Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Spring met kragplan of 30% van myne vou’

Meer as 30% van Suid-Afrikaanse mynbouprojekte kan tot stilstand gedwing word weens ekstra kragkoste as daar nie binne die volgende 12 maande gepaste oplossings gevind word nie, waarsku Ted Blom, vennoot van Energy & Mining Advisors.

Ted Blom, konsultant van Mining & Energy Advisors.

Dit kom nadat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, verlede week by die Mynbou-indaba gesê het mynmaatskappye sal toegelaat word om hul eie krag op te wek.

Die meeste myne in die res van Afrika sorg vir hul eie krag, maar dit verhoog die kapitaal wat nodig is om ’n mynbouprojek te ontwikkel en te bedryf, sê Blom.

Die groot verskil is dat die voorsiening van eie krag reeds in die beplanning van daardie projekte ingesluit is, terwyl Suid-Afrikaanse mynprojekte nog nooit die koste van eie krag moes inreken nie.

Die hele Suid-Afrikaanse mynbousektor is gebou op die beskikbaarheid van goedkoop elektrisiteit. Maar die omgewing het drasties verander en die meeste ondernemings, insluitende mynboumaatskappye en smelters, het dit nie verwag nie.
Ted Blom, energiekonsultant

“Die hele Suid-Afrikaanse mynbousektor is gebou op die beskikbaarheid van goedkoop elektrisiteit. Maar die omgewing het drasties verander en die meeste ondernemings, insluitende mynboumaatskappye en smelters, het dit nie verwag nie.

Dis net in die afgelope twee jaar dat die sakesektor die nuwe werklikheid begin besef het, maar niemand het hul sakemodelle hersien om die nuwe elektrisiteitswerklikheid in te reken nie,” het Blom in ’n onderhoud met die organiseerders van die Africa Utility Week gesê. Dié konferensie in Mei in Kaapstad bring duisende mense in die kragsektor byeen.

Volgens Blom is Mantashe se aankondiging dat mynboumaatskappye toegelaat sal word om hul eie krag op te wek, nie veel van ’n toegewing nie, maar eerder ’n erkenning dat die regering heeltemal misluk het om Eskom volhoubaar te bestuur.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Deon Raath

Die nodige regulasies moet so gou moontlik van krag gemaak word om dit moontlik te maak, want voortdurende beurtkrag sal die mynbousektor se bydrae tot die BBP met enigiets van 25% tot 75% laat krimp op ’n tydstip waarin die land dit glad nie kan bekostig nie.

Blom meen dinge het al sedert 2001 by Eskom begin skeefloop. Daar was al in 2006 tekens van korrupsie. Die uiteindelike gevolg is die permanente uitwissing van die droom van die nyweraar Johannes van der Bijl, die dryfkrag agter die stigting van Eskom, van goedkoop en genoeg elektrisiteit as aandrywer van Suider-Afrika se ontwikkeling, sê Blom.

Oor De Ruyter

Oor die aanstelling van André de Ruyter as nuwe uitvoerende hoof meen Blom dat De Ruyter waarskynlik sy aanstelling veel uitdagender en veeleisender sal vind as wat hy ooit verwag het. Hy sit met ’n reusagtige taak met bykans onoorkomelike probleme.

“Maar as De Ruyter by Eskom misluk, vermoed ek Suid-Afrika sal ’n volledig mislukte staat word, iets wat te erg is om in te dink. Ek bid dat die politieke inmenging nou tot ’n einde sal kom, maar my ergste vrese is dat dit net erger kan word.

“Die meeste mense het Eskom oor die afgelope 60 jaar as vanselfsprekend aanvaar, en dit is hoe dit veronderstel was om te bly – as ’n wêreldklas nutsmaatskappy wat goedkoop en genoeg krag lewer om die ekonomie tot voordeel van alle inwoners te laat groei.

As De Ruyter by Eskom misluk, vermoed ek Suid-Afrika sal ’n volledig mislukte staat word, iets wat te erg is om in te dink.
Ted Blom, energiekonsultant

“Goedkoop en oorvloedige krag het Suid-Afrika ’n Eerstewêreld-ekonomie gemaak. Die vernietiging van Eskom deur die regerende party en sy roof-elemente sal Suid-Afrika tot in die Derde Wêreld dryf as ons nie Eskom tot sy eertydse glorie laat herleef en die verrotting stop nie.”

Volgens Blom is die voorstel van die regering van ’n bykomende staatsbeheerde kragopwekker nie heeltemal eerlik nie. Die hele kragvoorsieningsbedryf moet geherstruktureer word. Daar moenie net ligweg aan die buitekante getorring word nie.

“Die bedryf moet geliberaliseer word gegewe dat Eskom al sedert 2007 die sakesektor en huishoudings met onbekostigbare tariewe wurg.”

Meer oor:  Eskom  |  Ted Blom  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Elektrisiteit  |  Mynbou-Indaba  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.