Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Staatsbates ‘nie in gedrang’ weens Chinese lenings

Die wanbetaling van lenings wat staatsbeheerde maatskappye van Chinese banke gekry het, sal nie daartoe lei dat noodsaaklike staatsbates in Chinese hande beland nie, sê Transnet en Eskom.

Eskom het ’n kontantinspuiting van R33,2 miljoen van die Chinese Ontwikkelingsbank gekry. Foto: Bloomberg

Transnet het ’n lening van R4 miljard van die Chinese bank ICBC (Industrial and Commercial Bank of China) gekry en Eskom het ’n kontantinspuiting van R33,2 miljoen van die Chinese Ontwikkelingsbank gekry.

Albei lenings is agter ’n sluier van geheimhouding en opposisiepartye het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag in die nasionale raad van provinsies indringend uitgevra oor die rentekoerse waarop met die Chinese banke ooreengekom is en of staatsbates as sekuriteit aangebied is.

Popo Molefe, voorsitter van Transnet, het by navraag aan Netwerk24 gesê Transnet-bates is nie as sekuriteit aangebied indien die skuldverpligtinge nie ten volle nagekom word nie.

“Bates is nie as bykomende sekuriteit aangebied nie, geen waarborge is gegee nie en ons sal nie deur die rentekoers benadeel word nie,” sê hy.

Hy wou egter nie uitwei oor die rentekoers waarop ooreengekom is nie omdat hy sê dit Transnet se vermoë kan belemmer om in die toekoms finansiering te kry.

“Al wat ek kan sê, is dat die ooreenkoms nie in konflik met Suid-Afrika se belange is nie,” sê hy.

Transnet se lening is oor vyf en ’n half jaar betaalbaar en sal vir algemene korporatiewe gebruik aangewend word.

Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, sê “mense maak die fout om te dink wat in Suid-Afrika gebeur, is wat in ander lande gebeur. Daar is geen rede tot paniek nie. Geen bates van Eskom is deel van die ooreenkoms nie en die lening is deur die staat gewaarborg.”

Hy wou ook weens kommersiële redes nie die rentekoers op die lening bekend maak nie.

“Dit is vergelykbaar met die rentekoerse wat ons op vorige lenings betaal wat ons aangegaan het. Dit is ’n redelik goeie rentekoers,” sê hy.

Eskom se lening is oor 15 jaar betaalbaar en sal gebruik word om die Kusile-kragsentrale in Mpumalanga te voltooi.

Portia Adams, woordvoerder van Mmusi Maimane, DA-leier, sê die party het aansoek gedoen ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) dat Transnet en Eskom albei al die bepalings en voorwaardes van hul Chinese lenings bekend maak.

“Ons het nog nie ’n antwoord gekry oor of dit ten volle openbaar gemaak gaan word nie.”

Dr. David Monyae, politieke ontleder en mededirekteur van die Universiteit van Johannesburg se Confucius-instituut, sê Suid-Afrika sal nie in die skuldstrik trap waarin ander Afrika-lande met China getrap het nie.

“Eskom is ’n hoogs ontwikkelde staatsonderneming. Hy is massief op die vasteland en kan baie meer volwasse onderhandel. Daar is ook niks nuut aan Suid-Afrika se betrekkinge met China nie,” sê hy.

Meer oor:  Transnet  |  Icbc  |  Eskom  |  Popo Molefe  |  China  |  Finansiering  |  Brics  |  Effekte  |  Paia  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.