Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Steenkool se dae getel, maar stuit werkverliese só

Rolspelers moet dringend planne maak vir die massiewe werksverliese wat voorlê namate Eskom die gebruik van steenkool in sy kragstasies uitfaseer in ooreenstemming met die land se nasionale energieplan (IRP).

BERHEIM, GERMANY - NOVEMBER 13: Steam rises from t
Steenkoolkragstasies gaan geleidelik uitgefaseer word. Foto: Getty Images

Eskom se steenkoolaankope ondersteun tans 38 000 poste. Dié getal kan na verwagting die volgende dekade met 10% daal, maar ná 2030 gaan die verlies dramaties toeneem. Teen 2050 sal net sowat 12 500 van dié poste oor wees.

Só sê Henk Langenhoven, ekonoom van die Mineraleraad.

Tans voer Suid-Afrika jaarliks sowat 75 miljoen ton steenkool uit en lewer 120 miljoen ton per jaar aan Eskom. Die uitvoerproduk lewer ’n beter opbrengs: die helfte van die jaarlikse inkomste van R135 miljard.

Pleks daarvan dat rolspelers planne maak om die gevolge van die oorgang vir werkers te versag, veg elkeen nou vir sy eie posisie. Langenhoven glo daar is tyd om die bedryf en sy werkers se lot te verbeter, maar dan moet almal saamwerk.

In die eerste plek moet steenkooluitvoer verhoog word tot 110 miljoen ton per jaar, reken hy. Die vraag is daar. Indië, Pakistan en China is gewillige kopers.

Dit kan byna 12 000 nuwe werkgeleenthede skep wat nie van Eskom afhanklik is nie en boonop nuwe vaste investering lok.

Ons moet nou saamwerk om die negatiewe gevolge tot die minimum te beperk deur die geleenthede wat daar is, te benut.
Henk Langenhoven

Maar om dit te kan doen, moet treindienste verbeter word. Met ’n betroubare treindiens kan Transnet ’n bykomende 35 miljoen ton uitvoerpotensiaal ontsluit, en kan werkgeleenthede só verskans word.

Waar myne gesluit word, kan groot stukke grond weer vir landbou benut word. Maar die departement van minerale hulpbronne sloer met die uitreiking van sluitingsertifikate, en dus kom daar dadels van al die planne.

Eskom-transmissielyne in die omgewing van Atlantis aan die Weskus. Foto: Francois Nel

Suur mynwater bied nog ’n geleentheid. Aanvoorprojekte het bewys dat dit herwin kan word vir menslike gebruik en vir besproeiing, ’n arbeidsintensiewe aktiwiteit.

Wetgewing wat bepaal dat net die nasionale departement van water en sanitasie water in groot maat mag verkoop, en myne dus nie, staan egter in die pad van die benutting van dié bron.

Hernubare energie is nie so arbeidsintensief soos steenkoolkrag­opwekking nie, maar as toekomstige projekte oordeelkundig beplan en versprei word, kan dit van die steenkoolposte absorbeer, sê Langenhoven.

Tans is die meeste sonkragaanlegte in die Noord-Kaap, en windkragaanlegte is aan die kus in die Oos- en Wes-Kaap, terwyl die steenkoolvelde grotendeels in Mpumalanga is. Dis belangrik dat die regering sonkragprojekte ook na Mpumalanga en selfs Gauteng, die Vrystaat en Noordwes uitbrei.

Hy sê myne bestee reeds baie geld in plaaslike gemeenskappe as deel van hul maatskaplike arbeidsplanne, maar hulle loop gedurig deur onder gemeenskappe wat eise stel, aangevuur deur politici wat ’n sondebok soek vir elke ding.

Verder wil groepe wat teen die gebruik van steenkool gekant is hul agenda bevorder, eerder as om saam te werk om ’n regverdige oorgang te verseker.

Die land kan nie bekostig om eensklaps al die steenkoolkragstasies toe te maak ná die skuld wat daarvoor aangegaan is nie, sê Langenhoven.

“Ons moet nou saamwerk om die negatiewe gevolge tot die minimum te beperk deur die geleenthede wat daar is, te benut,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.