Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Solidariteit sê oor beoogde regstappe teen Molefe
Brian Molefe

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag gesê hy gaan Donderdag op ’n mediakonferensie sy regstappe bekend maak rakende die terugbetaling van Brian Molefe se pensioenuitbetaling van R30 miljoen nadat hy as uitvoerende hoof van Eskom uitgetree het.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Molefe moet strafregtelik aanspreeklik gehou word.

Omvattende inligting uit notules en dokumentasie oor Molefe se bedanking ná die openbare beskermer se verslag oor staatskaping, sy skielike vroeë aftrede, sy inswering as parlementslid, sy herindiensneming by Eskom en sy daaropvolgende afdanking sal op die mediakonferensie bespreek word.

Van der Bijl voer aan Molefe se aanvanklike vroeë aftrede en daaropvolgende pensioenuitbetaling het nie regmatig of binne die raamwerk van Eskom se pensioenfondsreëls geskied nie. Molefe is kwytgeskeld van alle boetes wat vir vroeë aftrede geld en bykomende voordele gelykstaande aan 13 jaar se diens is vir hom verseker.

“Deur ons regstappe eis ons dat alle pensioenuitbetalings en -voordele wat aan Molefe toegestaan is, terugbetaal word.”

By die ondersoek na bewerings van staatskaping by Eskom Dinsdag in die parlement het Venete Klein, ’n voormalige nie-uitvoerende direkteur van Eskom, gesê Molefe het baie gedoen om Eskom reg te ruk, en sy het nie enige rede om te glo dat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, ongeskik vir haar taak is nie.

Klein, ’n ervare bankier, het in antwoord op vrae van parlementslede gesê sy dink nie die direksie het agteroor gebuig om Molefe tegemoet te kom wat betref sy pensioenuitbetaling nie.

Volgens Klein was Molefe die eerste uitvoerende hoof wat Eskom op ’n vyfjaarkontrak aangestel het.

Sy het wel toegegee daar was te veel verskillende uitvoerende hoofde by Eskom in ’n relatief kort tydperk – met sewe verskillende hoofde in vyf jaar.

Sy het toegegee dit was sleg vir Eskom se reputasie om ’n hewig geredigeerde weergawe van die Denton-verslag op ’n mediakonferensie bekend te maak, pleks van die volledige verslag.

Sy het erken te veel besluite by Eskom is na laer vlakke gedelegeer, wat beteken die direksie weet nie presies wat binne die maatskappy besluit word nie, en dit moet hersien word. Dit is na aanleiding van die omstrede goedkeuring van kontrakte soos vir die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey.

Klein sê as ’n beroepsbankier sal sy nooit weer by ’n staatsonderneming gaan werk nie. “Dit is om jou loopbaan te vernietig.”

Sy het gesê sy het nooit enige versoeke van die Guptas gekry nie. Oor die staatskapingsverslag van die openbare beskermer het Klein gesê Eskom kon nie die verslag onder hersiening neem nie, want daar was geen bevindings nie. Sy meen wel ’n deeglike ondersoek moet gedoen word.

Steve Swart, ACDP-lid van die portefeuljekomitee van openbare ondernemings, het egter aan haar uitgewys dat die staatskapingsverslag uitdruklik noem dat Eskom se hantering van onder meer die Tegeta-transaksie ’n ernstige oortreding van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies is.

Meer oor:  Solidariteit  |  Eskom  |  Brian Molefe  |  Venete Klein  |  Pensioen  |  Staatskaping  |  Regstappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.