Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Speen huis net gedeeltelik van Eskom-krag’
Will van der Leij, tegnologiehoof van Energy Partners, demonstreer die slimfoon-app waarmee huishoudings hul kragverbruik kan dophou, met die battery en omsetter op die agtergrond.Foto: Energy Partners

Dis beter en goedkoper om jou huis net gedeeltelik van Eskom-krag te speen as om heeltemal onafhanklik tuis elektrisiteit op te wek, meen die mense van Energy Partners, ’n verskaffer van alternatiewe kragstelsels waarin die beleggingsgroep PSG ’n belang het.

Cala van der Westhuizen, woordvoerder van Energy Partners Home Solutions, sê hoewel alternatiewe kragoplossings ál meer bekostigbaar word, is dit nog te duur om ’n huis heeltemal uit hernubare bronne krag te gee. Dit vereis ’n groot stelsel om krag op te wek en te stoor, veral in die winter wanneer daar heelwat minder sonlig is. ’n Relatief kleiner stelsel van 3 kilowatt kan tot 50% van ’n huis se krag lewer, maar koste styg skerp sodra ’n stelsel beoog word om 70% of meer van ’n huis se kragvraag te lewer, sê Van der Westhuizen.

Hy sê hoewel daar tans ’n breë afname in verkope van alternatiewe kragstelsels is weens waarskynlik die finansiële druk waaronder verbruikers verkeer, asook die afwesigheid van beurtkrag, het navrae en verkope van Energy Partners se stelsels in die Wes-Kaap gegroei.

Energy Partners verwag tuiskragstelsels sal in die volgende paar jaar meer toeganklik raak vir middelklas- tot laerinkomstegroepe. “Tegnologie en prosesse verbeter toenemend. Namate kragkoste styg, dwing dit mense om slimmer te dink oor hoe hulle maandeliks bestee en probeer hulle uitgawes verminder deur in tuiskragstelsels te belê.”

Elektrisiteitspryse sal oor die volgende agt jaar met meer as inflasie styg, word verwag. Konserwatiewe ramings verwag ’n jaarlikse styging van tussen 6% en 8%, en dit kan tot 13% styg as koolstofbelastings afgedwing word. Dit kan selfs hoër wees as ’n mens die 300%-styging oor die afgelope drie jaar as maatstaf neem.

Van der Westhuizen sê die eerste stap is om die swaarste kraggebruikers in ’n huis met doeltreffender oplossings te vervang. Geisers verbruik in talle huise soveel as die helfte van al die elektrisiteit of meer. Hittepompe en songeisers kan dit verlaag. In die winter of op stormagtige dae kry die tipiese Suid-Afrikaanse huis egter net sowat ’n derde van die sonlig as in die somer, en ’n verbinding aan die kragnetwerk is dus belangrik. Volgens Van der Westhuizen kan hul stelsel ’n kragrekening met tot 70% verlaag en kan die koste van ’n tuiskragstelsel in vyf jaar gedek word.

PSG Private Equity het ’n 57,1%-belang in Energy Partners, wat in 2008 gestig is. Energy Partners het in April sy tuiskragstelsel begin bemark, wat ’n stel sonpanele, ’n battery en omsetter, ’n groot warmwatersilinder en ’n hittepomp insluit.

’n Fotovoltaïese sonpaneelstelsel wat onlangs deur Energy Partners geïnstalleer is. Foto: Energy Partners
Die houers waarin Energy Partners se battery en omsetter gehuisves word. Foto: Energy Partners
Voorbeelde van die ekstra groot warmwatersilinder (links) en hittepomp wat Energy Partners installeer as deel van sy tuiskragstelsel. Foto: Energy Partners

Meer oor:  Eskom  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.