Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Stadig met uitsluit van steenkool’

Regstelling

Die berig het vroeër gelees dat Deshnee Govender die uitvoerende hoof van Vedanta se sinkmynbedrywighede is. Dit moet wees Deshnee Naidoo.


Die mynboubedryf in Suid-Afrika is nog lank nie gereed om sonder steenkoolaangedrewe elektrisiteit klaar te kom nie, sê die Mineraleraad van Suid-Afrika.

’n Argieffoto van kragdrade by Secunda in die Limpopo-provinsie. Mynboumaatskappy het die afgelope week gesê die bedryf sal vir geruime tyd nog afhanklik wees van steenkool-aangedrewe elektrisiteit. Foto: Deon Raath

Suid-Afrika se kragkrisis, die impak van klimaatsverandering en die noodsaaklikheid van volhoubare, omgewingsvriendelike mynboupraktyke het die botoon gevoer op vanjaar se Mynbou-indaba wat die afgelope week in Kaapstad plaasgevind het.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het in sy openingsrede gesê Suid-Afrika se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) maak voorsiening daarvoor dat steenkool ’n al hoe kleiner rol sal speel en dat dit teen 2030 60% of minder van Suid-Afrika se energiesamestelling sal uitmaak.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika, wat die vernaamste mynboumaatskappye in die land verteenwoordig, het later op ’n mediakonferensie benadruk dat die wegbeweeg van steenkool geleidelik sal moet wees aangesien dié soort kragsentrales noodsaaklik is vir basiskrag – ’n betroubare energiebron wat voortdurend elektrisiteit kan voorsien.

Herwinbare energie, soos son- en windkrag, kan nog nie in hierdie stadium dié soort sekerheid bied vir energie-intensiewe gebruikers soos mynboumaatskappye nie.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad, sê die organisasie is ten gunste van ’n “billike oorgang” van steenkool na skoner, meer omgewingsvriendelike energie. “Daar is tegniese, maatskaplike en ekonomiese redes vir ’n geleidelike en nie ’n onmiddellike wegbeweeg van steenkool nie.”

Daar is reeds miljarde rande bestee aan Suid-Afrika se twee nuwe kragsentrales Medupi en Kusile en dit sal ekonomies verlammend wees om hulle bloot toe te maak.

Henk Langenhoven, hoofekonoom van die Mineraleraad, het later in ’n paneelbespreking oor die toekoms van mynwese in Suid-Afrika en elders gesê as Medupi en Kusile nie benut word nie, sal dit wees soos om “twee karre in die garage te hê en dan nog ’n nuwe een te moet koop”.

“Die belangrikste ding is dat ons nou energiesekerheid moet hê,” sê hy.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Die feit dat die dae van steenkool nog lank nie getel is nie, kom te midde van toenemende druk wat beleggers op mynboumaatskappye uitoefen om hul koolstofspoor te verminder. Wêreldwyd dring beleggers daarop aan dat die maatskappye waarin hulle belê voldoen aan die sogenaamde omgewings-, maatskaplike en goeie bestuursvereistes (ESG-verantwoordelikhede).

Dit is egter nie so eenvoudig vir maatskappye om blootstelling aan steenkool te verminder nie, sê Tycho Möncks, besturende direkteur en vennoot by die Boston Consulting Group.

“Ja, herwinbare energie is wonderlik, maar dit verg groot beleggings in vermoë ten opsigte van die nasionale kragnetwerk,” sê hy. “Tesame met herwinbare energie moet daar genoegsame energiebergingsvermoë wees wat beteken vir die afsienbare toekoms is dit onrealisties om geheel en al staat te maak op herwinbare energie.”

Möncks sê in Duitsland, sy geboorteplek, het dit 15 tot 20 jaar geneem om weg te beweeg van steenkool-aangedrewe krag.

Nog ’n aspek wat op die indaba bespreek is, is die nalatenskap van mynboumaatskappye op die gemeenskappe waar gemyn word, soos die impak op die omgewing en die maatskaplike gevolge nadat ’n myn sluit.

Deshnee Naidoo, uitvoerende hoof van Vedanta se sinkmynbedrywighede, sê rehabilitasie en restourasie moet deel wees van mynboupraktyke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.