Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Staat gaan nié Sasol se vulstasies koop
Sasol oorweeg dit glad nie om sy vulstasies te verkoop nie. Foto: Verskaf

Die Sentrale Energiefonds (SEF) oorweeg dit nié om van Sasol se vulstasies te koop nie.

Die SEF, wat aan die staat behoort, het Dinsdagaand in ’n verklaring dié bewering ontken.

Dit volg nadat Business Day Maandag berig het dat dit wel die geval is.

Die dagblad het die SEF en die raad vir geowetenskap se terugvoer aan die parlement se portefeuljekomitee vir minerale bronne en energie op 12 Mei aangehaal, waar daar staan “die SEF is in gesprek met Sasol om bates soos vulstasies te koop. Die SEF beplan nie om nuwe vulstasies te bou nie.”

Die SEF sê nou hy “het met kommer kennis geneem van ’n mediaberig in ’n dagblad getiteld: “Central Energy Fund in talks to buy Sasol’s petrol stations”.

Hy beskryf die berig as “kwaadwillig en neig na sensasionele verslaggewing”.

Luidens die verklaring het dr. Monde Mnyande, voorsitter van die SEF, die komitee ingelig dat die SEF ’n veldtog sal begin om direkte binnelandse en buitelandse beleggings in die energiewaardeketting in Suid-Afrika te bevorder.

“ ’n Deel van dié veldtog is om voordeel te trek uit alle beskikbare energiebates wat in die mark te koop is en strategiese vennootskappe te skep,” lui die verklaring.

Die SEF wys daarop dat Mnyande wel na die beskikbare bates van Sasol verwys.

Dit stel ook dat dit algemene kennis is dat Sasol dit oorweeg om van sy bates te verkoop.

Luidens die SEF is daar na dié bates verwys as ’n voorbeeld van bates waarin beleggers sou belangstel.

“In geen stadium het die SEF se direksie of sy voorsitter in die openbaar aangekondig dat hy met Sasol onderhandel om sy vulstasies te koop nie.”

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, ontken ook dié gerugte.

“Terwyl Sasol besig is om geleenthede in hierdie verband (die verkoop van sekere van sy bates) te hersien, is dit belangrik om daarop te let dat ons toegewyd bly tot ons strategie, wat die groei van ons teenwoordigheid in brandstofkleinhandel in Suid-Afrika insluit,” sê Victor Dinsdag in ’n verklaring.

Hy wys daarop dat Sasol 410 vulstasies besit. Dit verteenwoordig 11% van die gereguleerde kleinhandelmark vir brandstof.

Victor sê dat in plaas daarvan om sy vulstasies te verkoop, oorweeg Sasol eerder om óf meer vulstasies self te bou óf om bestaande vulstasies te koop en na die Sasol-handelsmerk te verander.

“Hoewel ons gereeld deur belangstellendes genader word om óf ons vulstasies te koop óf om vennootskappe met ons te skep, is ons nie in gesprek met sulke partye nie,” sê hy.

Meer oor:  Sentrale Energiefonds  |  Sasol  |  Petrol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.