Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Stede wat eie krag koop, ‘sal Eskom knou’

Munisipaliteite se reg om nou regstreeks van onafhanklike kragprodusente elektrisiteit aan te koop, gaan beteken dat Eskom inkomste gaan verloor.

Maar dit gaan ook die koste opjaag vir sy oorblywende kliënte.

Munisipaliteite sal nie meer net afhanklik van Eskom wees vir hul kragverskaffing nie. Foto: Getty Images

Só waarsku Eskom in ’n voorlegging Woensdag voor die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor openbare ondernemings.

Die kragverskaffer het verslag gedoen oor die vordering met sy verdeling in drie afsonderlike entiteite – kragopwekking, transmissie en distribusie – soos in verlede jaar se staatsrede aangekondig.

Daar is ’n beleidskuif weg van ’n vertikaal geïntegreerde kragmonopolie wat alle aspekte van kraglewering beheer en van ’n enkele nasionale aankoper van krag, het Eskom verduidelik. Benewens munisipaliteite wat toegelaat word om nou krag van onafhanklike opwekkers te koop, is daar ’n toename in ondernemings en huishoudings wat hul eie krag opwek en ’n toename in ondernemings wat ook regstreeks krag van ’n onafhanklike opwekker koop.

Die impak van dié beleidsveranderings moet deeglik begryp word, ongeag of Eskom in drie verdeel of nie.

In watter vorm Eskom ook al voortbestaan, sal die beleidskuiwe beteken dat hy inkomste verloor. Munisipaliteite en ander kragverbruikers sal nou elektrisiteit goedkoper elders koop, maar nog vir die afsienbare toekoms op Eskom steun vir rugsteunkrag ingeval die onafhanklike kragprodusent nie beskikbaar is nie, sê Eskom-amptenare. Maar terwyl dit Eskom iets kos om dié diens te lewer, is die huidige Eskom-tariewe só gestruktureer dat munisipaliteite en ander dit kan vermy om vir dié dienste te betaal. Die oorblywende klante van Eskom sal egter dan moet opdok.

Eskom wil die impak daarvan dus versag deur kragverbruikers te laat betaal om elektrisiteit via sy netwerk te ontvang.

Die beleidsveranderings en die vestiging van ’n afsonderlike transmissienetwerk-operateur moenie in isolasie gehanteer word nie. ’n Markraamwerk is nodig om ’n betroubare en doeltreffende kragmark te skep met die nodige prysseine om ’n gelyke speelveld vir verbruikers en mededingende kragopwekkers te skep, sê Eskom.

Hy meen dus die tariefstrukture sal hervorm moet word sodat vaste koste om die transmissienetwerk in stand en betroubaar te hou, verhaal kan word van die mense wat die netwerk gebruik.

Volgens Eskom kos die ontbondeling tot dusver al R2,7 miljoen, en die totale geraamde koste is R500 miljoen.

Tot 42% van die koste is vir inligtingstegnologie, wat insluit stelselveranderings en -konfigurasies, die oordrag van data en die skep van stelsels vir die drie nuwe entiteite.

Tot 26% van die koste is vir nuwe onderhandelings met internasionale en plaaslike banke by wie Eskom lenings het, en die veranderings aan leningskontrakte waar nodig. Dan is 22% van die koste nodig om die nuwe entiteite te vestig, wat veranderings van kontrakte en die oordrag van eiendom en servitute insluit. Die oorblywende koste is regs- en ouditsteun.

Meer oor:  Kragvoorsiening  |  Munisipaliteite  |  Elektrisiteit  |  Opwekking  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.