is verregaande. Solidariteit sal nie skroom om verdere regsaksie teen die GEPF en die OBK in te stel nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste.

“Dit is net ’n ander manier om gewone mense se aftreegeld sonder hul toestemming te gebruik om ’n sukkelende staatsonderneming te finansier. Ons sal alles in ons vermoë doen om hierdie gewetenlose uitbuiting stop te sit. Die mandaat van die GEPF en die OBK is om in die beste belang van die lede van die pensioenfonds op te tree, en dit is nie in die beste belang van lede van die GEPF om Eskom-skuld te verruil vir aandele wat geen opbrengs gaan lewer nie.”

Volgens Solidariteit tree die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings-en-arbeidsraad (Nedlac) hoogs onverantwoordelik op deur besluite oor die pensioengeld van staatsdienswerkers te neem.

“Nedlac se sogenaamde sosiale kompak waarin vakbonde, sakelui en politici hulself verbeel dat hulle die reg het om te beslis oor hoe ander mense se pensioene belê moet word, is gewoon absurd. Hulle moet hulself liewers weerhou van enige voorskrifte in hierdie verband, en die OBK moet sy pligte ingevolge die Maatskappywet nakom en hierdie onbehoorlike beïnvloeding in die kiem smoor,” sê Hermann.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, het ook vroeër in Desember teen die plan uitgevaar. Hy het toe gesê die plan is nie lewensvatbaar nie en die belanghebbendes sal dit mettertyd agterkom.

LEES OOK: Nedlac se Eskom-plan is ‘gevaarlik’, ‘gaan nie werk’

Die voorstel om Eskom-effekte in ekwiteit om te skakel, kom al lank. Dr. Reuel Khoza, voorsitter van die OBK, het in Mei in ’n onderhoud met die nuusdiens eNCA gesê dat die OBK toe reeds ’n voorstel ingedien het om van sy Eskom-effekte in ekwiteit om te skakel.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatsdienspensioene (Amagp) het ook voorheen gewaarsku dat só ’n stap onwettig sal wees.

Uit Khoza se onderhoud met eNCA het dit geblyk dat die OBK toe net minder as R200 miljard se effekte by só ’n transaksie kan insluit.

Meer oor:  Solidariteit  |  Gepf  |  Nedlac  |  Eskom  |  Obk  |  Staatspensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.