Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
S&P: Wie gaan betaal vir Eskom se skuld?
beurtkrag
Eskom se Lethabo-kragstasie in die Vrystaat. Foto: William Horne

Die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s verwag nie dat Eskom binne die volgende 18 maande ’n wanbetaler op sy skuld sal word nie, maar die vraag is wie gaan betaal daarvoor? Belastingbetalers of kragverbruikers?

En hoe gaan dit die bevolking se steun vir die regering raak? Só het Omega Collocott, direkteur vir korporatiewe graderings by Standard & Poor’s Global Ratings, Donderdagmiddag gesê.

Eskom het ’n korporatiewe kredietgradering van CCC+, het Collocott in ’n aanlyn paneelbespreking gesê. Dit is in Februarie 2018 afgegradeer van B-.

En dít het gevolg op ’n afgradering in Desember 2016 tot BB- nadat Suid-Afrika ook afgegradeer is.

Collocott sê Eskom het in 2014 nog ’n BBB-gradering gehad, maar sedert 2015 het sy likiditeitsposisie aansienlik begin versleg.

Sy glo die regering se steun aan Eskom is steeds nie voldoende en betyds nie, gegewe die kwesbaarheid van sy geldsake.

Ná die regering se steunpakket van R23 miljard per jaar wat aangekondig is in die begroting, glo S&P die staatsteun is steeds nie voldoende nie, hoewel dit duidelik is die regering gee nou meer aandag aan Eskom se geldkrisis.

Eskom se kapitaalstruktuur is steeds onvolhoubaar.

S&P verwag nie juis groei vir Suid-Afrika vir die volle jaar nie, en moontlik negatiewe groei, hoewel sy huidige verwagte groeikoers vir die jaar 1% is.

Groot begrotingstekorte word vir die volgende drie jaar verwag, met ’n stygende skuldlas, sê Rhavi Bhatia, direkteur en hoofontleder van soewereine graderings by S&P Global Ratings.

Met die verkiesing wat verby is, is die vraag of pres. Cyril Ramaphosa se hervormings wel ekonomiese groei sal laat herleef.

Dit gaan moontlik nie genoeg wees nie, meen Bhatia.

Hy meen sektore soos toerisme en inligtingstegnologie kan dalk help om Suid-Afrika se ekonomie weer aan die groei te kry. Maar die stram arbeidsmark en die houvas van vakbonde is ’n remskoen.

Hy verwag die Reserwebank kan rentekoerse dalk in Julie verlaag om die ekonomie aan te help.

Skuldlas

S&P verwag die regering gaan Eskom bloot net-net aan die lewe hou met geldoordragte so elke nou en dan, sê Bhatia.

Die regering is traag om Eskom se skuldlas oor te neem want die staatskas het sy eie skulduitdagings. Collocott sê daar is nog ’n groot gebrek aan inligting oor presies hoe die nasionale tesourie die R23 miljard per jaar aan Eskom gaan oordra, en hoe Eskom se omdraaiplan deur die nuwe parlement aanvaar sal word.

Sy meen die regering kan Eskom steun deur te sorg vir ’n kostedoeltreffende kragtarief. Die manier om ’n reddingspakket vir Eskom te gee met die minste pyn is om soos Bhatia sê om Eskom met geld te help soos en wanneer dit noodsaaklik word - “ die goeie ou fiskale oordrag”, sê Collocott.

Die bedrag van R23 miljard vir hierdie jaar is nie genoeg om Eskom op te gradeer na die B-kategorie nie.

Eskom behoort vir langer as ses maande vooruit te weet waar sy finansiering vandaan gaan kom, maar dié tydperk was die afgelope maande enigiets van agt maande tot enkele dae, sê sy.

Eskom dek omtrent net sy rente terugbetalings, maar nie sy kapitaalbesteding of hoofskuldterugbetalings nie. Die geld daarvoor kan slegs kom van staatshulp, inflasieverwante koste verteenwoordigende kragtariewe, en groter doeltreffendheid, meen Collocott.

Oor die jongste woelinge rondom die Reserwebank meen Bhatia die vraag is hoe ’n gekarring aan sy mandaat of onafhanklikheid die bank se rentekoersbeleid gaan raak. Hy sê dis nie uniek aan Suid-Afrika dat by sentrale banke ingemeng word nie.

  • In ’n peiling onder die gaste van die aanlyn paneel het 80% van deelnemers nie verwag dat Eskom se sake oor die volgende paar jaar sal verbeter nie.
Meer oor:  Standard & Poor’S  |  Eskom  |  Skuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.