Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Steenkool by Tegeta gekoop: Eskom se rede onwaar

Dit is onwaar dat steenkoolmaatskappye “weens die koue winterweer” nie langer steenkool aan Eskom kon verskaf nie en dat ’n Gupta-beheerde maatskappy Eskom daarom uit die verknorsing moes help.

     

Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Felix Dlangamandla

Dit wil ook voorkom of Tegeta Exploration and Resources hom voortaan daarop gaan toespits om steenkool van sy Optimum-myn uit te voer nadat Eskom Tegeta gehelp het om ’n gedeelte van die myn wat uitvoergehalte-steenkool lewer, weer op dreef te kry.

Die hoofaandeelhouers van Tegeta is maatskappye wat aan die Guptas en Duduzane Zuma, ’n seun van pres. Jacob Zuma, behoort.

Rapport het vasgestel dat die kontrakte van minstens twee van die sewe maatskappye wat op ’n korttermyngrondslag steenkool aan die kragstasie Arnot in Mpumalanga verskaf het, deur Eskom beëindig is en nie andersom nie.

Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, het op 5 Julie op ’n nuuskonferensie oor Eskom se resultate te kenne gegee dat vyf steenkoolverskaffers gekiés het om nie meer steenkool aan Arnot te verskaf nie.

Arnot maak sedert begin Januarie staat op korttermynkontrakte vir steenkool omdat die kontrak van 40 jaar met Exxaro einde Desember ten einde geloop het en nie hernu is nie. ’n Nuwe langtermynkontrak sal in September aangekondig word.

Molefe het gesê sewe korttermynverskaffers is aanvanklik aangestel. Hulle was South32 (Becsa), Exxaro, Anglo American, Keaton Mining, Hlagisa Mining, Umsimbithi Mining en Glencore, wat toe nog die Optimum-myn besit het wat later deur Tegeta aangeskaf is.

Oor dié maatskappye het Molefe gesê: “Hulle het in Desember, Januarie, Februarie, Maart en April steenkool verskaf. In April het dit begin winter word.

“Die vyf verskaffers het gesê hulle wil na hul gewone dagtaak terugkeer, want die winter is op pad. Daar gaan ’n groter vraag wees by die plekke waaraan hulle gewoonlik steenkool verskaf.

“Umsimbithi het gesê hy is reg, hy sal aanhou steenkool verskaf aan Arnot.

“Tegeta het gesê: ‘Ons kan julle help met steenkool by Arnot, maar daar is ’n gedeelte van die myn wat Glencore nie gemyn het nie met steenkool van uitvoergehalte.’ ”

Tegeta het voorts volgens Molefe gesê: “Ons sal dit myn, maar ons het ’n probleem. Ons het nie die kapitaal om daardie deel van die myn weer op dreef te kry nie, want ons bankrekeninge is gesluit, niemand wil ons krediet gee nie en ons het pas Glencore betaal vir die Optimum-myn.

“Sal julle dit oorweeg om die geld aan ons voor te skiet om die uitvoerkant weer oop te kan maak?”

Duduzane Zuma, een van pres. Jacob Zuma se seuns.

Die rede waarom Eskom ’n hoër tarief vir steenkool aan die Guptas se Tegeta betaal het as aan ander tussenverskaffers, was volgens Molefe omdat Tegeta se steenkool van uitvoergehalte is.

Die basisprys, vervoer uitgesluit, is R470 per ton. Tegeta lewer nou steenkool in ruil vir die voorskot wat Eskom vroeër betaal het.

Jok Eskom?

Rapport het die ander mynmaatskappye gevra of Molefe se weergawe van gebeure juis is.

Exxaro se hoof van strategie en rolspeler-skakeling, Mzila Mthenjane, het gesê: “Ons maak die steenkool beskikbaar en Eskom besluit aan watter kragstasie dit voorsien moet word. Dit kon nie Exxaro wees wat die kontrak gekanselleer het nie.”

’n Betroubare bron in die bedryf het bevestig Eskom het minstens nog een maatskappy se kontrak beëindig.

Eskom vereis dat die bepalings van sy kontrakte vir steenkool vertroulik bly.

Die ander maatskappye was bereid om die volgende te sê:

Hlagisa Mining: Allan Bullock, direkteur van die Pretorius Group of Companies, waarvan Hlagisa deel is, het gesê Hlagisa het op 16 Julie 2013 ’n kontrak met Eskom gesluit om steenkool te lewer aan verskeie kragstasies, waaronder Arnot, Matla, Hendrina en Tutuka. Hlagisa lewer sedertdien die hoeveelheid steenkool waarop ooreengekom is.

Anglo American: “Die kontrakte is kommersieel vertroulik en ons sal verkies om nie in die media daaroor te debatteer nie.”

Keaton Energy het gesê hulle het net in Desember 2015 en Januarie vanjaar aan Arnot steenkool gelewer.

South32 het nie op navrae gereageer nie.

In reaksie op vrae deur Rapport het Eskom ontken dat die kommentaar van die mynmaatskappye strydig is met wat Molefe op die nuuskonferensie op 5 Julie gesê het.

Op ’n vraag oor Exxaro se korttermynkontrak het Eskom geantwoord dat Exxaro se langtermynkontrak verstryk het.

Konsekwent

Eskom hou vol hy was “konsekwent” en dat hy deurgaans gesê het verskeie maatskappye, waaronder Keaton, Hlagisa, South32 en Exxaro, was van die maatskappye wat in Januarie 2016 aan Arnot steenkool verskaf het.

City Press, susterkoerant van Rapport, het op 12 Junie berig dat Tegeta en Eskom ’n kontrak ter waarde van R564 miljoen gesluit het om oor ses maande 1,2 miljoen ton steenkool aan die Arnot-kragstasie te lewer.

Nadat die transaksie van Tegeta om die Optimum-myn by die Switserse mynreus Glencore te koop in April gefinaliseer is, het ontleders gevra hoe Tegeta dit sou regkry om Optimum winsgewend te bedryf terwyl Glencore dit nie kon vermag nie.

Eskom het verlede week aan Rapport bevestig dat Tegeta nie getender het vir die langtermynkontrak by Arnot nie.

Die Guptas se Oakbay-groep wou nie op spesifieke vrae reageer nie en het Rapport na ’n onderhoud verwys wat op 20 Junie op Mineweb.com gepubliseer is.

Daarin sê die uitvoerende hoof, Nazeem Howa, dat hulle binne die volgende “drie of vier maande, miskien gouer” ’n ooreenkoms gaan sluit om vyf miljoen ton steenkool uit te voer. Die ooreenkoms om steenkool aan Arnot te lewer, is slegs vir vyf maande.

“Wanneer daardie kontrak eindig, sal Eskom na verwagting ’n langtermynverskaffer hê en ons gaan uit die prentjie wees. Dit is waarom ons dringend ’n uitvoerkontrak nodig het.”

In Februarie is aangekondig dat Tegeta die regte gekoop het om 8 miljoen ton steenkool vanuit Richardsbaai uit te voer.

Meer oor:  Eskom  |  Oakbay  |  Tegeta Exploration And Resources  |  Guptas  |  Steenkool  |  Kragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.