Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
SFF se trae optrede ná verkoop van strategiese olie gekap

Die direksie van die Strategiese Brandstoffonds (SFF) het al in Februarie 2016 geweet daar was groot fout met die transaksie waarin Suid-Afrika se strategiese olievoorraad van tien miljoen vate in Desember 2015 aan oliehandelaars verkoop is.

Die Strategiese Brandstoffonds het in Desember 2015 sowat 10 miljoen van sy strategiese voorraad vate ru-olie verkoop. Foto ter illustrasie: Reuters

Maar eers ná mediaberigte in Mei 2016 het Tina Joemat-Pettersson, destydse minister van energie, belowe die transaksie sal wetlik hersien word.

Die hersiening is eers in Desember 2016 afgehandel en eers in September 2017 – nege maande later – is die betrokke oliehandelaars wat die olie gekoop het amptelik ingelig dat die transaksie ongeldig was en dat die staat aansoek gaan doen om dit onwettig te verklaar.

Die drie kopers van die olie is ingelig, maar Contango, ’n maatskappy wat finansiering verleen het aan een van die kopers, Taleveras Petroleum Trading, is nooit ingesluit in die kommunikasie nie.

Só het adv. Gilbert Marcus namens Contango Dinsdag in ’n aanlyn sitting van die hooggeregshof in Kaapstad aangevoer. Die staat se vertragings en die onkonsekwentheid waarmee met die onderskeie partye oor die transaksie gekommunikeer is het aansienlike finansiële verliese vir Contango beteken, het hy aangevoer.

Daar was byvoorbeeld op 10 Junie 2016 ’n vergadering in Genève, Switserland, tussen verteenwoordigers van Contango en Sibusiso Gamede, destyds waarnemende uitvoerende hoof van die SFF, asook Lucky Mayaphi, toe hoofbestuurder van die SFF, waar hulle Contango verseker het die mediaberigte oor die olietransaksies is suiwer spekulasie en is deur politieke wedywering aangedryf en dat die transaksies alles wettig gedoen is.

Selfs toe Contango in Januarie 2017 die SFF se olie-opgaargeriewe by Saldanha besoek het, is hy die versekering gegee dat Contango besitreg het op die vier miljoen vate olie wat Taleveras gekoop het en Contango gefinansier het.

Volgens Marcus lyk dit asof die SFF al die blaam vir die onwettige transaksie op Gamede plaas, wat in Julie 2016 bedank het. Maar ander SFF-amptenare was ook betrokke by die transaksies, voer hy aan.

Die SFF het van Julie 2016 tot Januarie 2017 steeds stoorgeld vir die olie ingevorder, en meer as $12 miljoen se stoorgeld is betaal.

Contango en Taleveras is op hul eie in ’n dispuut met mekaar gewikkel oor die finansiering en eienaarskap van die olie, en oor wie watter bedrae van die SFF mag eis as skadevergoeding. Taleveras het sy vier miljoen vate olie vir $112 miljoen by die SFF gekoop.

Sibusiso Gamede, waarnemende voormalige hoof van die Strategiese Brandstoffonds.

Dit is vir hom as buitestander merkwaardig dat jy olie op dieselfde dag vir $112 miljoen koop en vir $180 miljoen verkoop, en steeds wins van $22 miljoen maak nadat stoorkoste, ’n verskansingspremie en tesouriekoste afgetrek is, het regter Owen Rogers gesê. Hy het ook opgemerk dat as die olieprys tans laer was as wat dit was toe die transaksies gedoen is, sou die SFF waarskynlik nie gekla het nie, want dit sou goedkoper wees om bloot nuwe olie te koop.

Adv. Kameshni Pillay wat namens die Organisasie teen Belastingmisbruik as vriend van die hof tot die saak toegetree het, het gesê die oliehandelaars sê almal hulle is onskuldig en is benadeel deur die staat se vertraging. Maar sy meen die vertraging word effe versag weens die tekens van twyfelagtige gedrag deur die handelaars self. Dit is deels ’n verwysing na bedrae wat aan Gamede betaal is deur ene Mulaudzi, ’n direkteur van Taleveras.

Adv. Leon Kusche het namens Taleveras egter aangevoer daar is geen bewyse dat Taleveras enige betalings in Gamede se trustrekening gemaak het nie. Mulaudzi se betalings aan Gamede was vir ander regswerk wat hy vir hom gedoen het en het niks te doen met die olietransaksie nie.

Terwyl Taleveras net die koopprys, stoorgeld en rente vir die olie van die SFF terugeis, eis die oliehandelaar Vitol ook ander koste van die SFF soos $18 miljoen vir verskansingskoste plus rente, $7,9 miljoen vir kapitaalkoste plus rente, en $957 370 vir versekering en kredietbriewe plus rente.

Glencore eis op sy beurt $282,9 miljoen as die totale verliese wat hy gely het, en eis dat die staat sy regskoste moet betaal. Die staat is net bereid om die totale koopprys van $280,8 miljoen plus rente aan die handelaars terug te gee in ruil vir die olie.

Meer oor:  Sff  |  Sentrale Brandstoffonds  |  Contango  |  Vitol  |  Glencore  |  Taleveras  |  Sibusiso Gamede  |  Brandstof  |  Oliereserwes  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.