Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Solidariteit werk aan plan vir eie kragopwekking
Windturbines word opgerig by die Kangnas-windplaas naby Springbok in die Noord-Kaap. Bouwerk het in Junie 2018 begin en die windplaas van 61 turbines sal 140 MW lewer wanneer dit teen einde vanjaar in bedryf kom. Foto: SAWEA

Die Solidariteit Beweging werk aktief aan maniere om eie kragopwekking vir gemeenskappe en sakeondernemings te versnel en te vergemaklik.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede Donderdagaand aangekondig het die lisensieaansoeke vir kragprojekte van 1 MW en meer by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal voortaan binne die voorgeskrewe 120 dae verwerk word.

Daar sal ook nie meer ’n perk wees op die grootte van kragprojekte vir eie kragopwekking nie.

Verder sal munisipaliteite wat finansieel gesond is, toegelaat word om elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente te koop. Tot nou toe was hulle verplig om hul elektrisiteit net van Eskom te koop.

Werner Human, adjunkregshoof van Solidariteit, sê die beweging is intensief besig om saam met konsultante en sy regspan te ondersoek wat die regs- en praktiese struikelblokke is wat keer dat mense vinniger hul eie krag kan opwek.

Solidariteit sal mettertyd ’n belangrike aankondiging hieroor kan maak, het Human beloof.

Volgens hom het die beweging baie goeie kontak met plaaslike gemeenskappe en sakenetwerke, en die mikpunt is om ’n model uit te werk wat dit makliker sal maak vir gemeenskappe en sakeondernemings om voordeel te trek uit wat Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het.

Human meen hoewel Ramaphosa ’n stap in die regte rigting gegee het, gaan hy nie ver genoeg nie. Navorsing wys daar is ’n groeiende tendens in Amerika en elders in die wêreld waar gemeenskappe eienaarskap neem van hul kragopwekking en dan mikro-kragnetwerke en gemeenskapskragnetwerke skep.

Dit is die onafwendbare toekoms vir die elektrisiteitsbedryf.

“Die enigste oplossing is die demonopolisering van Eskom,” sê Human.

Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea) het Ramaphosa se verbintenis tot die regering se groenkragaankoopprogram verwelkom. Sawea vra wel vir meer duidelikheid oor die tydskaal van die program om seker te maak die momentum gaan nie verlore nie, het Ntombifuthu Ntuli, uitvoerende hoof van Sawea, Vrydag in ’n verklaring gesê.

“Ons wag nou vir die beloofde ministeriële bepaling en ’n duidelike tydskaal om groter groenkragopwekking aan die gang te skop.”

Ntombifuthi Ntuli, hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging. Foto: SAWEA

Daarna moet die bedryf wag vir ’n versoek om voorstelle vir die vyfde bodvenster van die groenkragprogram, die aankondiging van voorkeurbieërs, en die tydperk vir finansiële sluiting (wat sowat 12 maande duur) voordat kragkoopkontrakte gesluit kan word. Dan eers kan bouwerk begin en kan nuwe projekte daarna binne 18 tot 24 maande krag lewer.

Ntuli is ook bly die regering het geluister na Sawea se voorstel om die perk op die lewering van krag van bestaande windplase te lig.

Munisipaliteite wat voortaan hul eie krag van onafhanklike kragprodusente sal mag koop, gaan ook die spelreëls verander. Ntuli stem saam met Human dat ’n skuif weg van ’n gesentraliseerde monopolie na ’n doeltreffender gedesentraliseerde kragopwekkingsmodel mededinging sal verbeter en kragpryse sal afdruk.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, is egter bekommerd dat dit lyk of Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, nie met Ramaphosa saamstem nie. Kort ná die staatsrede het Mantashe glo in mediaonderhoude gesê hy kan nie sê wanneer die vyfde bodvenster geopen sal word nie. Dit beteken volgens Mileham dat Ramaphosa se belofte leeg is. Mantashe het volgens Mileham ook reeds die ondertekening van die nodige ministeriële bepalings wat nodig is vir nuwe kragtenders, voortdurend uitgestel.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Solidariteit  |  Kragvoorsiening  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.