Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Solidariteit staak dalk gou landwyd oor ras

Solidariteit bring eersdaags ’n hofaansoek waardeur die vakbond die reg wil bekom vir al sy lede landwyd by enige onderneming om in solidariteit met Sasol-werknemers aan ’n beskermde staking deel te neem.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Argief

Dié aansoek word in die hooggeregshof in Pretoria gebring ingevolge art. 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat handel oor werkers se reg om te staak om maatskaplik-ekonomiese belange te bevorder of verdedig. Dit is dus ’n breër gronde vir ’n staking as net salarisverhogings of dispute by ’n spesifieke onderneming.

Solidariteit se lede by Sasol het verlede week gestaak oor die groep se nuwe Khanyisa-aandeleskema vir swart werknemers.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die saak raak nou groter as net Sasol-lede. “Dit raak al 180 000 ons lede in verskeie groot bedrywe in Suid-Afrika.”

Dis nog nie seker wanneer die staking aangehoor word nie, maar kan so gou as Donderdag wees. Solidariteit het nog nie ’n dag vir die staking geïdentifiseer nie omdat die vakbond vir die hofuitspraak wag.

Hermann het Maandag ’n ope brief aan Bongani Nqwababa en Stephen Cornell, gesamentlike uitvoerende hoofde, geskryf die “stem van u werkers kla u moreel aan”.

Hy beskryf verlede week se staking teen rasse-uitsluiting as ’n “historiese gebeurtenis”.

“Internasionale uitsaaiers en nuusagentskappe soos die BBC, AFP, Russia Today, Fox News, Reuters, Bloomberg en talle ander het die stem van die werkers die wêreld ingedra. Dit was 'n stem wat vir 'n lang ruk nie gehoor was nie.

“Die wêreld het die frustrasie van u werkers raakgesien; niemand kan dit meer ignoreer nie. Dit is 'n werklikheid. Die vraag is of u dit raaksien.”

Hermann skryf ook: “Die stem van die wit werkers is 'n stem vir balans. Dit is nie 'n stem teen die herstel van wanbalans nie, maar vir die herstel van balans.

Om in 'n skema wat wanbalanse van die verlede moet regstel 'n eenvoudige rassebenadering te volg wat wit werkers uitsluit, is 'n lui benadering.
Dr. Dirk Hermann van Solidariteit

“Indien Sasol se antwoord op uitsluiting van die verlede 'n simplistiese uitsluiting in die toekoms is, plaas dit Suid-Afrika op 'n wankelrige morele basis vir die toekoms.

“Om in 'n skema wat wanbalanse van die verlede moet regstel 'n eenvoudige rassebenadering te volg wat wit werkers uitsluit, is 'n lui benadering.”

Hy vervolg later: “Wit werkers se reg op waardigheid en gelykheid moet ook beskerm word, anders bou ons presies dit wat herstel moet word in 'n nuwe stelsel in.”

Die ope brief verwys weer na Solidariteit se siening dat Sasol se skema die Verenigde Nasies se riglyne vir regstellende aksie oortree. Die riglyne sluit in dat nie nét ras as maatstaf gebruik mag word nie, en dat rassekwotas verbied word.

“Growwe rasseklassifikasie lei tot absurde resultate,” sê Hermann. “Een van ons lede wat sy been verloor het en dus as gestremde deel van die aangewese groep is, wou by Sasol weet of hy deel van Khanyisa kan wees. Sasol antwoord klinies en hard daarop dat hy nie daaraan kan deelneem nie, want hy is wit.

“ 'n Indiër-lid van Solidariteit wat met 'n wit vrou getroud is, is woedend want hoewel hý deel is van Khanyisa, bepaal die skema dat 'n wit persoon (dus sy vrou) nie Khanyisa-aandele mag erf nie.

“ 'n Wit lid van Solidariteit wat al 30 jaar by Sasol werk kry geen aandele nie, maar 'n swart werknemer van Sasol wat maar nog net drie weke lank daar werk, ontvang aandeelwaarde van R500 000.”

Hermann sê dit het op Donderdag 6 September, dieselfde dag as wat werkers gestaak het, aan die lig gekom dat Sasol R106 miljoen se aandele-opsies aan sy topbestuurspan toegeken het. “U albei is bevoordeeldes daarvan en u ontvang meer as R20 miljoen se aandeelopsies elk. Mnr. Cornell, u en die ander wit uitvoerende direkteure is daarby ingesluit, al is u wit.

“Die grondwetlike plig van transformasie en historiese regverdiging van rasse-uitsluiting geld nie op top- uitvoerende vlak nie. U argument is waarskynlik dat u dit verdien. Die morele vraag is wel hoekom u nie aan uself doen wat u aan u werkers doen nie.”

Hermann beskuldig Sasol daarvan dat die firma Khanyisa ingestel het nie om morele gronde nie, maar bloot kommersiële gronde – om punte op ’n bemagtigingstelkaart te behaal.

Meer oor:  Khanyisa  |  Sasol  |  Dirk Hermann  |  Diskriminasie  |  Solidariteit  |  Bemagtigingskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.