Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Steeds g’n plan vir Eskom-ontknoping

Ses maande nadat die president in sy staatsrede aangekondig het Eskom gaan ontknoop word, is daar steeds geen plan op die tafel oor hoe om dit te doen nie.

Vakbonde dring daarop aan dat niemand hul werk met die voorgenome ontknoping van Eskom verloor nie.

Só sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Solidariteit en die Nasionale Mynwerkersunie (NUM) het die afgelope week in voorleggings aan die parlement mond uitgespoel oor hoe die droewige toedrag van sake by Eskom die mynboubedryf knou.

“Die ontknoping wat die president in sy staatsrede aangekondig het, is ’n konsep wat gebruik is om beleggers te paai. Dis ’n debat sonder substansie. En nou hardloop die regering uit tyd uit,” sê Du Plessis.

Die regering se plan is om Eskom op te deel in drie afsonderlike eenhede – opwekking, transmissie en verspreiding – om die kragreus meer winsgewend en doeltreffend te maak.

Die kabinet en vakbonde dring egter daarop aan dat niemand hul werk in die ontknopingsproses verloor nie.

Maar terwyl daar niks van die ontknoping kom nie, ly ander bedrywe weens die benarde situasie by Eskom.

Du Plessis het in die parlement gesê werksverliese staar mynwerkers in die gesig weens hemelhoë elektrisiteitspryse wat mynboumaatskappye moet betaal.

Die ontknoping wat die president in sy staatsrede aangekondig het, is ’n konsep wat gebruik is om beleggers te paai. Dis ’n debat sonder substansie.
Gideon du Plessis van Solidariteit

Die NUM sê hy is heftig gekant teen die ontknoping, want dit gaan die kragreus geld kos en werksverliese meebring.

“Ons sien dit (die voorgenome ontknoping) as ’n meganisme om werkers aanspreeklik te hou vir die onbevoegdheid en wanadministrasie van die departement van openbare ondernemings (onder wie Eskom val),” het die NUM se president, Joseph Montisetse, vir parlementslede gesê. Die toestand waarin Eskom is, is in wese “korporatiewe verwoesting” wat belastingbetalers miljarde rande gekos het en werkers in armoede laat.

Ook hy sê daar is geen duidelike plan vir die ontknoping of gesprekke met die arbeidsektor daaroor nie.

Montisetse het parlementslede daarop gewys dat Zimbabwe verlede jaar ’n kabinetsbesluit geneem het om sy elektrisiteitsektor weer te integreer nadat hul ontknopingsmodel van ’n paar jaar gelede klaaglik misluk het.

Du Plessis het aan Rapport gesê die ontknoping van Eskom is op sigself nie ’n slegte ding nie.

Gideon du Plessis van Solidariteit.

“Eskom is ’n te groot, onbestuurbare monster. Ontknoping kan Eskom meer doeltreffend en vaartbelyn maak. Daar sal minder burokratiese rompslomp wees omdat die huidige gesentraliseerde verkrygingsproses voortaan deur drie afsonderlike eenhede hanteer sal word. Dit skakel die middelman uit.”

As Eskom ontknoop word, sal hy waarskynlik meer kragvermoë benodig vir die drie afsonderlike eenhede, wat werksverliese kan voorkom en dit sal ook produktiwiteit onder werkers verbeter, meen Du Plessis.

Hy sê die teenstand uit vakbondgeledere vertraag die hele herstruktureringsproses, wat weer lei tot afleggings in die ingenieurs- en mynboubedryf.

Maar selfs al is die teenstand van vakbonde nie deel van die prentjie nie, twyfel Du Plessis of die ontknopingsproses aan die gang sal kom onder Pravin Gordhan, minister van openbare werke.

“Daar is ’n beleid van kortsigtigheid. Ek kan nie voorsien dat dit onder Gordhan alleen gaan gebeur nie. Die president en minister (Gwede) Mantashe (mynbou en energie) sal baie nader aan die proses moet beweeg.

“Trouens, die hele kabinet sal hierby betrokke moet wees omdat soveel staatsdepartemente hierdeur geraak sal word.”

Intussen sê Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, dit lyk of die departement van openbare werke, die nasionale tesourie, die taakspan en Eskom self nie kan ooreenkom op wat presies “ontknoping” behels nie.

“Die witskrif wat in September die lig sal sien, sal positief wees, maar daar is reeds geluide dat dit uitgestel kan word,” het hy in ’n nota gesê.

Hy voorsien dat ’n “polities aanvaarbare” ontknoping in die volgende jaar of twee sal geskied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.