Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Staat se oliebaas ‘kry miljoene in bankrekening’

Minstens R1,3 miljoen se betalings is van Oktober 2015 tot Februarie 2016 van kitsbanke na die bankrekening van Sibusiso Gamede, destyds waarnemende hoof van die Strategiese Brandstoffonds (SFF), gemaak.

Sibusiso Gamede, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van die Strategiese Brandstoffonds.

Dit was deel van R20 miljoen wat oor die tydperk in sy regsfirma se trustrekeninge en sy persoonlike bankrekening inbetaal is.

Gamede het in daardie stadium met ’n paar oliehandelaars onderhandel om Suid-Afrika se strategiese olievoorraad van tien miljoen vate te verkoop.

Dit het Maandag geblyk uit die argumente van adv. Terry Motau, wat namens die staat optree in die hofsaak wat die Sentrale Energiefonds (SEF), beheergroep van die SFF, teen die oliehandelaars gemaak het. Die SEF probeer die transaksie omkeer en die olie terugkry.

Tina Joemat-Pettersson, ANC-parlementslid wat destyds minister van energie was, word ook by die saak betrek omdat sy volgens Motau die verkeerde prosesse gevolg het. Die olie is destyds teen ’n veel laer prys as markprys verkoop, en boonop sonder die behoorlike goedkeuring van die nasionale tesourie en sonder die korrekte tenderprosedures.

Motau het in die hooggeregshof in Kaapstad aan regter Owen Rogers gesê dit is duidelik dat die oliehandelaar Vitol vooraf spesiale inligting gekry het oor die SFF se tender om die olie te verkoop.

Motau het verskeie bedrae van duisende rande genoem wat by kitsbanke oorbetaal is in Gamede se bankrekening. Hy wou die bron en redes vir die betalings vir eers nie regstreeks verbind met enige van die oliehandelaars wat uiteindelik die bod gewen het om die olie te koop nie, en het gesê die Valke se ondersoek oor dié betalings sal meer daaroor blootlê.

Daar kan nie ’n debat wees oor die onwettigheid van die transaksie nie, het Motau Maandag aangevoer.

Saldanha, SFF
’n Lugfoto van die Strategiese Brandstoffonds se olietenkplaas by Saldanha. Dit is waar Suid-Afrika se strategiese olievoorraad gehou is, hoewel die meeste van die tenks aan private oliehandelaars uitverhuur word. Foto: SFF

Op 30 September 2015 het Gamede boonop ’n rekening gestuur vir konsultasiedienste gelewer. Dit was terwyl hy reeds ’n heeltydse werknemer by die SFF was en hy nie goedkeuring gehad het om dienste te lewer buite sy werk by die SFF nie.

Oor spesifikasies wat aan Vitol gestuur is om op kommentaar te lewer nog voordat die tender toegeken is, het Motau aangehaal uit die hofsaak tussen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en die maatskappy Swifambo waar spesifikasies vir ’n tender ook so aangepas is om ten gunste van ’n sekere tenderaar te wees. Die hooggeregshof het in daardie geval beslis dat die tenderproses korrup was juis omdat die spesifikasies doelbewus aangepas is om die gekose tenderaar te pas.

Motau het voorgelees uit ’n e-posboodskap van ’n amptenaar van Vitol aan Gamede, en aangevoer dis duidelik die spesifikasies vir die tender is aangepas om ten gunste van Vitol te wees, wat ander mededingers sou uitsluit.

Vitol voer aan hulle is onskuldig en het in goeder trou opgetree en geen voorkeurbehandeling van die SFF ontvang nie. Vitol het ’n kleiner hoeveelheid laegraadse olie gekoop as wat hy aanvanklik wou koop, het die groep aangevoer as bewys dat hy nie bevoordeel is nie.

Die saak duur tot Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.