Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Standard Bank, waar is jou groen gewete?’

As Standard Bank verantwoordelik was en regtig begaan was oor ontwikkeling in Afrika, sou hy dit nie eens oorweeg het om betrokke te raak by ’n omstrede ruoliepypleiding wat van Uganda tot Tanzanië sal strek nie, sê ’n omgewingsgroep.

Die klimaataktivistegroep Extinction Rebellion betoog Vrydag voor Standard Bank se hoofkantoor in Johannesburg. Die groep is ontsteld oor dié bank se betrokkenheid by ’n ruoliepypleiding in Oos-Afrika wat die natuur en waterbronne kan bedreig. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Omgewingsaktiviste sê die pypleiding sal lei tot die ontheemding van duisende mense en dit sal die omgewing, biodiversiteit en watervoorsiening in Uganda, Tanzanië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Kenia skade berokken.

Hulle voer ook aan die voltooide pypleiding sal klimaatsverandering aanvuur deurdat dit meer as 34 miljoen ton koolstof-uitlaatgasse sal genereer.

Standard Bank is by die projek betrokke as finansiële adviseur saam met die Sumitomo Mitsui Bank in Japan en die Chinese handelsbank. Die bank het nog nie ’n finale besluit geneem oor of hy hom aan die projek sal onttrek nie, maar het onderneem hy sal die impak op die omgewing in ag neem, sowel as kommersiële en ekonomiese oorwegings.

Altesame 263 gemeenskaps- en nieregeringsorganisasies van oor die wêreld heen het in ’n ope brief by Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank, gepleit om sy steun vir die projek te onttrek.

Die brief, wat op 1 Maart aan Tshabalala gestuur is, lui onder meer: “Ons is baie bekommerd oor die bank se potensiële deelname aan die finansiering van $2,5 miljard vir die projek.”

Die ondertekenaars eis ’n antwoord teen 26 Maart.

Die klimaataktivistegroep Extinction Rebellion betoog Vrydag voor Standard Bank se hoofkantoor in Johannesburg Die groep is ontsteld oor dié bank se betrokkenheid by ’n ruolie-pypleiding in Oos-Afrika wat die natuur en waterbronne kan bedreig.Foto: ELIZABETH SEJAKE

“As Standard Bank hom ag as ’n verantwoordelike maatskappy wat begaan is oor ontwikkeling in Afrika sal hy in die eerste plek nie eens daaraan dink om so ’n skadelike projek te steun nie,” het Robyn Hugo, direkteur van klimaatsbetrekkinge by Just Share, aan Rapport gesê. Just Share is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat hom toespits op aandeelhouer-aktivisme en daardeur maatskappye en hul direksies verantwoordbaar hou vir sakebesluite wat negatiewe gevolge vir die omgewing en gemeenskappe inhou.

Die beoogde Oos-Afrika-ruoliepypleiding (Eacop) van 1 445 km sal strek van Hoima in Uganda tot die Tanga-hawe in Tanzanië. Dit sal die langste ruoliepypleiding ter wêreld wees.

Total en China se National Offshore Oil Corporation sal verantwoordelik wees vir die konstruksie daarvan.

Volgens Just Share en ander se navorsing sal byna ’n derde van die pypleiding deur die Victoriameer loop. Sowat 40 miljoen mense is afhanklik van die meer as ’n waterbron. Die pypleiding sal oor 200 riviere en duisende plase sowel as natuurbewaringsgebiede strek.

Standard Bank het benadruk hy streef verantwoordelike beleggingsbeginsels (die ESG-verantwoordelikhede ten opsigte van die omgewing, bestuur en gemeenskappe) na. “Ons sal daardeur gelei word, asook ons interne finansieringsbeleid (vir projekte wat verband hou met fossielbrandstowwe en steenkoolmynbou).”

Standard Bank het op sy jaarvergadering in Junie 2020 ’n bloutjie geloop toe sy direksie nie aandeelhouers se vrae oor sy finansiering van olie- en gasprojekte bevredigend kon antwoord nie. Die bank het in sy finansiële verslagdoening aangevoer 86% van sy finansiering tussen 2012 en 2019 was vir herwinbare-energieprojekte.

“Dit is misleidend,” sê Hugo.

Die syfer sluit nie die bank se finansiering van fossielbrandstof-bedrywighede in nie.

“Standard Bank se lenings aan fossielgasprojekte is veel hoër en dit verdwerg sy lenings aan herwinbare energie.”

Die bank het Donderdag met die bekendmaking van sy jaarresultate tot 31 Desember gesê sy korporatiewe en beleggingsbankdienste fokus onder meer op kliënte in die olie- en gassektor.

’n Klimaataktivis gooi Vrydag olie op ’n landmerk voor Standard Bank se hoofkantoor in Johannesburg. Die groep Extinction Rebellion het daar betoog weens die bank se betrokkenheid by ’n ruolie-pypleiding in Oos-Afrika wat waterbronne en die natuur kan bedreig. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Meer oor:  Standard Bank  |  Infrastruktuur  |  Finansiering  |  Aktiviste  |  Omgewing  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.