Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Staat se kragplan ‘nog nie groen genoeg nie’

Al maak die regering voorsiening vir net 1 000 MW se nuwe steenkoolkrag in sy nuwe kragplan tot 2030, en al beoog Eskom om teen 2030 12 600 MW se ou steenkoolkragstasies te sluit, is omgewingsgroepe steeds nie tevrede nie.

“Die konsep van ‘skoon en goedkoop steenkool’ maak nie logies sin nie en word aan die publiek verkoop as ’n politikus se pypdroom,” sê Glen Tyler, spanleier van die klimaatsverandering-aksiegroep 350.org in reaksie op die bekendmaking van die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP), die regering se bloudruk vir kraglewering oor die volgende 12 jaar.

Die sluit van 12 600 MW se steenkoolkragstasies teen 2030 sal teen 2050 tot 34 400 MW toeneem, en die Koeberg-kernkragstasie van 1 800 MW sal teen 2047 die einde van sy gebruiksleeftyd bereik, blyk dit uit die IRP wat nou vir 60 dae se openbare kommentaar gepubliseer is.

Die plan is Maandag vir kommentaar bekend gestel en maak voorsiening vir sterk groei in gas- en groenkrag, ’n stelselmatige vermindering van steenkoolkrag, en geen nuwe kernkrag.

Die brand van steenkool dra tot katastrofiese klimaatsverandering by en deur nuwe steenkoolkrag in die plan in te sluit sal Suid-Afrika se finansiële instellings regstreeks bydra tot die skadelike gevolge vir mense en die omgewing, sê Tyler.

“Die besteding van belastingbetalersgeld aan tegnologie uit die vorige eeu is irrasioneel en ondermyn die planne in die Wetsontwerp oor Klimaatsverandering.”

Die regering moet die IRP wysig sodat dit inpas by klimaatwetenskap en die land se eie klimaatveranderingsbeleid, sê Tyler.

Die sluit van 12 600 MW se steenkoolkragstasies teen 2030 sal teen 2050 tot 34 400 MW toeneem, en die Koeberg-kernkragstasie van 1 800 MW sal teen 2047 die einde van sy gebruiksleeftyd bereik, blyk dit uit die IRP wat nou vir 60 dae se openbare kommentaar gepubliseer is.

Boonop is die 1 000 MW se ekstra nuwe steenkoolkrag in werklikheid projekte wat reeds goedgekeur is en wat teen 2023 en 2024 voltooi moet wees, blyk uit ’n voorlegging Maandag deur Jeff Radebe, minister van energie.

Steenkoolkragstasies sal teen 2030 steeds meer as 65% van Suid-Afrika se kragvolumes lewer, maar dit sal teen 2040 tot minder as 30% daal en teen 2050 tot minder as 20%, blyk uit die IRP-dokument.

Die IRP se scenario-studies wys die reeds goedgekeurde groenkragprojekte (insluitende die 27 projekte wat vroeër vanjaar in die vierde ronde van die regering se groenkragprogram met Eskom kontrakte gesluit het) en die voltooiing van Medupi en Kusile (twee Eskom-steenkoolkragstasies waarvan die laaste eenheid teen 2022 klaar sal wees) sal meer as genoeg kragvermoë tot 2025 lewer.

Die grootte van en spoed waarteen nuwe kragstasies gebou word sal ingeperk moet word weens laer kragvraag, volgens die IRP.

Daar sal jaarliks net 1 000 MW se nuwe sonkrag en 1 600 MW se nuwe windkrag gebou mag word tot 2030. Kragvraag neem jaarliks af weens onder meer ’n trae ekonomie, hoër pryse, die sluit of skuif van energie-intensiewe aluminiumsmelters, al meer ondernemings wat sonkrag gebruik om deels hul eie krag op te wek, tegnologiese verbeterings in doeltreffendheid, huishoudings wat songeisers installeer om hul kragrekeninge te sny, en huishoudings wat vloeibare petroleumgas vir kook en verhitting gebruik.

Vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar was die jaarlikse kragvraag sowat 30% minder as wat in die vorige IRP geprojekteer was. Kragverkope is nou op dieselfde vlakke as 11 jaar gelede.

Die IRP kyk na kraglewering tot 2050, maar Radebe sê deeglike studies is nodig om die kragplan tot 2050 te verfyn. Dit sluit in die sosio-ekonomiese impak op gemeenskappe waar ou steenkoolkragstasies moet sluit, ’n ontleding van presies waar die gas vandaan gaan kom vir nuwe gaskragstasies, ’n ontleding oor hoeveel groenkrag die nasionale kragnetwerk tegnies kan hanteer, en ’n ontleding van ander skoonenergie-opsies insluitende hidrokrag, kernkrag en “skoon steenkool”.

Meer oor:  Eskom  |  Jeff Radebe  |  Krag  |  Groenkrag  |  Departement Van Energie  |  Irp  |  Elektrisiteit  |  Steenkool  |  Klimaatsverandering  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.