Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Staatsrede: Wat Cyril oor Eskom kan sê

Eskom sal waarskynlik in ’n ingefaseerde twee-stap-benadering opgedeel word in drie afsonderlike staatsbeheerde entiteite om die vrese van vakbonde oor werkverliese en privatisering te besweer.

Chris Yelland van EE Publishers.

Pres. Cyril Ramaphosa sal dit na verwagting Donderdagaand in sy staatsrede kan aankondig.

Die energie-ontleder Chris Yelland van EE Publishers skryf in ’n artikel op sy webblad dat daar ’n dringende behoefte aan groot veranderings by die sukkelende Eskom bestaan.

Ramaphosa moet terselfdertyd die weerstand en teenstand teen die herstrukturering van Eskom bestuur, want die vakbonde beskou die ANC se voorstelle om Eskom in drie te verdeel as die eerste stap na privatisering en grootskaalse werkverliese.

Die DA, kommentators van die Vryemarkstigting en talle ekonome verwys gereeld na die studie deur die Wêreldbank wat toon dat Eskom se personeelgetalle met soveel as ’n derde gesny behoort te word.

Eskom is ’n tydbom wat die hele staat bedreig en sy bestuur het geen plan om dit te red nie.
Matthew Parks van Cosatu

Ramaphosa het in Desember ’n taakspan van onafhanklike adviseurs aangestel wat ’n nuwe struktuur en sakemodel vir Eskom voorgestel het.

Prof. Anton Eberhard, een van die adviseurs, is onder dié wat lank reeds aanbeveel dat Eskom in ’n kragopwekkingsmaatskappy, ’n netwerkoperateur en ’n kragverspreider verdeel behoort te word. Dit was reeds deel van die amptelike regeringsbeleid in die witskrif oor energie in 1998, wat nooit in werking gestel is nie.

Eskom het self in Desember aangedui dat sy eie omdraaiplan dit insluit dat die drie bedrywighede – kragopwekking, transmissie en verspreiding – vir rekeningkundige doeleindes omhein word.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het in die nasionale energiereguleerder (Nersa) se openbare sittings oor Eskom se jongste tariefaansoek dié voorstel herhaal, want hy wil hê dat elke eenheid op sy eie bene kan staan en winsgewend kan wees.

Maar volgens Yelland is die taakspan se voorstelle, wat breë steun van die ANC in Januarie gekry het, meer dringend en drasties – naamlik dat Eskom in drie onafhanklike staatsbeheerde regsentiteite verdeel word.

Die vakbonde NUM en Numsa het dadelik die voorstelle gekritiseer en dreig met ’n landwye staking in die verkiesingsweek later vanjaar.

Volgens Yelland dink baie waarnemers die eerste prioriteit sou wees om eers ’n onafhanklike transmissie- en kragmarkoperateur te vorm wat nie-diskriminerende toegang tot die kragnetwerk verseker en die speelveld vir alle kragopwekkers gelyk maak.

Die kragopwekkingsdeel van Eskom kan dan later in onafhanklike kragmaatskappye ontbondel word. Net so kan die verspreidingsmaatskappy oor tydsaam met munisipale kragverspreiders herstruktureer word om ’n paar finansieel sterk en lewensvatbare streekverspreiders te vorm wat die hele land dek.

Drasties of in fases?

Die vraag is wat die beste benadering is: ’n Dapper stap om Eskom dadelik te ontbondel in drie onafhanklike staatsentiteite, of om eers die drie wetlike entiteite as filiale binne Eskom Holdings te skep, of ’n ingefaseerde benadering deur Eskom Transmissie eers as ’n filiaal binne Eskom Holdings te skep terwyl kragopwekking en verspreiding steeds binne Eskom bly.

Sommige meen die laaste opsie sal ’n halfhartige en bedeesde poging wees waarmee Ramaphosa waarskynlik die vakbonde kan paai dat daar geen werkverliese sal wees nie, sê Yelland.

Dit kan ’n jaar of langer duur om ’n ingefaseerde benadering te volg om ’n netwerkoperateur te vestig wat werklik onafhanklik van Eskom is.

Dit kan ’n jaar of langer duur om ’n ingefaseerde benadering te volg om ’n netwerkoperateur te vestig wat werklik onafhanklik van Eskom is, en Yelland vra of dit gegewe die Eskom-krisis en die risiko’s vir die ekonomie realisties en toepaslik is.

Ander meen weer die ingefaseerde benadering sal meer pragmaties wees. Die proses kan beter bestuur word, en dit kan prakties en vinnig gebeur sonder nuwe wetgewing wat nodig is.

Wetgewing

Die DA werk egter aan ’n nuwe wetsontwerp oor ’n onafhanklike stelsel- en markoperateur (die sogenaamde Ismo-wetsontwerp) wat die afsonderlike transmissiemaatskappy moontlik sal maak. Dit is ’n herlewing van die regering se eie Ismo-wetsontwerp wat in dooiepunte verval het en nooit van die grond af kon kom nie.

Yelland hoop die ingefaseerde opsie kan ’n duidelike en voldoende sein aan die kapitaalmarkte stuur dat die regering ernstig is om Eskom en die kragvoorsieningsbedryf op ’n nuwe en volhoubare pad te plaas.

Cosatu

Matthew Parks, die vakverbond Cosatu se parlementêre koördineerder, hoop ook dat Ramaphosa in sy staatsrede met ’n duidelike plan sal kom om Eskom te red. “Dit is ’n tydbom wat die hele staat bedreig en sy bestuur het geen plan om dit te red nie. Elektrisiteit is die brandstof vir die ekonomie, maar Eskom se enigste plan is bloot om elektrisiteit onbekostigbaar te maak vir verbruikers, die nywerheid en ons buurstate. . . Dit lyk of die staat van plan is om Eskom bloot te laat ineenstort, duisende werkers af te lê en dit te privatiseer.”

Effekte

Dit blyk die kapitaalmarkte verwag goeie nuus van Ramaphosa oor Eskom, want Bloomberg berig dat Eskom-effekte tans gewild onder beleggers is. Hulle verwag dat Ramaphosa benewens ’n regrukplan ook vir Eskom ’n kapitaalinspuiting kan aankondig.

Eskom verwag ’n verlies van R20 miljard in die lopende boekjaar – die grootste verlies nog by ’n staatsonderneming nadat PetroSA in 2015 ’n verlies van R14,5 miljard gely het.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Phakamani Hadebe  |  Cyrial Ramaphosa  |  Chris Yelland  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.