Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Steenkool sal volgens plan afskaal, sê Gwede
Die gebruik van fossielbrandstowwe sal eers teen 2030 ’n toppunt bereik. Foto: Argief

Hernieubare energie lewer nou 2,4% van Suid-Afrika se energie, en met die gepubliseerde skedule vir die aftakeling van die ou steenkoolkragstasies, sal die bydrae van hernieubare energie stelselmatig toeneem om kweekhuisgasvrystellings te verminder.

Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, het Woensdag in vraetyd in die parlement probeer verduidelik hoe die nuwe geïntegreerde hulpbronplan toegepas gaan word.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, het Mantashe gewys op die besoedelingsvlakke van steenkool.

Hy wou weet presies wanneer die volgende bodronde vir groenkragaankope sal begin.

Volgens Mantashe is dit nie ’n kwessie van ’n keuse tussen steenkool en hernieubare energie nie, maar hy kon steeds nie aan Mileham ’n tyd gee wanneer die vyfde ronde vir groenkragaankope sal begin nie.

Die gebruik van fossielbrandstowwe sal eers teen 2030 ’n toppunt bereik, maar Mantashe het gesê Suid-Afrika is geseën met steenkoolreserwes en moet dit gebruik. Dit gaan nie oor 30 jaar opgebruik wees nie, en daarom sal steenkool steeds gebruik word.

Maar kragtegnologie wat minder kweekhuisgasse vrystel sal wel stelselmatig by steenkool oorneem op ’n manier waarop gemeenskappe rondom bestaande steenkoolbedrywighede nie geskaad word nie – in die sogenaamde billike oorgang, het hy verduidelik.

Windkrag sal teen 2030 18% van Suid-Afrika se krag lewer, het Mantashe belowe.

Hy het herhaal dat die eerste groenkragprojekte baie duur was. Sonkrag wat in die eerste ronde van die regering se groenkragprogram gekontrakteer is, kos R4 per kWh. Dit is net die laaste ronde van groenkrag waar koste tot onder R1 gedaal het, het Mantashe gesê.

Intussen het Tito Mboweni, minister van finansies, vrae aan hom oor die herstel van ekonomiese groei gesystap en gesê parlementslede moenie probeer om dinge vooruit te loop oor wat hy volgende week by die mediumtermynbegrotingsraamwerkrede gaan sê nie.

Oor die vraag van Floyd Shivambu van die EFF oor die bekwaamheid al dan nie van die huidige Eskom-leierskap, het Mboweni gesê ’n nuwe uitvoerende hoof van Eskom sal binnekort aangekondig word.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê min het al geword van die lys dringende take wat pres. Cyril Ramaphosa voorheen aangekondig het om die ekonomie aan die gang te kry. Hy wou by Mboweni weet wie in die regering belemmer die uitvoering van dié take, maar Mboweni wou nie byt aan dié vraag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.