Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Spertye skuif aan vir Eskom-verdeling

Die verdeling van Eskom in drie afsonderlike entiteite is minstens nege maande vertraag vergeleke met die aanvanklike spertye wat die departement van openbare ondernemings vir hom gestel het.

A metal sculpture stands outside the headquarters
Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Getty Images

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, se aanbieding aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings wys die verdeling van Eskom in drie afdelings sal nou eers teen Maart 2022 klaar wees, teenoor die oorspronklike mikpunt van tussen Desember vanjaar en Junie volgende jaar.

“Ons gaan nie gedwonge afleggings doen nie,” het De Ruyter geantwoord op vrae van parlementslede oor of die herstrukturering tot personeelvermindering gaan lei.

Eskom kon deur natuurlike uitvloei soos bedankings en uittrede sy personeelgetalle van 48 600 in 2018 tot 44 400 teen einde Maart vanjaar afbring, het hy gesê.

Daar is wel 184 vrywillige skeidingspakkette toegestaan, maar dit is streng beheer om skaars en kritieke vaardighede te behou.

Vars direksie op pad

Die herstrukturering en verdeling van Eskom is ’n baie ingewikkelde proses, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aan die komitee toegegee.

Hy meen wel Eskom is op die regte pad en hy is beïndruk deur die vordering wat Eskom tot dusver kon maak en omdat Eskom die Covid-19-inperking goed kon benut om instandhoudingswerk in te haal.

Gordhan gee toe Eskom se direksie is effens uitgedun, en die regering beoog om die direksie te verfris deur nuwe bloed en ervaring in te bring.

Beurtkrag

Danksy die bykomende instandhoudingswerk is die risiko van beurtkrag dié winter van 31 dae tot 3 dae van fase 1-beurtkrag verlaag. As beurtkrag wel toeslaan, sal dit boonop net tydens die aandspitstyd van 17:00 tot 20:00 nodig wees, het De Ruyter belowe. Die risiko van beurtkrag sal wel nog tot Augustus 2021 bestaan wanneer die instandhouding na verwagting afgehandel sal wees.

Bheki Nxumalo, hoof van kragopwekking by Eskom, sê Eskom is gereed vir die winter en werk al aan sy somerplan, veral wat die invloed van die reënseisoen betref.

Volgens Nxumalo is daar sover ’n 80%-kans dat die land dié winter beurtkrag van fase 2 en 3 sal vryspring.

Verdeling

Eskom het volgens De Ruyter al besturende direkteure vir elk van die drie afdelings – kragopwekking, transmissie en verspreiding – aangestel. Dit is nie nuwe aanstellings nie, maar is bestaande bestuurders en hulle het nie salarisverhogings vir hul nuwe poste gekry nie, het hy beklemtoon.

Die skep van ’n markoperateur en ’n sentrale aankoopagentskap is op koers en sal help om die private sektor se deelname aan die kragmark te vergemaklik.

Op die ou end sal die drie afdelings as filiale onder Eskom Beherend wees. De Ruyter gee toe van die tydlyne vir die herstrukturering was aggressief.

Altesaam 8 890 werknemers is as deel van die verdeling verskuif: 6 459 van sentrale funksies na afdelings en 2 431 personeellede tussen afdelings.

Skuldlas

Gordhan het erken die regering het nog nie ’n oplossing vir Eskom se reuse-skuldlas van meer as R450 miljard nie. “As die Covid-situasie eers onder beheer is, sal ons daarop fokus.”

De Ruyter sê Eskom sal nie in die lopende boekjaar vir nog ’n reddingsboei van die staat vra nie, want hy besef die staatskas is nou onder erge druk weens die Covid-19-pandemie.

Meer oor:  Zesa  |  Eskom  |  André De Ruyter  |  Herstrukturering  |  Staatsondernemings  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.